Thursday, June 10, 2010

Om die rooidag wakker te maak in tye van seerkry....

Ek het vir my skrywes verlede week oor die mistagogie iewers raakgelees dat ‘n mens tydens jou geloofsreis begelei moet word om te soek na God se wil in al die donker dinge wat oor jou pad kom.

Natuurlik is dit nie, besef ek al hoe meer, dat jy daarmee sê dat God die donker dinge oor jou pad bring nie. Baie dikwels is dit jy self wat donkerte oor jou aftrek. Of soms word jy die een wat raakgeslaan en verniel word in ander mense se oorloë. Die kwaad in die wêreld wat ook jou tref, hoef nie na God herlei te word nie.

Maar 'n mens moet wel onderskei hoe wil God jou lei in die kwaad wat oor jou kom – van watter kant af ook al dit na jou toe uitgedeel word. As jy ly onder jou eie mislukkings of onder die wonde van ander mense se vuishoue, is die vraag: waar vind ek God in hierdie tyd?

Toe ek hieroor geskryf het, het ek besef, onmiddellik, dit is ‘n stuk geestelike dissipline wat van jou gevra word. Want meestal, as jy pyn het, gaan sit jy en kry jouself jammer daaroor. Jou visie verdof. Jy kyk vas in die donkerte. Die lewe kom tot ‘n stilstand en donkerte kan jou maklik beklem.

Dit is dan dat jy ‘n slagoffer word. En `n slagoffer wat vir hom- of haarself sit en jammer kry, help niemand nie. Nie vir mense om hom of haar nie - ook nie die slagoffer nie. Mense is jammer vir `n slagoffer. En jammerte is nie altyd `n goeie ding nie. Dit help veral nie die slagoffer nie.

Dit vra nogal van ‘n mens om in tye van seerkry verby jou seer te kyk en te vra waarheen God jou in daardie tyd wil neem. Dit verg 'n stuk dissipline om dit te kan doen.

Daar is nie een, duidelike antwoord nie. Daar is duisende moontlike antwoorde op die vraag na die pad wat God met ‘n mens wil loop in tye van seerkry.

Maar oor een ding is daar nie twyfel nie. In tye van seerkry wil God die een wat ly in die goddelike teenwoordigheid bring. Dit is juis die mistieke ervaring dat 'n mens in jou ervaar hoe jy in die donker na God se nabyheid wil gaan soek, daar waar ‘n mens veilig en geborge is. Dit is "bo-natuurlik", verby ons instinkte en menslike natuur dat ons hierdie goddelike oomblik het om verlangend te vra na die diepere, dit wat onder die oppervlakte skuil.


Die pad wat God met ‘n mens wil loop is die pad verby jou seerkry na die plek waar God by jou wil woon. Soms sal die blote wete dat God jou nie aan jou lot sal oorlaat daar waar jy langs die pad onder die rowers verval het nie, al klaar ‘n troos bring en ‘n mens vul met vrede. Net die gedagte dat ‘n mens verby die donker na die Lig kan soek, kan al genoeg wees. ‘n Mens weet nie waar dit gaan eindig nie, hoe lank die wonde sal neem om te genees nie, maar die vrede is daar dat God die pad met jou sal loop. En die geestelike dissipline kan dit by ‘n mens inskerp: om altyd weer, in daardie tye, die Verborgene te soek.

Dit tel jou kop op. Soekend vra jy dan, in hierdie donker tye, terwyl jy verby jou seerkry kyk, waar jy God sal vind. En dit is al ‘n groot stap vorentoe. Want om na God te soek, verby jou seer, is ‘n stuk relativering van dit wat jou verniel. Jy laat nie toe dat jy `n slagoffer van pyn word nie. Meer nog, jy leef uit die wete van die rus in die skadu van die Allerhoogste se vleuels.

Dawid, sê Psalm 57, moes, onverstaanbaar genoeg, vlug van Saul die een wat so naby aan hom was. Hy is tussen leeus, sing hy in vers 5, tussen mense wat hom wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde. Dan, nog altyd in die grot, bedreigd deur Saul, roep hy,

“Ek voel weer veilig, o God!

Ek wil ‘n lied sing, ja ek wil sing.

Ek wil vroeg opstaan, met harp en lied wil ek die rooidag wakker maak!”

En dit sing Dawid, benoud, in die donkerte van die grot terwyl hy wag op die Lig...

Wednesday, June 09, 2010

Depressie

Depressie, word dikwels gesê, is die siekte van ons tyd. Dit ontsien niemand nie. Ook nie hulle wat naby aan die evangelie leef nie.

Aan die een kant is daar ‘n vorm van endogene depressie wat, gelukkig, suksesvol deur medisyne behandel kan word. Maar selfs in die meeste van hierdie gevallse is daar medici wat aanbeveel dat die behandeling gedurig weer bekyk en aangepas moet word. En natuurlik is dit belangrik om die behandeling nie net uit die neem van chemiese middels te laat bestaan nie. Dikwels kan byvoorbeeld ook oorweeg word om aanvullend stress faktore te verwyder, om tydelik uit ‘n beklemmende omgewing weg te kom of om versigtig na dieet en goeie oefening te kyk.

Tog moet ‘n mens ook onderskei tussen depressie en, wat in die mistiek bekend staan as die donker nag van die siel.

In die mistieke literatuur word baie gemaak van die donker nag van die siel. Dit is tye wanneer gelowiges voel hulle het alle kontak met God verloor of hulle geloof word deur donkerte oorweldig. Een van die beroemdste voorbeelde is Moeder Teresa se onthulling oor haar ervaring dat God afwesig was in haar lewe – en dit oor baie jare. Jan van die Kruis het uitvoerig en aangrypend hieroor geskryf. Hierdie soort ervaring van verlatenheid is besonder intieme en teer gevoelens waaroor ‘n mens liewers moet swyg as om te vinnig te praat en, nog erger, maklik harde oordele te vel. Nog dwaser sou wees om dit as depressie te beskryf.

Die donker nag van die siel moet nie as depressie misverstaan word n ie. Dit is ‘n besonder intense geestelike ervaring waarin die gelowige mens om God worstel.

Maar daar is ‘n ander kant van die saak wat ook bedink moet word. Dit het te doen met die manier waarop sommige mense die mag van depressie oor hulle te bowe gekom het.

Ek dink in die tyd aan `n verhaal wat ek verlede jaar iewers lees van ‘n vrou wat vertel dat sy jare lank op anti-depressante was en steeds weer ‘n gevoel van geluk en tevredenheid ervaar het. Maar al die tyd het sy besef dat dit eintlik nie “normaal” is nie. Die lewe self kan nie net bloot gelukkig wees nie. As jy ‘n mens is, het jy jou tye van lig, geluk en vrede, maar daar is ook die tye van donkerte, angs en onrustigheid. Die lewe is alleen volledig wanneer dit ook pyn en lyding insluit, het sy geskryf. Trouens, sê sy, sy het gevoel dat sy geestelik nie gegroei het nie omdat sy nie uitgedaag is om moeilike sake te ervaar, aan te spreek en te oorkom nie. Sy het nie eg gelewe nie. Sy was in ‘n onnatuurlike kokon toegespin.

Sy het dus langsamerhand en met mediese begeleiding van die anti-depressante afgegaan en sy laat haar nog gereeld medies ondersoek. Sy het daarna die tye van swaarkry weer as moeilik ervaar. Maar, hierdie keer kon sy terugstaan, en sy kon besef dat sy hierdie swaarkry nie as ‘n lot moet beskou nie. Dit moes vir haar ‘n kans bied om anderkant uit te kom. Haar ervaring van hierdie moeilike tye het haar meer simpatiek gemaak teenoor ander mense wat ly. Haar donker tye het haar die goeie tye meer intens laat beleef en dankbaarheid by haar opgeroep. Maar meer nog, die donker tye het haar laat leef uit God se genade, weg van haar eie prestasie, het haar laat wag op God se leiding in haar lewe en het haar intens laat verlang na die volmaakte wanneer sy voluit by God sou wees – die Een wat die trane afdroog en die ewige lewe skenk.

