Sunday, June 20, 2010

Verdrietig verlore in verdriet.

Verdriet kan nooit weggesteek word nie. As ‘n mens mooi kyk, sal jy selfs die verdriet wat in die diepste van die mens se hartskamers weggesteek word, op hulle gesig raaksien.

Iemand kan liggies met jou gesels, maar in die stilte van hul oë sal jy die hartseer herken. Iemand kan saam met jou argeloos ‘n koppie koffie drink, maar hul lyftaal sal iets van hul innerlike seer weggee. Iemand sal dit selfs wil ontken, maar die gladde woorde sal die wonde nie kan wegsteek nie.

En as jy dit dan tog raaksien, word hulle verdriet ook joune.

Verdriet wys homself – selfs al word hard probeer om dit weg te steek.

Spreuke 15:13 het dit al uitgespel:

'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.

Nog meer so as mense hul lewe lank verdriet ervaar het: harde groewe lê diep ingekeep op hul gesigte. Die oë is koud, dof en verslaan. Selfs die mooiste mens kan deur verdriet hul skoonheid verloor.

Soos verdriet ‘n mens letterlik beetpak, so kom ongesondheid van liggaam en van gees oor jou pad.

Juis daarom moet ‘n mens op verdriet bedag wees: want ‘n mens kan jou in jou verdrietigheid verloor. Jy kan verdriet koester, jou lyding vir jou toe-eien. Die geestelike reis behels dat ‘n mens groei in bewuswording, consciousness, oor dit wat die reis donker maak en bedreig – soos verdriet.

Dit is geen sonde om verdrietig te wees nie, natuurlik nie. Verdriet is ‘n wesenlik deel van die lewe. Mens-wees beteken dat ‘n mens verdriet beleef.

Die vraag is egter watter plek verdriet in ‘n mens se lewe gegun word.

God wil nie hê dat verdriet ons lot moet wees nie en dat hartseer ons lewe dryf nie.

Juis daarom moet ons hartseer en verdriet nie te veel ruimte gee nie, skryf Grün. Wees bedag daarop dat verdriet nie jou lewe oorheers nie.

Spreuke 15:15 vertel: “Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.”

Wat is dit wat ons dan vrolikheid teruggee?

Alledaagse dinge, seker. Ons kan verdriet omring en inperk en aanvat deur vir ‘n oomblik weg te kyk daarvan. Ons kan ons oog laat val op die eenvoudigste van eenvoudige dinge: die golwe van die see wat ritmies pragtige wit skuim soos ratse ski-ers op hul pluime laat ry. Op die ou foto van Oupa as jongman in sy kispak met die sakhorlosie-ketting netjies, simmetries en modernisties oor sy toe-nog-plat maag uitgehang, trots langs sy eerste karretjie. Op die buurvrou oorkant die straat se pragtige bottel appelkoos-konfyt, pas van die stoof af, as dit blink-oranje-bruin oor die vars sny wit halfwarm witbrood uitgesmeer word.

Tog is daar ook iets diepers: Wanneer ek begin om met wysheid te soek na dinge waarmee ek verdriet uit my hart en van my lyf af kan weer, kan ek my ook verlustig in die diepste van vreugde-ervaringe – dat die goddelike wysheid tot die lewenskuns my lewe inkom en stuur en volmaak.

Wanneer ‘n mens ‘n oormaat van verdriet het en daaraan wil ondergaan, is dit dalk tyd om Spreuke te lees.

Dit is dan wanneer ‘n mens God se wysheid vir ons lewe kontempleer, dat die tyd van vreugde weer tot ons kom. Miskien eers net ‘n klein vlammetjie op die kers wat dalk gou geblus sy swart pitjie agterlaat. Maar aangepor deur die Gees, en al sterker groeiende in bewuswording, dan ‘n tweede vonk wat ‘n langer tyd die vlam aan die gang sit. Totdat die blydskap sterker in my hart terugkom en uiteindelik uitslaan op my gesig.

Vreugde moet gesoek word, gevoed word, vertroetel word.

Spreuke 17:22 vertel hoe hierdie proses van verandering hom afspeel: “'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.”

Om die storie van ‘n ander kant te begin: ‘n Mens kan nie vreugde wegsteek nie. Jy sien dit dadelik raak, al praat iemand nie oor bly dinge met jou nie. Jy sien dit in hulle oë. Vreugde straal stil-weg, onuitgespreek uit hulle blik. Jy weet sommer, dit kom van diep binne-in hulle uit tot jou toe. ‘n Mens kyk graag na sulke mense, selfs al is hulle nie aantreklik nie. Jy wil graag by hulle wees, en jy wonder soms oor wat dit is wat hulle so bly maak.

Vreugde, soos verdriet, is aansteeklik. Die een is tot die lewe. Die ander een is tot vernietiging.

Die een is geanker in goddelike wysheid. Die ander een kom wanneer ‘n mens toelaat dat die goddelike lig in jou gedoof word.

Om by God te wees, is om verdriet te kan besweer. En deur ons oorlewing van ons verdriet, groei ons dieper in ons verhouding met God, maar ook met ander. En as ons hierdie groeiende verdieping ervaar, wys dit na buite, word dit herken - as egte vreugde, as vreugde wat nie aangesit is nie.

En het ons tog nie in ons vaal wêreld mense met goddelike vreugde in hulle binneste nodig nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive