Ek raak onlangs
sommer op straat met iemand oor ditjies en datjies aan die praat. Die
kleingeld-praatjies kies later koers na hulle blyplek en gaan uiteindelik oor die
groot boekery wat hy van die familie nog daar staan het.
Ek word uitgenooi
om die boeke te bekyk. Die familie besef hulle staan ongebruik daar. En hulle
dink iemand kan seker beter daarvan gebruik maak.
Daar is letterlik
honderde boeke wat dateer uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Sewe duisend, sê die nuwe kennis vir my. Die
meerderheid is Nederlandse werke. Ek herken hulle almal, boek vir boek, naam
vir naam. Dit is Kuyper, Bavinck, Schilder, Berkouwer, Veldkamp, Knapp, Grosheide,
Greijdanus, Ridderbos en vele ander van die bekendes van die bekendes. Heelwat
van hulle staan op my eie rak.
Dit is ‘n indrukwekkende
versameling van hoofstroom werke uit die Gereformeerde wêreld in Nederland. Des
te meer indrukwekkend omdat hulle seker ‘n fortuin gekos het. Dit beïndruk my
selfs meer, want die familielid wat die boeke aangekoop het, het nie die
salaris van ‘n besturende direkteur of ‘n mediese spesialis verdien nie. Die
geld wat op daardie boeke uitgegee is, was bloedgeld.
Dit is tog
merkwaardig dat ons die gedeelde erfgoed met die Nederlandse Gereformeerdes
gehad het, dink ek, en dat dit die biblioteek van ‘n predikant iewers in ‘n
doodgewone pastorie iewer in ons land vol gestaan het.
Daar is min
Engelse werke: meestal die ou evangeliese materiaal (Matthew Henry se hele
reeks. “Menere,” het ons slim professore in die sewentigs vir ons gesê, “gooi onmiddellik
en dadelik daardie reeks in die vuilgoedblik. Hulle is onwetenskaplik en
sentimenteel.”)
Daar is geen
Duitse werke nie. En ook nie van die ander Europese teologiese tradisies nie.
Net Holland en sy
Gereformeerde wêreld (nie eers die Hervormdes nie).
Ek herken dit
alles onmiddellik. Dit was ons wêreld. Dit was die dampkring waarin ons ons
teologiese vorming ontvang het. Alles buite daardie grense was dwalings,
ketterye en gevaarlik. En selfs sommiges binne die wêreld is van losserigheid
verdink (Berkouwer!).
Ek weet nie wat om
vir my nuutgevonde vriend te sê nie: duidelik is, heel eerstens, dat studente
in Suid-Afrika van die derde millenium skaars nog Nederlands lees. En nog
onwaarskynliker gaan hulle Nederlandse boeke uit die vorige eeu optel. Ek sal
waarskynlik hartskade opdoen as ek sien dat iemand iewers nog Kuyper optel
om huis toe te vat. (Ek moet die biblioteek gaan vra hoe dikwels daardie boeke
nog uitgeleen word). In navorsing in die Bybelwetenskappe sien jy nie
verwysings na Grosheide en Ridderbos nie.
So sou ‘n mens
boek na boek kon deurwerk. Daar was nie een boek in die indrukwekkende
versameling wat ek dink iemand desperaat sou wees om te wil hê nie, laat staan nog
om te lees. Daardie honderde boeke se kans op oorlewing is inderdaad gering.
In ‘n sekere sin
is dit onvermydelik. Onder die boeke was daar ‘n paar ingenieurswerke, ook uit
die vorige eeu. My gasheer, ook ‘n ingenieur, glimlag toe hy die boeke sien en
merk op dat hulle eenvoudig hopeloos nutteloos is. Wie nog op die beginsels van
daardie boeke werk, sal spoedig sy akkreditasie as ingenieur verloor.
In die teologie
gaan dit tog ook ‘n bietjie so: nuwe tye, nuwe dinge. Nuwe samelewing, nuwe
ontdekkings.
Maar, vra my nuwe
kennis, met ‘n ligte frons op sy voorkop: hoe is dit dan dat boeke so nutteloos
kan word? Is dit tog nie boeke oor die Bybel nie? En hoe tydgebonde is ons
skrywe’s oor die Bybel, die boek vir alle tye?
Hoe gee jy nou ‘n
“Kort Begrip” (!) antwoord hierop? Ek dink onmiddellik hoe ek gevoel het toe ek
onlangs ‘n boek gelees het waarin bekende skrywers kommentare op Lukas gebruik
het wat uit 1960 stam. Hoe verduidelik ‘n mens dat hulle optree soos iemand wat
‘n brein-operasie met ‘n stomp mes wil doen? Jy moet eers deur die driedelig
kommentaar op Lukas van Francois Bovon werk om te besef watter geweldige nuwe
insigte in Bybelse tye in afgelope dekades gedoen is wat ons kennis van Lukas
eindeloos verryk het. ‘n Mens ontneem jouself ryk insigte deur onlangse
kundigheid oor te slaan. Ons weet net soveel meer van die Bybelse wêreld wat
ons insig in die Bybel self laat groei het. Alleen hierdie kennis maak die ou
boeke met hul beperkter inligting minder bruikbaar.
Dit is nie dat die
wortels wat in die Nederlandse gereformeerde wêreld van die tweede helfte van
die twintigste eeu ingeplant is, uitgeruk is nie. Iewers is hulle daar. Maar
die plantjie wat bo die grond is, het
uitgesprei, opgerank, nuut geblom en lyk heel anders.
Oor eeue heen was dit
immers ook ‘n wesenlike uitgangspunt van kerk-wees: die gereformeerde kerke is
reformerende kerke. Steeds weer groei die kerk op nuwe manier. Die Nuwe
Testament is die epitomie daarvan: Jesus, wortels in die tradisies van ouds, is
ook die nuwe Here wat nuut dink en met groot gesag in die Bergrede die lewe in
die nuwe bedeling vir sy dissipels uitspel.
En tog: (want dit
is wat ek van hierdie boek-episode veral onthou) my gasheer vertel my wat hy veral onthou van die
predikant wat al die boeke besit het. Elke Dinsdag van sy bediening het hy in
sy studeerkamer deurgebring. Niemand mag hom daar gesteur het nie. Daar het hy
fototjies van elke gemeentelik gehad. Baie. En voor hom was ‘n gebedslys met
gebedsversoeke opgestel. Een vir een het hy die mense op daardie lys in sy
gebede onthou.
Nabyheid aan God.
Verlangend na God se teenwoordigheid, vir jouself en vir ander. Alleen in die Verborgene, ook om ander se ontwil. Om opgeneem en een
te word met die denke van Christus. Om bewus te wees van die goddelike
aanraking. Die direktheid, die coram Deo, dit sal nie verander nie.
En alle boeke, hoe
tydgebonde ook al, het ewigheidswaarde waar hulle op een of ander manier help
om die ruimte te skep waar ‘n mens kan wag op die Besoek en die Aanraking.
Dit bly iewers tog
treurig dat boeke so kortstondig is. Dit is nie altyd so nie. Dink maar aan
Augustinus se Belydenisse wat oor honderde jare sy trefkrag behou het. Dit is die
eerlike vertelling van ‘n mens oor sy lewenservaring en die merkwaardige ommekeer toe,
op ‘n dag, die Verborgene in sy lewe ingekom het. Miskien is dit die moeite
werd om bietjie na te dink waarom sy boek skynbaar ewig jonk bly en ander so
treurig en so spoedig ‘n stil dood sterf.