In hierdie geval het die vrou genade ontvang om die rol van negatiewe gevoelens in haar lewe uit te daag. Voorheen kon sy dit nie regkry nie. Die negatiewe gevoelens het haar hele lewe oorheers en haar bestaan vergal. Dit was haar tye van depressie.

Tot op die dag dat sy gelukkig genoeg, afstand tot die negatiewe kon skep, dit kon bedink en daarvoor ook net soveel plek in haar bestaan toe te laat.

Tuesday, June 08, 2010

Moslems en die mistiek. Oor die mistagogie (4).

Daar is groot verwydering tussen die Westerse wêreld en die Moslem-wêreld. Dwarsoor ons aardbol sien ons hoe Moslems voorgestel word as mense wat simpatiek teenoor terrorisme en geweld is.

Terwyl ek hierdie groeiende verwydering sien, dink ek aan die boek van die Nobelpryswenner, Orhan Parmuk met die titel, The Black Book, wat ek verlede jaar gelees het. Dit is ‘n merkwaardige boek, nie net oor die formidabele skryfstyl nie, maar ook oor die intellektuele digtheid daarvan. Maar wat my die meeste getref het, was hoe die boek deurtrek was van Sufi mistiek, waarvan Rumi die bekendste verteenwoordiger was. Die boek handel oor iemand wat op ‘n dag ontdek sy vrou en ‘n half-broer is weg. Die boek gaan oor sy soektog na haar – maar dit is eintlik ‘n soektog wat die verlange simboliseer na Verligting. En hierdie verligting beteken onder andere dat ‘n mens jouself moet prysgee, dat die leerling sy eie identiteit moet opgee en soos die leermeester moet word.

Dit is ‘n vreemde ervaring om ‘n boek te lees wat op so ‘n konkrete manier oor Rumi en oor die Sufi-mistiek skryf.

Daarom lees ek onlangs met groot belangstelling Waaijman se weergawe van die mistiek waarvan die Sufi-beweging ‘n deel was:

In ‘n Moslem-konteks waar die Ou Testament ook, saam met die Koran, deel is van die heilige geskrifte, was die profete gesien as mense wat die volk van hul dwaalweë terugbring. Dit is, vir hulle, ook waarom Mohammed die Koran geskryf het. Die profeet wys die sjari`ah aan, die weg waarop mense gelei word in die aanbidding van God en in hul daaglikse lewe. Maar daar is ‘n nog smaller pad wat gelowiges kan loop. Dit is die tariqah ¬waarop God ‘n mens roep tot meer radikale gehoorsaamheid en toewyding. Iemand wat die tariqah bewandel ontdek sy of haar totale afhanklikheid van God. Sulke spesiaal toegewyde pelgrims sou ‘n mens dan onder andere vind in die beroemde Sufi bewegings.

As ‘n mens die pad van volmaaktheid loop, het jy ‘n geestelike begeleier nodig – soms ‘n sjeik of ‘n pir genoem. Waaijman noem die voorbeeld van ‘n Sufi wat gesê het: “Iemand wat nie ‘n begeleier het nie word deur Satan begelei.” Hierdie persoon begelei die mens op ‘n reis wat van alle kante bedreig word deur bose geeste, mense en die wêreld, maar ook deur die mens se selfsugtigheid. Die grootste van hierdie gevare is egosentrisme, want dit lei tot allerhande gedagtes, gevoelens en optredes wat net op jouself gerig is. Om van hierdie egosentrisme bewaar te bly, moet ‘n mens gedurig ingestel wees op God se stille teenwoordigheid. En die sjeik is dan ‘n gawe van God wat ‘n mens ondersteun op die geestelike reis om die gevare te herken en om verlig te word deur die goddelike teenwoordigheid.

Die sjeik as geestelike begeleier moet self iemand wees wat in die goddelike wêreld van lig leef en wat afgesterf het aan eie belang en goddelose lewensvorme. Hy leef in God se teenwoordigheid en uit God se ontferming. Omdat God in sy lewe is en goddelike ontferming in hom woon, is hy iemand wat moed het, rein is, kennis soek, ontferming bewys, rustig is en eerbied betoon, aldus Waaijman. Die sjeik is deur God getransformeer en kan sy geestelike begeleiding rig op sy volgeling se totale transformasie. Hy streef daarna om sy volgeling van egosentrisme te bevry en op God te rig. En die volgeling wat vir die sjeik gekies het, wys daarmee sy nederigheid. Hy het sy self-trots opgegee en volg iemand anders, nie homself nie. Hy as volgeling laat al sy eie begeertes vaar. Daarom sal ‘n volgeling van ‘n sjeik begin met ‘n 40 dae tyd van afsondering (chilla). Deur hierdie afsondering ontstaan ‘n nuwe verhouding tot die Ander – tot God en tot homself. Daarna volg ‘n verdere verdieping in die reis: “‘n jaar se diens ten behoewe van ander, ‘n jaar se diens gerig op God en ‘n jaar se waak oor jou eie hart” – sê S. Maneri.

As alles dan in plek is, volg die mistieke weg waarop die volgeling homself onvoorwaardelik aan God oorgee. Dan gee so iemand alles op – besittings, familie-bande en alle belange, maar hy gee ook homself op in gebed, offerande, berou en aanbidding. Die sjeik loop hierdie heel besondere pad met die volgeling en begelei hom in enige iets wat oor sy pad kom – sukses en mislukking, welsyn en armoede, twyfel en helderheid, pyn en vreugde, hoop en angs, liefde en haat. Daarom is die sjeik en die volgeling fyn ingestel op mekaar en let die sjeik op die eie behoeftes van sy volgeling. ‘n Mens, glo die Sufi’s, moet dus ten alle koste ‘n mistagoog hê, iemand wat jou geestelik kan begelei. Jy sal so iemand nie maklik kry nie, maar jy moet soek totdat jy iemand spesiaal vir jou raakloop.

Ek lees hierdie beskrywing en wonder hoeveel mense is bewus van hierdie kant van die geestelike reis van Moslem-gelowiges. En ek wonder, nogal heel veel in die laaste tyd, hoe mense sal reageer as hulle hierdie inligting lees. Ek wonder nogal sterk...

Monday, June 07, 2010

Die gevare van die geestelike reis en die mistagoog. Oor die mistagogie (3)

In alle spiritualiteite, van watter tradisies ook al en in watter tye ook al, word geglo dat ‘n mens nie jou geloofsreis alleen moet loop nie.

Die geloofsreis is vol gevare.

As ‘n mens dink aan die simbool van die “reis” ontdek ‘n mens gou al die verskillende soorte van gevare. ‘n Mens kan afdwaal, onverwags iets oorkom, moeg raak, bang word, ontnugter voel, ontmoedig word, onseker raak of rigtingloos begin voortstrompel.

Oor elkeen van hierdie fase’s sou ‘n mens stukke en stukke kon skryf. Geen geloofsreis is daarsonder nie – en soms kan meer van hulle tegelykertyd oor ons pad kom.

Ons ken die gelykenis van die saad. Vir Johannes Markus en Paulus, Demas, Thomas, Judas, Petrus. Ons herken in hulle die vele duwweltjies op die pad van die geloof.

In spiritualiteit waarsku die wyses daarom: soek ‘n mede-reisiger, ‘n hartsgenoot, ‘n mistagoog. So iemand is wys omdat hy of sy die pad ook geloop het en ervaar het. Dit is iemand wat in die teenwoordigheid van God geleef het.

