Mistagogie of spirituele begeleiding kom in ten minste vier kontekste voor. ‘n Mens moet al vier in gedagte hou om te besef hoe kompleks en ryk dit is.
1. Mistagogie wil eerstens vir mense rituele (bv van die prediking) en sakramente verhelder. ‘n Mens moet die betekenis insien en toe-eien van ‘n ritueel (soos byvoorbeeld die doop) wat jy ondergaan. Uit die ryk tradisies ontdek ‘n mens aangrypende mistagogiese oomblikke veral tydens die liturgie. Wat vir ‘n mens na vaal, vervelige oomblikke in ‘n Sondagoggendse diens lyk, kry skielik ‘n heel ander betekenis as ‘n mens die mistagogiese karakter daarvan bedink – soos wat mistieke skrywers uit die verlede dit gedoen het. Die preek as oordenking moet steeds weer vir luisteraars die verborge betekenis van die skriflesing uitlig. Prediking of homilie is dus ‘n mistagogiese aktiwiteit! Dit wil die luisteraars help om te voel dat wat vir hulle in die Skrif as verborge waarheid voorgehou is, ‘n dieper, lewegewende werking in hul lewens het. Een van die verdere belangrike mistagogiese momente in die kerklike tradisie is die stilte wat voor die gebede gehou word. Daardeur word mense bewus dat hulle in die teenwoordigheid van God staan. (Stil-wees, liturg! Stil wees voordat ‘n mens die mond oopmaak om te bid, in die wete dat ‘n mens nie sommer maar net met God kan loslip begin praat nie.) Na die nagmaal is daar ook stilte sodat mense hul kan inleef in wat met hulle fisiek gebeur het toe hulle die elemente van brood en wyn gebruik het. Die liturg is dus mistagoog. Hy of sy begelei ander om ‘n dieptepunt, die erediens, in mense se geestelike reis in die teenwoordigheid van God te beleef.
2. Mistagogie in Bybelse Spiritualiteit wil die lewensveranderende impak van Bybellees uitlig. Dit kry ons al in die Bybel self. Waaijman verwys hier na die Etiopiese hofdienaar wat vir Philippus sê dat hy nie die Bybel sal verstaan as daar nie iemand is wat dit vir hom “die weg wys” nie (Hand.8:31). En waar dit gebeur dat iemand mistagogiese in hul Bybellees begelei word, kan hulle soos die hofdienaar ook deur die doop met die boodskap konnekteer. ‘n Lewegewende band ontstaan tussen die teks en die leser van die teks. En, voeg Waaijmanas verdere voorbeeld by, die beroemde gelykenis van die Barmhartige Samaritaan is ‘n mistagogiese handeling van Jesus: ‘n Wetgeleerde vra vir Jesus wat hy moet doen om die ewige lewe t beërwe. Jesus vra dan vir hom “Hoe lees jy” die wet. Dan volg die mistagogiese gesprek waarin hy uiteindelik ervaar wie sy naaste is. (Luk.10:25-37). Die wetgeleerde vra eers ‘n baie algemene vraag: “Wie is my naaste?” Maar Jesus neem hom dan dieper in in die verborge waarheid: “Wie van hierdie drie was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Kyk wie het werklik gekonnekteer!
3. Daar is derdens ook mistagogie wat in geestelike vorming (of spirituele formasie) plaasvind. Hier word die geestelike weg uitgeklaar en verhelder. Dan gaan dit oor sulke sake soos: Op watter roete loop die geestelike reis, wat bevorder en wat verhinder die geestelike reis? Dit is hier waar ‘n mens gesprekke voer, in afsondering gaan of saam met mekaar mistieke tekste lees om op die manier bewus te word van God se teenwoordigheid op die geestelike weg en hoe God met mense op weg gaan. Dit gaan lank nie net daarom om kennis op te doen nie. Deurslaggewend is om innerlik betrokke te voel by wat mense gesels en bedink oor die geestelike weg. Mistagogie gaan om hierdie betrokkenheid. ‘n Mens kan baie oor God se liefde praat sonder om God se liefde te ervaar.
4. Dan is daar, laastens, die baie persoonlike mistieke begeleiding waar iemand se lewe as ‘n geestelike reis uitgeklaar word. Mense praat oor hoe hulle God se werking in hul eie lewe kan onderskei. Hoe kies ‘n mens op jou geestelike weg die regte rigting? Hoe ontdek ‘n mens situasies in jou lewe dat jy God se teenwoordigheid daarin kan herken? Hoe leer ‘n mens om moontlikhede vir geestelike groei vanuit ‘n goddelike perspektief raak te sien? Hoe dink ek na oor geestelike ervaringe wat ek gehad het? Hoe leer ek om myself te verstaan in verhouding tot die verborgenheid van God? Hier is ‘n mens in die sfeer van die kontemplatiewe. Waaijman haal Teresa van Avila aan: wat ‘n guns is dit dat God ons met die kontemplatiewe begenadig. Maar dit is nog heeltemal ‘n ander guns om te verstaan wat God se guns is en watter genadegawe dit is. En dit is nog verder ‘n heeltemal ander guns om dit te kan beskryf en verduidelik. Drie vlakke dus: ons ontvang dit, ons verstaan dit en ons kan dit in woorde uitdruk.
Uit hierdie oorsig kan ‘n mens mistagogie, volgens Waaijman, as volg beskryf: “dit is ‘n begeleiding van iemand wat ingewy is in die verborgenheid wat deur uiterlike handelinge plaasgevind het en die begeleiding handel oor wat sy of haar inwyding beteken.” Die beskrywing wys op vyf dinge:
1. Uiterlike handeling: Iemand lees, hoor, sien of ervaar ‘n ritueel, ‘n handeling, ‘n stuk inligting, die Bybel, ‘n sakrament, ‘n verhaal wat nie onmiddellik verstaanbaar is nie.
2. Inwyding: dit is die gebeurtenis waardeur ‘n mens ‘n persoonlike verhouding ontwikkel tot uiterlike handelinge. Hierdie word die saak waarom dit gaan waargeneem, begryp en in diepte ervaar.
3. Die ingewyde is die persoon wat ‘n persoonlike verhouding wil opbou tot dit wat plaasvind. Die ingewyde wil die saak waarom dit gaan persoonlik meemaak. Omdat die ingewyde die gebeure se innerlike wil meemaak, gaan dit vir hom of haar oop.
4. Die verborgene is die innerlike ruimte wat vir die ingewyde oopgaan wanneer hy of sy die ontdekkingsreis onderneem.
5. Die mistagoog is die persoon wat die ingewyde vergesel soos wat hy of sy die innerlike ruimte van die uiterlike handeling binnegaan. Die mistagoog bevorder die reis wanneer die ingewyde vir hom- of haarself ontdek hoe waar dit is wat met hom of haar gebeur het.
Hiermee is ‘n basiese struktuur nou in plek wat as inleiding net algemeen genoem kan word. Wat al hierdie verskeie onderafdelings nou verder beteken, verdien nog meer bespreking. Die detail wat ek nou verder bespreek onthul ‘n wonderlike proses wat unieke geestelike verdieping in die lewe van gelowiges kan bring.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.