Friday, April 19, 2013

Kalmte: om op weg na God te wees.



Kalmte is een van die geestelike gawes wat ‘n mens die meeste ontbeer: Die lewensgang van mense is krampagtig, gejaagd, onrustig, gespanne en taai. Kalmte is nie juis ‘n uitstaande kenmerk van ons tyd nie.

En tog: Kalmte is ‘n seëning wat mens die meeste begeer.

Maar wat is kalmte?

Sekerlik beteken dit dat ‘n mens nie gespanne is nie. Dit beteken dat ‘n mens vrede in jou gemoed het.

Maar dit beteken ook dat jy dinge laat gaan.

Laat dit gaan. Los dit. Laat maar.

Die Engelse het “detachment as ‘n goeie ekwivalent: om nie afhanklik te wees van ander mense en dinge nie. Jy word nie deur hulle opgewerk nie. En jy laat ook nie toe dat mense jou vies maak nie omdat jy nie vir hulle ‘n houvas op jou lewe wil gee nie. As jy dit doen, word jy afhanklik van hulle mening en dade. Jy kan afstand neem en hou.

‘n Mens sou kalmte dus kon beskryf as oorgawe, as onversteurdheid. Jy aanvaar die dinge wat nie verander kan word nie. Of beter gestel: jy berus in God se wil.

Die teendeel hiervan is om jou wil te wil afdwing. As dinge nie na jou sin loop nie, raak jy opgewerk, stribbel jy teen.

Daarom kom kalmte na mense wat bereid is om hulle self te verloën.

Jy weet: jy het jou deel gedoen. Jy werk en jy woel, maar God is dit wat uiteindelik ook werk en wil.

Wanneer ‘n mens die geestelike praktyk van kalmte najaag, is ‘n mens terselfdertyd besig om verder op die geestelike reis te vorder. Op hierdie reis is daar ‘n klomp bagasie wat jy langs die pad moet los.

As jy dit saamsleep, val jy vas.

Natuurlik, vanselfsprekend is die kwaad en die sonde dinge wat ‘n mens moet aflaai. Maar uiteindelik gaan ‘n mens nie kalmte vind as jy jou eie dinge najaag of jou eie koers wil bepaal nie.

Die geestelike reisiger weet: die reis neem ‘n mens na God toe.

Paulus het hieroor in Filippense 3:14 gepraat: “ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”

Kalm kan hy, daar in Filippi se tronk, al skrywende aan sy liefdesbrief, sy rug draai op wat verby is. En vashou aan die verskyning by God.

Kalmte kom na hulle wat biddende verlang na ‘n lewe met God.

Blog Archive