Kyk byvoorbeeld na die woestynvaders se gedagtes oor mistagogie: Vir hulle word ‘n gelowige se lewe deur drie beginsels bepaal:

1. Wat ‘n mens ook al doen moet jy steeds vir God voor oë hou. Dit is die begin en einde van alles. Wie oor mistagogie praat, praat oor die reis na God.
2. Wat ‘n mens ook al doen moet jy doen volgens die getuienis van die Bybel
3. Moenie, eenvoudigweg, sommer net jou blyplek verlaat nie.

Waaijman noem hier die voorbeelde van drie beroemde woestynvaders wat God se stem gehoor roep het en van toe af die geloofsreis in volledige afhanklikheid van God afgelê het. Antonius het alles verkoop en woestyn toe getrek, Arsenius het God vir hom hoor sê dat hy hom van alle mense moes onttrek en Pachomius, beïndruk deur Christene se liefdesdiens, het die weermag verlaat en woestyn toe getrek. Hulle het almal God se stem gehoor en in hul geloofsreis alleen maar vir God voor oë gehou.

Toe het hulle deur hulle hele geloofsreis vanuit die Bybel gelewe. Hulle het die Bybel gememoriseer en dit gedurig herkou. Soos hulle oor die Skrif gebuig het, het hulle gebede al hoe sterker gegloei. Wie nie die Skrif ken nie, raak verdwaald op die geestelike reis.

En, derdens, het hulle in hul sel gewoon – daar waar hul aandag nie afgetrek kon word nie, waar hulle oop en ontvanklik kon wees vir God se leiding. Dit is nie die sel soseer nie, maar dit is die ononderbroke gerigtheid op God wat tel – om nie toe te laat dat enige iets ‘n mens se aandag van God aftrek nie. ‘n Sel, vandag, weet ek, kan daardie nou, intieme ruimte wees waar iemand naby aan jou is om vir jou te vertel hoe lyk die geloofsreis.

Dit alles wys op ‘n dialogies verhouding tussen God en mens. Dus: God praat, roep die gelowige, die monnik. Die monnik stel homself oop vir God. En die intieme wederkerigheid tussen God en mens in die lees van die Bybel volg vir almal wat die reis van die geloof wil loop. God praat en die mens praat met God.

Maar nou kom hierdie dialoog tussen God en mens ook na vore in die verhouding van die gelowiges met mekaar.

Die woestynvaders het in hul geestelike reis na God met die Bybel in stilte steeds weer gesoek na iemand wat die pad saam met hulle stap. En mettertyd het hulle oor hierdie onderlinge geestelike begeleiding as 'n wedersydse verhouding tussen Vader en seun gepraat.

‘n Mens kan die verhouding van die mistagoog tot die een wat mistagogies begelei word, in die vader-seun metafoor beskryf. Dit is eintlik boeiend en het twee duidelike kante:

1. Eerstens is daar ‘n verhouding van die vader tot die seun. Die vader praat nie sommer net met die seun nie. Eers wanneer die seun met hom kom praat, reageer hy. Die seun gaan soek by die pa ‘n woord wat hy kan inneem, wat hy deel van hom kan maak en waarop hy sy lewe kan instel. Alles, alles gaan daarom dat hierdie goddelike woord in die geestelike reis gehoor en toege-eien moet word.

Dit alles gebeur nie maar sommer net nie. Die mistagogie kan sy skerp kante ook hê. Om ‘n woord van jou pa deel van jou te maak, kan ook vele kante hê. Dit kan ‘n streng woord wees wat die mens se hart stukkend breek sodat dit sag kan word soos was wat opnuut gevorm moet word, skryf Waaijman. Dit moet gebeur, want dan word die beeld van die Heilige Gees op daardie was ingeprent. Die seun word van sy ek-gesentreerdheid bevry. Hy word nou na die wil van sy vader gevorm – al stuit die hom eintlik teen die bors. En dan, as dit gebeur, is die kind nie meer ‘n slaaf nie.

Die verhouding tussen die mistagoog en die een wat mistagogies begelei word lei dus tot ‘n geestelike broederskap – die selfugtige word bevry en kry saam met die mistagoog as kinders van God deel aan die vryheid van God se kinders. Mistagogie bring vryheid!

2. Maar daar is ook ‘n ander kant. Die seun kom na die geestelike vader. Hy kan nie vry word, nuut word, as hy nie hom vir God oopstel nie. Eintlik stel ons ons harte nie maklik oop vir God nie. Ons redeneer dat dit ons eie ek in gevaar stel. Ons soek eerder na self-behoud, om die sentrum van alle dinge te wees. Deur myself vir God oop te maak, stel ek myself in gevaar want die geestelike vader, en dus God wat deur die mistagoog werk, kry toegang tot my innerlike. Die Bybel beskryf dit herhaaldelik in die oproep tot bekering.

Daar is iets hoogs mistieks in hierdie verhouding van die geestelike reisiger wat die pad saam met die geestelike vader loop. By ‘n kruispad, by ‘n afdraaipad, as daar ‘n onverwagte storm losbars, as hy moeg raak, onseker voel, angs ervaar, gaan hy staan by die vader. Hy soek na God. Sy verlange is om deur die donker heen by God uit te kom. “Wys my, geestelike vader, wat nou.” “Lei my, sodat ek ook vir God kan ontmoet.”

Die geestelike pa gaan ook staan en soek sorgsaam saam met hom tussen al die gevare deur dat hy koers mag hou. “Moenie moed verloor nie, dit is daardie kant op, wees rustig,” sal hy stilweg sê, want hy hou sy hart vas dat die pelgrim by God sal uitkom. Altyd weer, steeds weer, is die onderlinge band wat hulle bind die soeke na God se salwende teenwoordigheid. Niks anders nie. Dis nie die geestelike vader wat so blink in die soeklig staan nie. Wat tel is sy vinger waarmee hy gedurig weer die pad aanwys na die Ander, na die Vader, na God.

Die mistieke is dat hulle, die mistagoog en die een wat mistagogies begelei word, albei eintlik soekers is. Die een die soeker in tye van gevare. Die ander een, die een wat soek dat die jonger soekende seun tog nie koers sal verloor op pad na die Vader nie.

Die woestynvaders het op hulle manier beleef wat ons vandag steeds nog op baie manier kan meemaak. Ons ken hulle: die geestelike vaders en moeders wat ons lewe op kritieke tye op koers gehou het. Op die kansel het hulle woorde, woorde uit die Skrif, ons Sondag na Sondag, pinksteraand na pinksteraand, jaar na jaar, aan die hart gegryp en ons lewe in ‘n nuwe rigting gestuur. Op ‘n siekbed het hulle sagte hand op ons voorkop en eenvoudige gebed op ‘n vroeg oggend of laat in die aand ons, sonder dat hulle dit besef het, onwillekeurig herinner aan die milde aanraking van die Een wat vertel het hoe Hy in die hospitaal besoek is. By die huisbesoek, net daardie een keer, het hul vriendelike woord, sonder swaar teologiese slimmighede, by ons wortel geskiet omdat dit ons op dardie goue oomblik aan die vriendelikheid van God laat dink het en aan ons geestelike reis opnuut weer koers gegee het. In persoonlike gesprekke, elke week, op ‘n uitspan-Vrydagmiddag, op die stoep van die hotel, langs die besige, lui straat vol mense en motors, het hulle woorde oor God vir ons God se woorde geword.

En steeds weer het hulle ons, op baie groot of stil maniere, herhaaldelik of net vir een oomblik, in die teenwoordigheid van die Verborgene, gebring. Van gelaat tot Gelaat.

So loop ons geestelike reis saam met ons geestelike vaders en moeders. Ons is geseënd, as kinders van God.

