(Mario Simoni - 1947. Jesus en die Samaritaanse vrou).
Jesus staan met die Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob in
Sigar van Samaria en praat. Hy het die middag om twaalf uur, moeg van die reis
(!), sommer by die fontein gaan sit.
Hy is dors en vra haar vir water. Die dag begin met gewone dinge –
met dors (en met honger as die dissipels gaan kos koop in die dorp).
Sy is verbaas dat hy, die Jood, vir haar, ‘n Samaritaan, water
vra: hulle is van groepe wat mekaar nie kan verdra nie.
Die gesprek wil nie wegbreek van die gewone dinge nie: dit draai
nou om verhoudinge wat vasgebrand het en oor eeue-lange vyandskap. Sy sien
Jesus net raak as een van die vyand.
Jesus antwoord haar – en die simboliek in sy woorde is swaar aan
betekenis – dat sy, sou sy maar weet wie Hy is, van Hom lewende water sou vra.
Merkwaardig: Hy, die Jood, is bereid om met die vrou sy geestelike
rykdom te deel. Eeuelange vyandskap sal nie in die pad staan as sy, die vyand,
ook die dinge van God by Hom sou wou soek nie. Daar is voor God nie grense nie.
Die lig val dus op Hom wat alle grense oorskrei.
Maar sy sien nie in wat Hy bedoel nie. Die situasie is vir haar
ondeursigtelik. Sy praat nog oor die alledaagse dinge, oor ‘n skepding om water
te kry en oor die geskiedenis van die fontein (verse 11-12).
Tog trek die gesprek haar aan wanneer Jesus haar aandag na die
geestelike dinge lei. Hulle praat oor die lewende water en hulle kom by ‘n punt
waar sy wel vir Hom lewende water vra.
Sy reik uit na Hom. Sy is geraak deur wat hier gebeur. Maar die
oorgang is nog stadig. Sy sukkel om die geestelike dinamiek van hulle gesprek
te volg: die lewende water beteken vir haar dat sy nie weer by die fontein hoef
te gaan skep nie.
Hulle gesprek gaan dan oor haar man. Jesus wys dan vir haar dat Hy
haar ken en weet dat sy reeds ses mans gehad het.
Op die punt sê die vrou :
“Ek sien dat u 'n profeet is” (θεωρῶ ὅτι προφήτης εἶ
σύ).
Hier, met haar merkwaardige opmerking, begin haar geestelike reis:
later sou sy vir haar dorpsgenote gaan vertel dat Hy die Christus is (vers 29).
En nog later sou hulle vir haar sê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy
vertel het nie.” Sy, die eerste vroue getuie – ‘n apostel – het hulle meegeneem
met haar boodskap. Hulle het self na Hom gaan luister en nou “weet” hulle dat
hy die verlosser van die wêreld is (vers 42).
Waar het die geestelike reis begin? By Jesus, wat haar om water
gevra het en wat na haar uitgereik het. Dit het ook begin toe sy van Jesus die
lewende water begin vra het. Maar die kontemplatiewe oomblik het begin
deurbreek, ligweg, maar darem, toe sy vir Jesus gesê het: “Ek sien dat U ‘n
profeet is.”
Dit is nie die “profeet” wat my so boei nie, as die “sien” wat sy
so pertinent noem.
Sy het tot die lig gekom. Die “sien” was haar oomblik van
verligting: sy het besef dat Jesus nie maar net ‘n dorstige man was, ‘n lid van
die groep wat haar lewe lank al vyande van haar mense was nie. Sy het “ingesien”
dat Hy ‘n profeet was. Sy peil iets unieks aan Hom. Sy herken ‘n unieke
geestelike dimensie in Hom as ‘n man van God, die een wat ‘n woord van God met
haar gedeel het.
Die sien vertel van haar aanskouing: Die kontemplatiewe oomblik
wanneer ‘n mens die teenwoordigheid van God in jou lewe ervaar. Sy sien dit intens raak: Jesus word
deursigtig as Iemand wat goddelik in haar lewe inkom. Dit trek haar aan: die
mistieke oomblik keer haar lewe om. Van toe af was sy anders: was sy die een
wat in die lig leef. Sy het die Messias, die Gesalfde ontmoet en vir God
gesien.
Haar sien was nie ons meewarige: “O, ek sien wat jy bedoel nie.”
Haar sien is die oomblik van herkenning. So intens beleef sy dit dat
sy net daar haar waterkruik laat staan het om met ander haar ervaring te deel
(vers 28). Die mistieke oomblik het haar lewe omgekeer en haar uitwaarts
gedryf: sy is ‘n getuie van die Verborgene.