Friday, April 26, 2013

Die gawe van trane



In spiritualiteit is dikwels geskryf oor die “gawe van trane” wat in sekere tye en kontekste ‘n algemene aspek van mense se geestelike reis was. 

Veel is hieroor geskryf. 

Daar kom tye dat mense op hul eie of saam met ander, hul geestelike ervaring so intens beleef dat hulle hul trane nie kan bedwing nie. 

Trane is dan 'n teken van 'n diep geestelike ervaring. Mense wat ‘n intense geestelike belewing ervaar, kan die trane nie keer nie. Dan is dit 'n teken van  ‘n vernuwingsproses waarvan hulle deel is en wat in hulle aan die gebeur is. 

In die algemeen word aanvaar die gawe van trane wys op innerlike omkeer. Wanneer mense in God se teenwoordigheid kom en God se aanraking in hul lewe ervaar, ervaar mense 'n gevoel van mislukking en 'n diepe sonde-besef wat hulle tot trane dryf. Die Pinksterbidure van die negentiende eeu het in die N.G. Kerk begin met mense wat onbedaarlik begin huil het, veral oor die donker kante van hul verlede. Die geestelike leiers van daardie bidure was so uit die veld geslaan oor die spontane reaksies dat hulle nie geweet het hoe om dit te hanteer nie. Party van hulle het desperaat probeer om dit te beheer.

Maar, daar is ook 'n ander rede waarom trane mense oorval. Dit gebeur wanneer hulle bewus raak van God se goedheid en liefde. Dan is hul trane 'n reaksie op die ontfermende aanraking van God. 

In sommige gevalle is daar dieper besin oor hierdie trane: soms is onderskei tussen trane van berou wat aan mense geskenk word, teenoor die “hoër” vorm van trane van liefde, wat in mense voorkom wat bewus raak van God se liefdevolle teenwoordigheid.

Die “gawe van trane” is nie baie gewild in Westerse kontekste nie. Mense frons daaroor, veral vanuit ‘n koue verstandelikheid en uit vrees vir die skande om as swakkeling of om as emosioneel onstabiel aangesien te word. 

In die geskiedenis van spiritualiteit is hierdie gawe egter van die vroegste tye af besonder hoog geag. Die beroemde vroeg-Christelike skrywer Simeon die Teoloog, noem die gawe van trane ‘n tweede doop wat die vuil in ‘n gelowige se lewe wegwas, terwyl die ewe invloedryke kerkvader, Gregorius van Nissa, dit as ‘n vyfde doop beskryf. 

'n Besondere tema: die gawe van trane. Vir sommige geestelike leiers so belangrik dat dit vir hulle aan die sakrament van die doop herinner. 






Blog Archive