Sunday, June 06, 2010

Om vryheid te ervaar. Oor kosbare kinderlewens



Ek slaap weer vanaand sleg na ek die program gekyk het, besef ek: Dit is ‘n program waarin daar ‘n opname gemaak is oor seuntjies van 8 jaar en ouer wat niks anders as slawe is nie wat op lande en in fabrieke in Asië en Afrika werk.

Die syfers gaan die verstand te bowe en is hartverskeurend: Ses miljoen kinders in Asië is deur hul ouers verkoop vir kinder-arbeid. Maar dit is nog niks. Wêreldwyd is daar 158 miljoen kinders tussen agt en 14 jaar wat kinder-arbeid moet verrig.

Ek dink, terwyl ek die program kyk, onwillekeurig aan seuntjie wat vanaand veilig in sy bedjie kan inkruip. Niks ontbreek hom nie. En deur die genade het hy ‘n lewe vol hoop en goedheid wat op hom wag. 158 miljoen kinders wêreldwyd kan hulle nie vir ‘n oomblik indink in sy wêreld en in sy lewe nie.

Die program is diep ontroerend. Die kinders werk heeldag vir onmenslike ure, eet dan en gaan slaap voordat hulle weer begin werk. Dit is hulle dagprogram. Sondae kry hulle R8 vir hulle week se werk. Hulle leef in oorbewoonde kwartiere: Twaalf van die jongeres leef saam met agtien ouer kinders in een groot vertrek. Soos hul ouer word en meer geskoolde werk doen, word hulle gesogter en verkoop die eienaar hulle aan die volgende een. Sommige sal vir jare sulke dwangarbeid doen. Hulle self baat niks by die mense-handel nie. Hulle is niks anders as maar net masjiene nie .

Hulle ouers het hulle vrywillig verkoop.

Vertel die persoon (Save our Children): Die kinders het geen konsep van hulp nie. Hulle werk nou al jare sonder dat enige iemand ooit na hulle gekom het om hulle te probeer help. Dit is ‘n kwessie van aanvaarde praktyk, deel, byna, van ‘n kultuur oor kontinente heen. Dit beteken, sê die persoon, dat hulle geen konsep van liefde het nie.

Die kinders, wys die program, skrik hul dood toe hulle uit die fabriek bevry word en die eienaar gearresteer word, wys hulle vanaand op die BBC-program. Hulle dog die polisie gaan hulle in die tronk gooi. Hulle het geen idee dat hulle onwettig as slawe aangehou is nie. Hulle het geen konsep dat hulle geregtig is op vryheid nie.

Op ‘n stadium vra die omroeper vir een seuntjie van so 10 jaar: wil jy teruggaan na jou ouers in die dorpie of wil jy hier in die ashram as veilige hawe bly? Die kind huiwer nie vir ‘n oomblik nie: “Ek wil hier bly.” En as jou ouers terugkom en jou kom haal? “Dan sal ek vra om liewer hier te bly,” reageer hy onmiddellik.

Vir twee weke word die kinders geklee, versorg en ingelig oor wat met hulle gaan gebeur. Na ‘n paar dae begin hulle ontdooi. Hulle star gesigte wys glimlagte. Hulle begin dans. Dan sê die omroeper: “Hierdie kinders het vryheid ontdek. Hulle ken nie die woord nie. Maar jy kan sommer aan hul lyfies sien dat hulle nou weet wat vryheid is.”

Ek ervaar skielik in my hoe uiters kosbaar vryheid is. Die visuele beeld van dansende jong seuntjies, vry van kwaad, laat my opnuut weer besef hoe fundamenteel vryheid is. Skielik begin ek ook nadink oor bevryding in die geestelike sin van die woord – om vry gemaak te word van sonde, kwaad, die Bose.

Ses miljoen kinders in Asië werk in slawe-arbeid en 158 miljoen wêreldwyd. En hulle is skaars 8 jaar oud. Maar dit is nog niks. Kyk net na die volgende gegewens wat deur UNICEF verskaf word

(http://www.unicef.org/protection/index_bigpicture.html ):

The big picture

Issues addressed under Child Protection

Violations of the child’s right to protection take place in every country and are massive, under-recognized and under-reported barriers to child survival and development, in addition to being human rights violations. Children subjected to violence, exploitation, abuse and neglect are at risk of death, poor physical and mental health, HIV/AIDS infection, educational problems, displacement, homelessness, vagrancy and poor parenting skills later in life.

UNICEF’s child protection programmes aim to prevent and respond to violence, exploitation and abuse against children. The programmes also target children who are uniquely vulnerable to these abuses, such as when living without parental care, in conflict with the law and in armed conflict. UNICEF's child protection programmes seek to address:

Child Labour: Approximately 158 million children aged 5-14 are engaged in child labour.

Child Marriage: In developing countries, more than 60 million women aged 20-24 were married/in union before the age of 18 of whom over 31 million live in South Asia.

Child Trafficking: An estimated 1.2 million children are trafficked every year.

Children in Conflicts and Emergencies: At any given time over 300,000 child soldiers, some as young as eight, are exploited in armed conflicts in over 30 countries around the world. More than 2 million children are estimated to have died as a direct result of armed conflicts since 1990.

Children and Justice: More than 1 million children worldwide are detained by law enforcement officials.

Children without Parental Care: Approximately 143 million children are orphaned by one or both parents.

Sexual Exploitation of Children: 2 million children are believed to be exploited through prostitution and pornography.

Violence against Children: 40 million children below the age of 15 suffer from abuse and neglect and require health and social care.

En dan die statistieke oor Suid-Afrika:

‘n Groot deel van die bevolking moet oorleef op minder as R8 per dag.

Daar was in 2005 2.5 miljoen weeskinders in Suid-Afrika. Hierdie getal sal waarskynlik in 2014 verdubbel. Vyf miljoen!

Vanaand sal ek aan die slaap raak terwyl ek dink aan daardie seuntjies wat al dansende laat blyk het dat hulle hul vryheid gevind het. En ek sal wonder hoekom hoor ons so min hiervan in ons kerke. Sal ons nie baie meer dankbare mense wees as ons ‘n slag ervaar wat sommer om die draai van ons gebeur nie?

Kinder- en leke spiritualiteit!

Mens lees baie van hierdie soort van eposse. Maar daar bly iets verfrissends in die manier waarop kinders vertel hoe hulle liefde raaksien. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Eerstens is daar ‘n paar twyfelagtige voorbeelde:

Ek weet my ouer suster het my lief wanneer sy haar klere vir my gee en vir haar nuwes gaan koop.

Ek laat maar my ouer suster op my pik want my ma sê sy pik op my omdat sy my lief het. Nou pik ek op my jonger suster want ek het haar lief.

Dan is daar die meer romantiese voorbeeld:

Liefde is wanneer jy vir iemand vertel sy hemp is so mooi en hy dit dan elke dag dra.

En ‘n voorbeeld van waar ‘n liefdevolle mens van liefde geleer het:

My ma het my meer as alle ander mense lief. Niemand anders gee my ‘n soentjie voordat ek gaan slaap nie.

En dan is daar die voorbeelde van die gelukkige pa’s!:

Liefde is wanneer my ma vir my pa koffie maak en proe of dit reg smaak voordat sy dit vir hom gaan gee.

Liefde is wanneer ma vir pa die beste deel van die hoender inskep...

En die voorbeeld van die ouderdom:

My ouma het artritis en kan nie meer haar toonnaels verf nie. My oupa doen dit nou vir haar – al het hy artritis in sy hande.

‘n Kompetisie vir die liefdevolste kind is gewen deur ‘n seuntjie wat vir hulle buurman gaan kuier het nadat sy vrou van baie jare dood is en wat met oë vol trane op sy stoep gesit het. Hy het op sy skoot gaan sit. Toe sy ma vir hom vra wat hy vir die oom gesê het, het hy geantwoord: “Niks. Ek het hom net gehelp om te huil.”

