Soms kom daar die rare oomblik wanneer
die onherroeplikheid van verlies tot ons deurdring tot so ‘n mate dat feitlik
ondraagbare fisieke pyn ons oorrompel.
Dit gebeur veral wanneer ons op ‘n
troudag, ‘n verjaardag, ‘n sterfdag akuut onthou dat ons liefde vir die een wat weg is, alleen maar nog
in gedagtes bestaan.
As ons maar net daardie een, goeie
oomblik van nabyheid sou kon beleef.
Bortniansky, my gunsteling Russiese
komponis, het die allermooiste liedere gekomponeer. Een daarvan is ‘n engele-lied
met seker een van die mees meesleurende melodieë wat in geestelike musiek geskryf is.
Die engele sing in hierdie lied die Trishagion.
Meesleurend, met musiek wat stukkend sny, is die woorde eintlik ‘n stil,
ingetoë, skrynende loflied wat in verborge toon en lirieke die misterie van die
goddelike aanbid.
Ons, die cherubim, die engele, wat
in verborgenheid woon, sing hulle, wil U, die Drie-enige God wat lewe geskep het,
in ons lied aanbid en loof.
En dan, troostend, roepend, volg die
tweede strofe: Kom, laat ons aardse sorge agterlaat. Laat ons ons leë gejaag
eenkant skuif. Want die koning van alle mense is aan die kom.
Dit is ‘n stil lied, vol sagtheid en
toewyding.
Altyd, tot dusver, was dit my
gunsteling deel van die Engele-lied.
Maar, soos tyd aanstap, en ‘n mens van
tydelikheid, kortstondigheid en verganklikheid bewus raak, is dit asof die egte
troos in die bruisende laaste deel lê: Die aandag is nie meer by die engele wat
wil sing nie, of by mense wat hul treurigheid beleef nie.
Vol, ryk en sterk
word die musiek wanneer dit in hierdie laaste deel in die eenvoudige Trishagion vir God aanbid: Driemaal
heilig is God: Heilig, heilig, heilig.
God wat die lewe gee, wat die lewe
onderhou en wat die ewige lewe sal skenk.
Jy is altyd by My:
in die lofsang,
in die aanbidding, in die toewyding, woon God ewig, maar ook sterk.