Die vraag word oor en oor gevra:
waar ontdek ‘n mens egte lewe?
Die antwoord, in Bybelse taal, is onverwags:
Spreuke 14:27: Die vrees van die
HERE is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.”
Dit is interessant om te sien hoe
die 1983-vertaling hierdie vers weergee: “Wie die Here dien, vind daarin 'n
bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood ontkom.”
Die vertalers het die “vrees van
die Here” netjies wegvertaal deur die: “Wie die Here dien.”
Elders in Spreuke word hierdie “lewe” verder
ingevul. Die vrees van die Here wat die lewe gee, laat ‘n mens met vrede en
rus:
Dieselfde geld van Spreuke 19:23:
“Wie die Here dien, se lewe is veilig; so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref
hom nie.” Die 1953-vertaling lui: “Die vrees van die HERE is tot die lewe; en
versadig bring ’n mens die nag deur, sonder om deur ’n onheil besoek te word.”
Lewe kom op uit ‘n opvallende bron:
die vrees van die Here en dit is ‘n lewe wat ‘n mens in volkome rus bring.
Jesaja 50:10 merk op: “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg
luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy
vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!”
Die pad na die lewe is in hierdie verse versigtig
uitgewerk: ‘n Mens vind die lewe meer as
net om in die teenwoordigheid van God te wees. In ontsag staan ‘n mens voor
God: juis in die besef dat God die gewer van lewe is. Prediker 8:12 lui: “ek
weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, juis omdat hulle voor God se aangesig
vrees, ontsag het in God se teenwoordigheid.”
‘n Mens ontdek egte lewe wanneer, in die mistieke
oomblik, ‘n mens in ontsag in God se teenwoordigheid is.
Hierdie gedagte werp lig op wat "vrees van die Here" beteken. Dit is 'n geestelike ervaring wat 'n mens tot die lewe bring. Angs, bewing en depressie is vernietigende ervarings wat 'n mens innerlik dood kan maak en laat. Kennelik kan 'n mens nie die vrees van die Here met sulke negatiewe ervarings verbind nie. Juis nie - want die vrees werk juis presies anders: dit vernietig nie, verskrik nie. Dit bou op, dit bring die mens tot 'n nuwe waardering vir alles wat in 'n mens se lewe na jou kant toe kom. En dit oorweldig 'n mens dat God so goed kan wees dat God 'n mens, ontsagwekkend, opnuut weer, soos met die skepping, die lewe wil gee.