En uiteindelik ‘n algemene wysheid:

‘n Mens moet nie vir iemand sê ek het jou lief as jy dit nie bedoel nie. Maar as jy dit bedoel moet jy dit baie sê. Mense vergeet gou.

My eerste keuse bly egter:

Liefde is dit wat jou laat glimlag wanneer jy moeg is.

Saturday, June 05, 2010

Dieselfde woorde - maar presies die teenoorgestelde betekenis


Kobus Sandenberg, in een van sy werkstukke, vestig my aandag op hierdie fassinerende video op Youtube:


http://www.youtube.com/watch?v=42E2fAWM6rA


13 miiljoen hits! Dit is duidelik 'n video wat mense aanspreek. En die inhoud is boeiend.


Maar ek hou ook van die kommentaar wat iemand op die video geskryf het:


I've never seen anything like this...very good idea...and the emotional effects when you first watch it and reach the 2nd half are overwhelming. really shows how the same words, concepts put in a different order conveys a completely opposite idea.


Om te dink: woorde, woorde, woorde. En dit is net die volgorde wat die verskil maak.


Boeiend.




Origines en die mistiek

Ek het al voorheen in die blog geskryf oor die rol van Origines in die mistieke interpretasie van die Bybel. Origines is soms ‘n omstrede figuur oor sy allegoriese Bybel-interpretasie. Hy word dikwels daarvan beskuldig dat hy wilde betekenisse aan die Bybel toegeskryf het.

En, soos baie ander mistieke skrywers, het hy sekerlik die Bybel by tye toegepas op ‘n manier wat vir ons vandag vreemd is.

Maar Origines is dikwels tog ‘n onreg aangedoen asof hy die Bybel nie reg gelees het nie. Hy het in sy eksegese van die Bybel steeds weer die letterlike bekenis van die teks vasgehou voordat hy ‘n dieper, verborge betekenis daarin raakgesien het. Hy het byvoorbeeld beklemtoon dat Noag se ark vir hom ‘n regte boot was wat op die waters gevaar het. Maar hy het ook die ark gelees as die kerk wat die eind-oordeel deur vuur sal vryspring. De Lubac het daarom met reg daarop gewys dat Origines soms meer letterlik in sy Bybel-lees was as wat menige lesers vandag is.

Somtyds het Origines wel die letterlike betekenis van die teks ontken. Hy het byvoorbeeld geskryf dat niemand ‘n kru letterlikheid sal toeken aan die paradys-verhaal nie. God het tog nie fisiek saam met Adam en Eva in die paradys rondgeloop asof God ‘n liggaam met voete, hande, kop, oë, mond en tong gehad het nie. Hierdie paradys-verhaal, skryf Origines, het ‘n verborge betekenis wat op ‘n nie-letterlike manier ‘n mens se lewe verryk. Juis daarom moet die geestelike betekenis daarvan uitgehaal word.

Origines se program van Bybel-lees wat sowel die letterlike as ‘n figuurlike/allegoriese uitleg van die Bybel gesoek het, het hy van sy beroemde leermeester, Clemens van Alexandrië oorgeneem en ontwikkel. Reeds Clemens het al kontemplatiewe elemente in sy Bybel-interpretasie opgeneem. Maar dit was Origines wat uiteindelik tog die mistieke lees van die Bybel ‘n baie sterk stoot gegee het. Vir hom het die Woord van God ‘n weg gebaan om die mens se hart tot God op te lig. Daar is dus ‘n verheffende dinamiek aan die Bybelse teks: wanneer ‘n mens veral Hooglied lees, skryf Origines, word ‘n mens in ‘n mistieke eenheid met God opgeneem. Die Bybel was vir hom ‘n middel om van die kwaad vry te raak: ‘n mens word deur die onweerstaanbare skoonheid van die Bybelse teks gereinig van alles wat jou teen jou wil vasbind aan ‘n bestaan van vernietiging. Die liefdevolle verhouding met die vleesgeworde Woord van God, met Christus, stroop die mens van die skadelike, bose en die kwaad. En in sy Bybel-interpretasie wil Origines juis hierdie kante van die teks ontdek. Hy wil deur die teks kom tot 'n lewe van eenheid met God.

Origines skryf byvoorbeeld oor die mense wat die vloed oorleef het dat hulle ‘n simbool is van die mense wat nie net hul eie lewe aan God leer toewy het nie, maar ook vir ander kan begelei in hul strewe om God te dien. Op die manier word hulle ‘n simbool van die mens se mistagogiese taak. Nou sou mens allerhande vrae oor hierdie uitleg kon vra. Maar is daar nie tog iets in die Bybelse verhaal van Noag wat 'n mens daarop wys dat God die mens wat regverdig leef, uiteindelik roep om van die aarde 'n ruimte vir God te maak nie? Is Origines, wat so geleerd was, werklik so totaal uit plek uit met sy lesing van die verhaal?

Die letterlike woorde van die Bybel, skryf Origines, is die sigbare element wat die onsigbare, geestelike element verberg. In die Skrif moet die Bybelleser die verborge skat waarvan Jesus praat gaan opsoek. Maar dit gebeur nie net sommer nie. Dit word uit genade geskenk aan mense wat in ‘n verhouding met Christus leef. En, voeg hy by, ons is gereed om die genade te ontvang as ons bid, soos die blinde by Jerigo dat die Here ons oë sal open (Mt 20:30). Ons leef so naby aan hierdie skat, maar ons is ook weer so ver daarvan verwyderd. Juis daarom is gebed die instrument tot die ontdekking van die verborgene. Hy haal ook Psalm 119:18 aan: “Open my oë dat ek kan sien die wonders van U wet.”

Ons kan onmoontlik Bybelse gebruike soos veelwywery, besnydenis, heilige oorloë, hoede vir vroue, besnydenis en vele ander vir ons tyd letterlik oorneem nie. Net so min kan ons daardie dele uit die Bybel uitsny. Hulle is die produk van mense se pad met God wat ons moet respekteer. Net soos die kerk na Jesus ‘n nuwe pad moes leer loop, net so moet ons in ons tyd altyd weer nuut na die geestelike betekenis van die Skrif soek. Ons vra dus met reg hoe moet ‘n mens sulke sake verstaan in terme van die geestelike reis van God se volk in die Bybel en watter geestelike boodskap sulke dele vir ons vandag inhou.

Vir Origines was dit immers belangrik dat geloof nie maar ‘n vasklou aan letterlike woorde is nie. Geloof is die aandagtige lees waardeur iemand deur die innerlike krag van die teks vasgevang word en meegeneem word in ‘n intieme, noue verhouding van God wat aan sy of haar lewe ‘n hele nuwe vorm van bestaan gee. ‘n Mens wat aan die letter van die wet vashou en nie toelaat dat die Woord in sy of haar hart vlees en bloed word nie, laat toe dat daar ‘n groot afstand tussen hom/haar en God ontstaan. Ons moet die mistieke werking van die Woord in ons lewe ervaar – en Origines se geweldige invloed op die kerk wys hoedat vele mense na hom dit hartgrondiglik met hom eens was.

Friday, June 04, 2010

Spirituele begeleiding of Mistagogie (2). Om met mekaar die geloofsreis af te lê

Mistagogie of spirituele begeleiding kom in ten minste vier kontekste voor. ‘n Mens moet al vier in gedagte hou om te besef hoe kompleks en ryk dit is.

