William Blake, wat 'n hele boek vol illustrasies oor die Boek Job gemaak het, wil met hierdie tekening veral die vroomheid van Job en sy gesin na vore bring.
Die boek Job in die Bybel begin op ‘n besondere spirituele manier deur die kollig volledig op Job se geestelike lewe te laat val.
Daar was 'n
man in die land Us wie se naam Job was. en dié man was vroom en opreg en godvresend
en een wat afgewyk het van die kwaad (Job
1:1).
Die driedubbele beskrywing van Job
as vroom, opreg en godvresend is toutologies en dus intens.
Dit laat geen
twyfel nie. Die hele boek staan in die teken van Job wat sy geloof uitleef.
‘n Mens weet uit die geskiedenis van
Job dat hierdie spesiale woorde ‘n doodgewone betekenis gehad het: ‘n Vroom
mens leef ‘n stil, skoon lewe. Sulke mense soos Job ken 'n mens uit alle tye: hulle is verstandige persone, tree reg op
en wil graag in die gewone lewe, in hul gesin en in hul gemeenskap opbouende
dinge doen en vir ander mense omgee.
Só het ons mense deur die eeue heen
leer ken. En vir ‘n vorige geslag was die beste wat ‘n mens van iemand anders
kon sê dat daardie persoon godvresend was.
En tog is daar rede om mooi hieroor
te dink. Is dit regtig waaroor die openingwoorde van Job gaan? Oor ‘n persoon met
‘n mooi lewenswandel? Oor ‘n moreel onkreukbare mens?
Vandag sal mense dikwels verleë wees
om so beskryf te word, skryf Walter Dirks hieroor. Vroomheid, opregtheid en
godvresendheid is nie juis die hoogste kwaliteite waarna mense jaag nie.
Die woorde klink boonop “outyds.”
Wie weet nog wat “godvresend”
beteken? En vir nog baie ander is “vroom”
gelykstaande aan skynheilig.
Al is die inhoud van die woorde
nie outyds nie en wil dit niks slegs van Job meedeel nie, is daar tog rede om hier dieper te dink.
Daar steek tog iets in die
terughoudendheid van mense om vroom of godvresend genoem te word.
Intuïtief voel mense
aan dat die kollig dan te sterk op Job val, op die mens, op dit wat eintlik sekondêr
is.
Want godvresend beteken lank nie net
bloot om ‘n goeie lewe te lei nie.
Die “goeie lewe” is immers nie in
die kollig nie. In fokus is veel eerder Job se wandel met God.
Daarom sal die slot van Job die ontsagwekkendheid
en ondeurgrondelikheid van God beklemtoon. Die teenwoordigheid van God in die
wêreld en in die lewe van die mens is die allerbelangrikste. Daarop val die fokus.
Om Godvresend te wees, is dus om
gedurig bewus te wees dat ‘n mens se lewe in die hand van God is en dat ‘n mens
uiteindelik alleen sin ontdek wanneer ‘n mens in God se teenwoordigheid leef.
Die openingswoorde van Job wil dus
vir die leser vertel dat Job elke dag van sy lewe bewus was van God se
onpeilbare, maar troostende nabyheid. So digby aan God het Job
geleef dat toe alles van hom weggeneem is, hy nog die naam van die Here “geseën”
het (1:20-22). Selfs in sy donker nag, die dag van totale verlies en in die tyd
van sy swaar lyding (Job 2:13), het Job nie gesondig of vir God verwyt nie.
Nie
sy vroomheid, sy seëninge, sy opregtheid is ter sprake nie: Dit was vir hom
genoeg om by God te wees. En dit bevestig juis sy vroomheid en opregtheid…