Monday, April 29, 2013

Wanneer 'n hart toegeskroeid raak vir God se aanraking.


Spiritualiteit beklemtoon keer op keer dat ‘n mens nie sommer uit jouself tot die lig kom nie. Altyd weer bly dit boeiend dat die geestelike reis begin wanneer God ‘n mens aanraak en die ou mens omvorm en omtower in ‘n nuwe persoon.

Die groot raaisel is dat mense so toegeskroei is deur hul eie vroomheid, dat hulle nie meer God se aanraking voel nie. Of God se aanraking bloot nie raaksien nie. En dan: die misterie - dat sommige selfs in opstand kom wanneer God wel mense aanraak.

Saggeus, die kort mannetjie, wou Jesus graag sien op die dag dat Jesus deur Jerigo reis. Kennelik was Jesus toe al ‘n man van roem. Die skares, ook nuuskierig, het daarom ook om Hom saamgedrom. Hulle wil ook meer van Jesus weet (Lukas 19:1-9).

En al is Saggeus ‘n ryk man wat almal in die stad geken het, laat die skare hom nie toe om deur hulle by Jesus uit te kom nie. Hulle ken hom as ‘n sondaar en vir só iemand is daar tussen hulle nie plek nie: Saggeus is daarom in hulle stad ‘n verstotene – met sy rykdom en al.

Hulle steek nie hulle gevoelens eers ordentlik weg nie. Hulle praat openlik op neerhalende en minagtende manier onder mekaar van Saggeus – soos vers 7 al te duidelik maak. Die hele gemeenskap is eens in hulle afkeur aan hierdie man, geld en al. ‘n Mens kan amper hieruit wil aflei dat hulle hom doelbewus van Jesus weghou. As Saggeus aankom, ‘n ryk mens en iemand met mag, maak hulle nie vir hom ‘n pad oop nie. Hulle praat hom trouens eerder uit die pad uit.

Eintlik is hulle optrede nie onfatsoenlik nie, sou ‘n mens godsdienstig daaroor wou dink. ‘n Mens sou selfs kon sê dat hulle nogal reg is in wat hulle dink en doen. Hulle kan nie dink dat Saggeus naby Jesus, die prediker en heler van mense, hoort nie. Sondaars, en dan ook veral handlangers van die Romeine, hoort nie in hulle midde nie.

Hulle is ‘n geslote gemeenskap wat bymekaar staan en die grense neerlê. Uitsluiting van ander is wat hulle laat goed en tevrede voel. Dit is hoe hulle sonde hanteer: skei jou af, bly weg.

Intussen ontvou die episode rondom die twee mense wat die skare so graag uitmekaar wil hou. Saggeus is nie verniet die hooftollenaar nie. Slim en slinks gaan klim hy in die wildevyeboom om Jesus te sien. Niks kan hom weghou van Jesus nie.

Maar hoe anders werk die dieper dinge nie.

Jesus, lopende tussen die skare, is nie blind vir die situasie nie. Hy herken Saggeus. Hy moes kon sien hy is ‘n ryk man. Hy sou soos ‘n ryk man aangetrek wees. Maar hy sien die minagting en verwerping van die skare ook.  Hy sou met ‘n stok kon aanvoel dat die man ‘n verstote, verworpe persoon was en dat die skare niks met hom te doen wou hê nie.  

Jesus steur hom niks hieraan nie.

Lukas 19:1-9  bly vir my hieroor een van die kosbare verhale in die Nuwe Testament. Jesus se durf kan nie duideliker as in die verhaal beskryf word nie.

Hy sien wat die skare met Saggeus doen. Heeltemal teen hulle begeertes en oortuigings roep Jesus vir Saggeus nader en gaan na sy huis toe. Hy waag baie. Jy sukkel nie met mense wat so veilig in hul eie, heilige plek is nie. Jesus tree op teen alles wat vir hulle heilig is.

Jesus speel nie vir die skare nie. Hy stel sy populariteit, skryf Mette, op die spel. En Hy stel Homself bloot aan hulle agterdog, venyn en hulle haat. Die skare verwerp, Jesus nooi uit. Die skare sluit uit, Jesus gaan tuis en trek nader.

‘n Mens kan jou indink: Die skadu van die kruis begin val oor Jerigo se strate en Saggeus se huis.

Die verhaal ontplooi, soos te verwagte is, nie mooi vir Jesus en Saggeus nie: Vers 7 is pure dinamiet: almal wat Jesus se uitreiking na Saggeus gesien het, die hele, groot skare, was opstandig. Hulle het “gemurmureer.” Dit is ‘n volksopstand, ‘n hele gemeenskap wat kwaad en opstandig raak.  Hulle wys sommer ook hulle verset teen die tollenaar wat die gehate Romeine se handlangers was. En die Romeine was die vreemde besetters van die land.

Lukas skryf altyd baie subtiel. Elke woord in sy teks is gelaai met mening. Sy beskrywing van die reaksie van die skare se “murmureer” is gelaaid met betekenis.  In die Ou Testament murmureer die volk altyd tydens die uittog as hulle teen God se wil in opstand kom.

Hier, dink hulle, kom hulle vir God se wil op. Maar in werklikheid is hulle weer die sondige, opstandige volk van God wat nooit oop is vir wat God van hulle vra nie. Hulle is weer dieselfde klomp onwiliges en traes wat op pad na die beloofde land, vashou aan die vleispotte.

Hulle murmureer dus nie teen Saggeus nie, ook nie teen die sonde nie, en ook nie teen die Romeine nie.

Hulle is in hul hart diep opstandig oor God se genade. Hulle is so toegeskroei in hulle eie vroomheid dat hulle God se aanraking nie kan herken of aanvoel nie.

Nog skrynender is die skare se swye wanneer Saggeus as ‘n nuutgebore mens berou toon vir sy verlede en teenoor Jesus beloof dat hy sal meer as net vergoed vir al sy misdade uit die verlede. Niks lees ‘n mens dat hulle daaroor bly is nie, of dat hulle dankbaar is dat Jesus se enkele liefdesbesoek aan die man soveel dramatiese gevolge het nie. Die onmoontlike het gebeur: die ryk man het soos ‘n kameel deur die oog van ‘n naald gegaan. Maar dit het hulle koud gelaat.

Hulle harte was so geslote vir genade, soos wat hulle lewens afgesluit was vir almal wat nie in hulle netjiese en vroom gemeenskap ingepas het nie. Hardheid kweek hardheid.

Dit wys alles maar net hoeveel durf Jesus gehad het. Moedig, moedig, het hy die granietblokke met sy byltjie gekraak.


Blog Archive