1. Mistagogie wil eerstens vir mense rituele (bv van die prediking) en sakramente verhelder. ‘n Mens moet die betekenis insien en toe-eien van ‘n ritueel (soos byvoorbeeld die doop) wat jy ondergaan. Uit die ryk tradisies ontdek ‘n mens aangrypende mistagogiese oomblikke veral tydens die liturgie. Wat vir ‘n mens na vaal, vervelige oomblikke in ‘n Sondagoggendse diens lyk, kry skielik ‘n heel ander betekenis as ‘n mens die mistagogiese karakter daarvan bedink – soos wat mistieke skrywers uit die verlede dit gedoen het. Die preek as oordenking moet steeds weer vir luisteraars die verborge betekenis van die skriflesing uitlig. Prediking of homilie is dus ‘n mistagogiese aktiwiteit! Dit wil die luisteraars help om te voel dat wat vir hulle in die Skrif as verborge waarheid voorgehou is, ‘n dieper, lewegewende werking in hul lewens het. Een van die verdere belangrike mistagogiese momente in die kerklike tradisie is die stilte wat voor die gebede gehou word. Daardeur word mense bewus dat hulle in die teenwoordigheid van God staan. (Stil-wees, liturg! Stil wees voordat ‘n mens die mond oopmaak om te bid, in die wete dat ‘n mens nie sommer maar net met God kan loslip begin praat nie.) Na die nagmaal is daar ook stilte sodat mense hul kan inleef in wat met hulle fisiek gebeur het toe hulle die elemente van brood en wyn gebruik het. Die liturg is dus mistagoog. Hy of sy begelei ander om ‘n dieptepunt, die erediens, in mense se geestelike reis in die teenwoordigheid van God te beleef.

2. Mistagogie in Bybelse Spiritualiteit wil die lewensveranderende impak van Bybellees uitlig. Dit kry ons al in die Bybel self. Waaijman verwys hier na die Etiopiese hofdienaar wat vir Philippus sê dat hy nie die Bybel sal verstaan as daar nie iemand is wat dit vir hom “die weg wys” nie (Hand.8:31). En waar dit gebeur dat iemand mistagogiese in hul Bybellees begelei word, kan hulle soos die hofdienaar ook deur die doop met die boodskap konnekteer. ‘n Lewegewende band ontstaan tussen die teks en die leser van die teks. En, voeg Waaijmanas verdere voorbeeld by, die beroemde gelykenis van die Barmhartige Samaritaan is ‘n mistagogiese handeling van Jesus: ‘n Wetgeleerde vra vir Jesus wat hy moet doen om die ewige lewe t beërwe. Jesus vra dan vir hom “Hoe lees jy” die wet. Dan volg die mistagogiese gesprek waarin hy uiteindelik ervaar wie sy naaste is. (Luk.10:25-37). Die wetgeleerde vra eers ‘n baie algemene vraag: “Wie is my naaste?” Maar Jesus neem hom dan dieper in in die verborge waarheid: “Wie van hierdie drie was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Kyk wie het werklik gekonnekteer!

3. Daar is derdens ook mistagogie wat in geestelike vorming (of spirituele formasie) plaasvind. Hier word die geestelike weg uitgeklaar en verhelder. Dan gaan dit oor sulke sake soos: Op watter roete loop die geestelike reis, wat bevorder en wat verhinder die geestelike reis? Dit is hier waar ‘n mens gesprekke voer, in afsondering gaan of saam met mekaar mistieke tekste lees om op die manier bewus te word van God se teenwoordigheid op die geestelike weg en hoe God met mense op weg gaan. Dit gaan lank nie net daarom om kennis op te doen nie. Deurslaggewend is om innerlik betrokke te voel by wat mense gesels en bedink oor die geestelike weg. Mistagogie gaan om hierdie betrokkenheid. ‘n Mens kan baie oor God se liefde praat sonder om God se liefde te ervaar.

4. Dan is daar, laastens, die baie persoonlike mistieke begeleiding waar iemand se lewe as ‘n geestelike reis uitgeklaar word. Mense praat oor hoe hulle God se werking in hul eie lewe kan onderskei. Hoe kies ‘n mens op jou geestelike weg die regte rigting? Hoe ontdek ‘n mens situasies in jou lewe dat jy God se teenwoordigheid daarin kan herken? Hoe leer ‘n mens om moontlikhede vir geestelike groei vanuit ‘n goddelike perspektief raak te sien? Hoe dink ek na oor geestelike ervaringe wat ek gehad het? Hoe leer ek om myself te verstaan in verhouding tot die verborgenheid van God? Hier is ‘n mens in die sfeer van die kontemplatiewe. Waaijman haal Teresa van Avila aan: wat ‘n guns is dit dat God ons met die kontemplatiewe begenadig. Maar dit is nog heeltemal ‘n ander guns om te verstaan wat God se guns is en watter genadegawe dit is. En dit is nog verder ‘n heeltemal ander guns om dit te kan beskryf en verduidelik. Drie vlakke dus: ons ontvang dit, ons verstaan dit en ons kan dit in woorde uitdruk.

Uit hierdie oorsig kan ‘n mens mistagogie, volgens Waaijman, as volg beskryf: “dit is ‘n begeleiding van iemand wat ingewy is in die verborgenheid wat deur uiterlike handelinge plaasgevind het en die begeleiding handel oor wat sy of haar inwyding beteken.” Die beskrywing wys op vyf dinge:

1. Uiterlike handeling: Iemand lees, hoor, sien of ervaar ‘n ritueel, ‘n handeling, ‘n stuk inligting, die Bybel, ‘n sakrament, ‘n verhaal wat nie onmiddellik verstaanbaar is nie.

2. Inwyding: dit is die gebeurtenis waardeur ‘n mens ‘n persoonlike verhouding ontwikkel tot uiterlike handelinge. Hierdie word die saak waarom dit gaan waargeneem, begryp en in diepte ervaar.

3. Die ingewyde is die persoon wat ‘n persoonlike verhouding wil opbou tot dit wat plaasvind. Die ingewyde wil die saak waarom dit gaan persoonlik meemaak. Omdat die ingewyde die gebeure se innerlike wil meemaak, gaan dit vir hom of haar oop.

4. Die verborgene is die innerlike ruimte wat vir die ingewyde oopgaan wanneer hy of sy die ontdekkingsreis onderneem.

5. Die mistagoog is die persoon wat die ingewyde vergesel soos wat hy of sy die innerlike ruimte van die uiterlike handeling binnegaan. Die mistagoog bevorder die reis wanneer die ingewyde vir hom- of haarself ontdek hoe waar dit is wat met hom of haar gebeur het.

Hiermee is ‘n basiese struktuur nou in plek wat as inleiding net algemeen genoem kan word. Wat al hierdie verskeie onderafdelings nou verder beteken, verdien nog meer bespreking. Die detail wat ek nou verder bespreek onthul ‘n wonderlike proses wat unieke geestelike verdieping in die lewe van gelowiges kan bring.

Thursday, June 03, 2010

Om saam met ander die geestelike reis af te lê. Oor geestelike begeleiding en mistagogie

Geestelike begeleiding is die hart van pastoral werk. Maar eintlik is dit ook deel van elke gelowige se lewensreis. Nie net die pastor nie, maar elkeen wat God lief het, loop ‘n reis van sielsgenootskap en vriendskap met ander gelowiges.

Die woord "spirituele begeleiding" kan moeilik wees en allerhande misverstande veroorsaak: Om te begelei, sou vir sommige kon beteken dat die een wat begelei in ‘n bevoorregte, direktiewe, “beter” posisie is as die een wat begelei word. En dit is nie regtig die bedoeling nie. In spirituele begeleiding is daar nie beterweters, slimmes en mense in beheer nie.

