Dit
is ‘n spirituele oefening, eintlik, om dankbaar te wees. ‘n Mens kan jou daarin
inoefen.
Daar
is dan ook mense wat dit gereeld doen. En, opvallend genoeg, noem hulle dieselfde
dinge op wanneer hulle moet sê waaroor hulle dankbaar voel. Om soggens op te
kan staan, om gesond te wees, om werk toe te kan gaan, om ‘n familie te hê, om
‘n motor te hê, om te kan vakansie hou.
Eintlik
is daar oorgenoeg rede, dus, om dankbaar te wees. En die oefening is om gereeld
en bewustelik na te dink oor al die dinge.
Op
die manier rig ‘n mens jou lewe positief in. Jy dink aan dinge wat jou tot dank
stem.
In
Spiritualiteit is daar egter ‘n tradisie wat dankbaarheid problematiseer. ‘n
Mens kan nie dankbaarheid net met die goeie dinge verbind nie. Want, sê jou
wyses van alle eeue, soms moet jy juis dankbaar wees oor dinge waaraan jy
liewer nie wil dink nie.
Die
egte spirituele oefening kom wanneer ‘n mens dankbaar is oor die moeilike tye.
Dit bly ‘n uitdaging om in die slegte tye, wanneer ‘n mens nie weet waar jou
volgende ete vandaan gaan kom nie, wanneer jy jou voete sleep om werk toe te
gaan, wanneer jy by die siekbed van ‘n geliefde staan, met dankbaarheid te
leef.
Uiteindelik
moet ‘n mens oor die lewe wat ‘n mens uit God se hand ontvang, dankbaar wees.
En hierdie lewe het vele kante – sy ligkante en sy skadukante. Soms is dit juis
die skadukante wat die lig so helder laat uitstaan. Soms is dit die skadukante
wat jou weer mens laat word, nederigheid leer. Ander kere weer is dit die
donker kante wat jou laat insien hoe goed en besorgd mense oor jou nood is.
Ander kere weer is dit die tye van duisternis wat ‘n mens laat besef dat jy meer toegewyd moet leef, nader aan God
moet bly.
Dankbaarheid kom juis na hulle wat in God se liefde woon – ongeag hulle
omstandighede.