Monday, April 15, 2013

Die plukker


In die koerant is 'n guitige storie. 

Die plesier is in die storie, maar ook in die manier waarop die storie vertel word. 

Dit het my nogal aan spiritualiteit laat dink: die geestelike weg kry sy impak op mense ook uit die manier waarop mense daaroor praat. Die gewydheid van aanbiddingsplekke raak 'n mens aan. Dit is nie verniet dat kerke 'n liturgiese ruimte het wat bydrae om 'n mens in aanbidding voor God te laat staan. Kleurvensters dra by om 'n mens in 'n atmosfeer van gebed en toewyding in te trek. Sang kan in die allerdiepste plekke van jou bestaan inklink en lank nadat die klanke verdwyn het, jou lewe nog stuur en rig. Dus word die geestelik reis dikwels verryk deur die vorm waarin dit opgeneem is. 

Ons gee te min aandag aan die estetiese: 'n stuk musiek, 'n skildery, 'n verhaal en gedig kan soms veel meer doen as al ons gepraat om 'n mens geestelik te verryk.

Hier is die guitige storie:

Natie Engelbrecht

Ou Smittie is een van my vriende wat in die vreemdste situasies beland.

So gaan hy die ander dag in een van die beter winkelsentrums na die verkeerde plek vir ’n haarsny. Eintlik het Smittie nie hare nie. Nog net so paar klossies rondom die ore. Hy spot altyd dat hy nooit vir ’n gesigsbehandeling kan gaan nie, want met sy min hare weet hulle nooit waar sy gesig ophou en sy kop begin nie. Hy wou eintlik net instap vir ’n vinnige regruk van die paar weerbarstige hare wat oor is. Sommer met so ’n nommer-twee-kammetjie.

Met die instap sien hy dis ’n ghrênd plek en nie sommer ’n gewone haarkapper nie. Dis ’n fyn Libanese knaap wat sy hare sny, en dié voel toe erg sleg omrede daar so min oor is om te skeer. Waarde vir geld, ensovoorts. “Kan ons nie Meneer se hare in die neus en ore ook bykom nie?” wil die knaap weet.

Smittie kom diep uit die Karoo en voel ongemaklik oor die vreemde behandelings. Hy onthou egter dat sy meer verfynde vroutjie al skewe opmerkings oor sy neushare gemaak het; dus stem hy maar in.

Maar sal die knaap nie opdaag met sulke vreemde oorpluisies en ’n woeste pot vol warm was nie. Voordat hy kan teëstribbel, word die pluisies met die gesmelte was in sy ore gedruk. Hy probeer nog sterk wees en veg teen die trane, maar blitsig word twee pluisies in sy neus opgedruk.

“Die mannetjie is soos ’n ninja-haarkapper,” vertel Smittie. Met trane in sy oë sit en loer hy toe maar so deur se kant toe en hoop niemand bekends stap verby nie. Nie so met die vier pluisies wat op strategiese plekke uitsteek nie.

Hy raak net gewoond aan die ongemak, toe stel die mannetjie voor dat hulle sommer die ander ongewenste haartjies thread terwyl hulle wag. Smittie is broos en voel nie lus vir stry nie, en die threading-storie klink heel onskuldig. Dus, steeds tranerig van die warm was in die verkeerde gate, stem hy in.

Die haarkappertjie trek net daar ’n skerp toutjie-bedryf nader. Dit lyk kompleet soos dunnerige vlos. En hy rol-trek dit so oor die ore en al die plekkies vol hare. Alles traan. Maar die mannetjie is skielik doof.

Terwyl my vriend nog van die threading herstel, gryp die fyn mannetjie skielik, sonder waarskuwing, daai twee oorpluisies in die ore stewig vas en pluk. Hy dog sy oordromme pop uit. Toe gryp die knaap die pluisies in sy neus vas, en Smittie gryp die stoel vas, want hy het gesien hoe sy neushare lyk. En die mannetjie PLUK. Smittie sê dit voel kompleet of die pluisies die hare van sy rug af deur sy neus uittrek.

“Is daar nog plekkies met ongewenste hare?” wil die fyn Libanese mannetjie onskuldig weet. My vriend kry beelde van ’n vloermop vol gesmelte was vir sy agterwêreld en rug, en hy besef hy moet nou wegkom.

Ek sien Smittie het nou nog trane in sy oë as hy van dié episode vertel. En ek glo sy storie, want hy lyk ook anders. Alles is glad. Hy lyk soos ’n roll-on.

Kaapstad

- Die Burger

Blog Archive