Geestelike begeleiding moet nie met ‘n intellektuele oefening verwar word nie. Dit beteken nie om "kennis" oor te dra nie. Dit gaan nie bloot om kognitiewe inhoude nie. Dit beteken juis nie om kitsantwoorde en voorskrifte op ander af te laai nie. In ‘n baie breë sin van die woord sou ‘n mens kon sê dat die geestelike begeleier is iemand wat ‘n bepaalde ervaring wat plaasgevind het, deursigtig maak. Die verstand werk dus mee, maar dit gaan in geestelike begeleiding lank nie meer om verstandelike dinge nie. (Gelukkig tog. En tot verligting van baie van ons wat weet hoe nerfdun die voordeel van verstandelikheid in geestelike begeleiding kan wees). 'n Mens kan 'n wonderlike mistagoog wees sonder dat jy 'n enkele akademiese kwalifikasie het.

Deesdae word die woord “mistagogie” veral vir geestelike begeleiding gebruik. En dit was onder andere die gevolg van die groot invloed van Karl Rahner wat daaroor belangrike dinge geskryf het. Maar dit is veral in spiritualiteit dat die woord ‘n belangrike plek ingeneem het. Dit word dan veral met geestelike begeleiding verbind.

Waaijman haal ‘n uitspraak aan van Plattig: Dikwels het mense in hul lewensreis bepaalde ervaringe wat vir hulle oorweldig en oor hulle uitgestort word. In mistagogie word die mens gehelp om die verborge teenwoordigheid van die onverklaarbare God en die werk van die Heilige Gees in hulle lewenservaringe te herken. Hulle ontdek God as die transendente oorsprong en grond, as die horison en die doel van hulle lewensgeskiedenis - en dan nie net van die mens nie, maar ook die doel van die wêreldgeskiedenis. In die mistagogie daan dit om ‘n geloofsproses: deur ervaring ontdek die mens hoe God toelaat dat die mensdom God beleef en hoe ons ervaring eintlik gaan om ons verlossing.

Hierdie deftige uitspraak verdien om op baie maniere uitgepluis te word – maar dit bly vir my ‘n pragtige algemene raamwerk waarin ‘n mens oor die mistagogie nadink.

Mistagogie bestaan uit twee woorde (mistiek en agein) wat beteken dat ‘n mens in die "verborge" "begelei" of eintlik "ingelei" word. Dit is ‘n inlywing in die verborgenheid van dinge wat ‘n mens op die oog af nie sommer verstaan nie. Dit is iets wat eintlik alleen vir die geloofsoog sigbaar is, wat net vanuit 'n geloofsperspektief raakgesien kan word.


Dikwels kyk mense op hul ervarings vas en is so vasgevang daarin dat hulle nie perspektief daarop het nie. Hulle word ingeperk en benoud gemaak deur wat met hulle gebeur. Dit is donker om hulle. Hulle verstaan nie. Hulle is ontnugter, verdwaasd en gedisorienteerd.

Dit is juis hier waar die mistagoog inkom en ‘n pad van verligting saamstap.

Die geesgenoot, sielsvriend, geestelike begeleier is iemand wat met ‘n mede-reisiger saamstap om met afwagting en met verwagting oop te wees vir die verborge werking van God in hul lewe. Die sielsvriend lei iemand in in God se genadige self-kommunikasie, soos Waaijman dit formuleer. Hulle ontdek hulle unieke roeping. Saam ontdek hulle, luister hulle vanwaar God praat en roep. sien hulle waarheen God met hulle in die verwarring en ontluistering aan die beweeg is.

Hieroor wil ek meer nadink.

Die mistagogie is ‘n boeiende geestelike avontuur. Die pastoraat is nie, ervaar ‘n mens hier, die sleep van huis tot huis om huisbesoek te doen aan mense wie se harte gebroke en verwond is nie.

Dit is die groot avontuur om saam met iemand oop te wees om God se werking raak te sien in hul lewe, om die Onbegryplike as ‘n werklikheid van die goddelike teenwoordigheid te ervaar. Om die pad met iemand te loop, is om saam met daardie persoon blootgestel te word aan die verborge werking van God in mense se lewens. Kyk, ontdek en ervaar die sielsvriende saam: by God het alles begin! Sien: God is die diepste grond vir geestelike ervaringe. Let op: hier is iets aan die gang in jou geestelike reis wat van buite vir jou geskenk word. As iets met jou gebeur, is God iewers op die toneel aan die werk. As dinge in jou lewe loskom, is jy op pad na God met al jou ervaringe. En in ons wêreld is God ook die begin van alles, die diepste grond van alles, teenwoordig in alles – en ons wêreld is op reis na God toe.

Dit is nie maklike antwoorde asof ‘n mens God om elke hoek en draai sal kan uitwys nie. Dit is werklik ‘n reis, soekende, tastende, vraende, na God se verborge saam-wees te midde van die woelighede van onsekerheid en pyn. Dit kan self ‘n pynlike, reinigende proses wees.

Die sielsvriend is diep ingetrek in die avontuur van iemand wat ingelei word in die ontdekking van God se verborge werking in sy of haar lewe. Die mistagoog staan nie op die kantlyn as ‘n afrigter nie.

Wat ‘n mstieke perspektief! Die sleepvoetende huisbesoek en pastorale werk word nou ‘n soek-tog, ‘n herkenningstog na waar om die verborge wysheid, die verkwikkende teenwoordigheid van God raak te sien.

Dit vra hoe om agter te kom waarheen God my en die wêreld wil neem! Die mistagoog is daarom die oratiewe sielsvriend – gedurig besig om na God te vra.

Dit is maar net ‘n paar eerste gedagtes. Daar is baie rykdom te vind in die geestelike reis wat ‘n mens kan ontdek deur te kyk na hoe mistogoë deur die eeue heen sielsvriende was.

Wednesday, June 02, 2010

Die vrede kom eers tot 'n mens as jy jou eie wil opgee... Oor 'n sleutel aspek van spritualiteit

‘n Sleutel begrip in spiritualiteit is die konformasie of gelykvormigheid aan Christus. Die gelowige se reis is ‘n voortdurende omvorming na die gelykenis van Christus. Die mens se model op die geestelike reis is die lewe van Jesus.

Kyk net die mooi Galasiërs 4:19 met Paulus se uitspraak: “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.” Paulus het geboortepyne – hy is intens ingestel daarop dat sy volgelinge hul geestelike reis aan Christus as die bron van energie en transformasie sal volg.

Hieroor sou ‘n mens baie kon skryf. Maar vir my, vandag, is daar iets heel spesifieks aan die omvorming in die gestalte van Christus wat my in my leeswerk opval en by my bly luier. Wanneer ‘n mens na die beeld van Christus omvorm word, beteken dit dat ons alle vorme van die ou mens buite Christus om moet loslaat en afsterf. Ons moet gereformeer word weg van vorme van vernietiging of vorme van blokkasie wat aan ons eie wil verknoop is. Dit is nogal ‘n groot uitdaging –die omvorming van ons wil. Om God se wil te soek en om die gestalte van Christus na te streef, beteken dat ‘n mens, soos Christus, die eie wil opgee, kruisig en oorwin.

Hieroor het Willem van Thierry treffend geskryf:

Wanneer die mens hom of haar-self na die wil van God skik, beteken dit juis nie dat ‘n mens God probeer omvorm nie. God word nie omgepraat om die wil van die mens te doen nie, maar die mens word gelykvormig aan God. Daarom sal die mens wat gelykvormig aan God word, niks vir hom- of haarself vra nie. Al wat ‘n mens vra is God self net soos wat God vir God self is.

Ek wonder hoeveel van ons gebede sal heirdie toets deurstaan.

Waaijman volg op: God se wil word sagkens en met teerheid in die wil van die mens voelbaar. God se wil dryf alle hardheid en self-gerigtheid uit en transformeer die mens se wil in God self. Op die manier word die wil van God en die wil van die mens een. Hulle haal asem in mekaar en beweeg op alle vlakke van dieselfde grondslag na alle doelwitte. Die mens se wil word so omvorm dat dit volledig oop word vir wat God wil doen.

Om af te sterf van ‘n mens se eie wil is om ingeënt te word in die goedheid wat God vir ons lewens wil hê. En daarvoor moet ‘n mens maar vir God vertrou en nie te gou of te veel wil voorskryf wat goed vir ons is nie.

Terwyl ek dit lees, dink ek aan die Onse Vader met sy inleidende bede dat God se wil oral sal geskied. En slegs ‘n deel van die Onse Vader is ‘n bede dat God sal sorg vir daaglikse brood. Niks meer nie. Net genoeg. Origens is die Onse Vader ‘n U-gebed – herhaaldelik. God staan volledig in die sentrum. Jesus het geweet dat die weg van die Gees is die weg in die wil van die Vader – en weg, weg van ons eie wil af. Vrede kry ons, uiteindelk, as ons juis alles doen wat God vra. Verby al ons self-gerigte en self-bevoordelende begeertes, verlange en smeekbedes.

Dit is soos Christus gebid het, geleef het en gesterf het – volledig in die wil van die Vader.

Dit klink pynlik om jou eie wil te moet opgee. Regtig. So swaarmoedig en vreeslik opofferend.

Eintlik, wanneer dit in ‘n mens se lewe begin plaasvind, ontdek ‘n mens hoe bevrydend dit is. Om te doen wat God doen en om in totale wegleef van jouself vir ander daar te wees.

Ons verloor baie deur ons koppige vashou aan wat goed is vir onsself – soos ‘n kind wat altyd beter weet. Maar gelukkig, God kom saggies en ontfermend. En langsamerhand groei ons dieper in die bevrydende wete dat hoe meer ons wegleef van onsself, hoe dieper is die vrede wat in ons woon. Dit is so.

Tuesday, June 01, 2010

Driedubbele liefde. Oor (nugtere) liefdesmistiek by Ruusbroec

Vir ‘n klomp belangrike Nedelandse mistici uit die 13e en 14e eeu, waarvan Ruusbroec die leiersfiguur was, was die Drie-eenheid van God deurslaggewend in hul ontmoeting met God. Hulle herken in God as die Drie-enige – Vader, Seun en Heilige Gees ‘n onderlinge liefdesverhouding waaruit die liefdesverhouding tussen God en die mens vloei en wat as voorbeeld dien vir die liefdesverhouding. (En hierdie insig word vandag al hoe meer dikwels in nadenke oor die triniteitsleer ontwikkel).

Driedubbele liefde – dink ek altyd as ek dit hoor - volmaak!

Voor hulle tyd was die teologie gedurig aan die spekuleer oor allerhande aspekte van die triniteitsleer. Dit was hierdie mistici wat die verborge lewe in God so aangrypend gevind het dat dit vir hulle 'n bron van aanbidding geword het of dat hulle dit ervaar het as 'n helder lig wat die bestaan van 'n gelowige belig. Hulle ervaar op intiem persoonlike vlak wat in vorige eeue heen geleer en intellektueel bespreek is. Wat 'n rasionele bedryf was, is in hulle mistiek verinnerlik en toegeeien. Trouens dit was juis hul unieke bydrae tot spritualiteit dat hulle die Drie-eenheid as 'n hoeksteen vir die mistiek beskryf het.

‘n Mens kan, het hierdie mistici geskryf, die mistieke lig van die liefde nie met jou verstand ontdek nie. Die wysheid word aan die mensdom geskenk. Mense ervaar die mistieke lig van die liefde in hul innerlike bestaan en word daardeur aangespoor tot ‘n lewe van liefde. Die lig van die liefde wat oor ons skyn, skryf Ruusbroec, versterk ons met sy gawe, verlig ons verstand en dring ons om te stry en te volhard in die liefde. Ons ontvang krag, kennis en wysheid hiertoe.

Iemand wat aangeraak is deur die mistieke lig van God se liefde is nie ‘n bang bleeksiel nie. Ruusbroec skryf oor die mistiek as ‘n gawe vir onverskrokke liefhebbers, sê Paul Verdeyen. Ruusbroec praat oor die mistiek met mense wat begeer om al hul talente in diens van die Hooggeliefde te stel. Die liefde in God Drie-eenheid inspireer die mens tot relasionele liefde. Die mistiek maak van die mens ‘n dinamiese persoon wat hom of haar instel en inoefen in die liefde. ‘n Mens word ‘n vegter, stryder en iemand wat jou inspan.

Dit tref my, dus, as ek Verdeyen lees oor Ruusbroec, dat die mistiek van mense “buitengewone optimiste” maak. Daar is iets dinamies, skeppends en atkiefs aan die mistiek. Ja, daar is die donker nag van die mistieke roeping, maar die nag is maar kort in vergelyking met die dag waarin die son stralend helder skyn, hoor ons van hulle.

Mistici wat voluit lewe, gedryf deur die helder lig van die liefde, geÏnspireer deur die nabyheid van God. Die nabyheid van die God van die een, drie-dubbele liefde wat ‘n mens vul met allermooiste liefdesverhoudinge en met die drang om in die liefde te lewe.

As Ruusbroec daarom oor Jesus se lyding skryf, is dit nie ‘n treurige, smartlapperige verhaal nie. Jesus se lyding bring vir hom heilsame vrugte. Die offer van Christus bring heling en genesing. Sy taal is beeldryk:

Die offer van Jesus was die balsemtak wat eens vasgebind was aan die kruis. Vasgenael met spykers en deurboor met ‘n skerp spies, vloei daar uit die wonde edele balsem as medisyne van alle sonde. Die geur van die balsem is gelaai met ‘n oorvloed van soetighede wat die hemel, die aarde en die hel vul en wat nimmermeer vergaan. Die geur van die balsem maak die mens aan die beweeg – nie met swaar, ystervoete nie, maar met haastige bene. Die balsem is soet, dit genees alle kwale. Dit maak die mens dronk sodat hy homself vergeet en na die liefde in die wonde van ons Heer verlang. Op die manier smag die mens om te bly woon by die geur van hierdie balsemreuk.

Ruusbroec was bewus van die kontemplatiewe lewe. Hy het geweet hoe belangrik is innerlike afsondering en stilte. Maar sy spiritualiteit hou nie hierby op nie. Die kontemplatiewe lewe is nie die begin en einde van alles nie. Die uiteindelike doel van die mistiek is juis nie goddelike kontemplasie alleen nie, maar méér as dit: die mens streef ‘n dubbele doel na. Aan die een kant is daar wel die soeke na die gebedslewe waarin die mens in stilte by God is, maar dit moet gepaard gaan met die betrokkenheid in liefdesdiens teenoor die naaste. Die mistikus leef in gemeenskap met ander. Daarom het Ruusbroec self boeke geskryf, sy kollega’s onderrig, gaste ontvang, mede-gelowiges besoek en begelei. Die gewone lewe, die gemeenskapslewe is dus ook die ruimte waar die goddelike liefde eenvoudigweg uitgeleef word.

As ‘n mens Thomas a Kempis se navolging wil verstaan (nugtere mistiek!), moet ‘n mens Ruusbroec verstaan. Verdeyen skryf juis dat die basiese idee’s in Thomas se Navolging is feitlik geheel en al oorgeneem uit die eerste twee dele van Ruusbroec se beroemde Geestelike Bruloch.

Ons het deesdae twee vertalings van die Navolging. Dit is ‘n goeie begin om op spoor van Ruusbroec te kom – een van die grootste mistici van alle tye. (Albert Geyser se vertaling van die Navolging in Afrikaans bly nog verreweg die beste een. As ‘n mens mooi soek, tel jy dit in boekwinkels vir tweedehandse boeke vir ‘n appel en ‘n ei op).

Blog Archive