Monday, June 07, 2010

Die gevare van die geestelike reis en die mistagoog. Oor die mistagogie (3)

In alle spiritualiteite, van watter tradisies ook al en in watter tye ook al, word geglo dat ‘n mens nie jou geloofsreis alleen moet loop nie.

Die geloofsreis is vol gevare.

As ‘n mens dink aan die simbool van die “reis” ontdek ‘n mens gou al die verskillende soorte van gevare. ‘n Mens kan afdwaal, onverwags iets oorkom, moeg raak, bang word, ontnugter voel, ontmoedig word, onseker raak of rigtingloos begin voortstrompel.

Oor elkeen van hierdie fase’s sou ‘n mens stukke en stukke kon skryf. Geen geloofsreis is daarsonder nie – en soms kan meer van hulle tegelykertyd oor ons pad kom.

Ons ken die gelykenis van die saad. Vir Johannes Markus en Paulus, Demas, Thomas, Judas, Petrus. Ons herken in hulle die vele duwweltjies op die pad van die geloof.

In spiritualiteit waarsku die wyses daarom: soek ‘n mede-reisiger, ‘n hartsgenoot, ‘n mistagoog. So iemand is wys omdat hy of sy die pad ook geloop het en ervaar het. Dit is iemand wat in die teenwoordigheid van God geleef het.

Kyk byvoorbeeld na die woestynvaders se gedagtes oor mistagogie: Vir hulle word ‘n gelowige se lewe deur drie beginsels bepaal:

1. Wat ‘n mens ook al doen moet jy steeds vir God voor oë hou. Dit is die begin en einde van alles. Wie oor mistagogie praat, praat oor die reis na God.
2. Wat ‘n mens ook al doen moet jy doen volgens die getuienis van die Bybel
3. Moenie, eenvoudigweg, sommer net jou blyplek verlaat nie.

Waaijman noem hier die voorbeelde van drie beroemde woestynvaders wat God se stem gehoor roep het en van toe af die geloofsreis in volledige afhanklikheid van God afgelê het. Antonius het alles verkoop en woestyn toe getrek, Arsenius het God vir hom hoor sê dat hy hom van alle mense moes onttrek en Pachomius, beïndruk deur Christene se liefdesdiens, het die weermag verlaat en woestyn toe getrek. Hulle het almal God se stem gehoor en in hul geloofsreis alleen maar vir God voor oë gehou.

Toe het hulle deur hulle hele geloofsreis vanuit die Bybel gelewe. Hulle het die Bybel gememoriseer en dit gedurig herkou. Soos hulle oor die Skrif gebuig het, het hulle gebede al hoe sterker gegloei. Wie nie die Skrif ken nie, raak verdwaald op die geestelike reis.

En, derdens, het hulle in hul sel gewoon – daar waar hul aandag nie afgetrek kon word nie, waar hulle oop en ontvanklik kon wees vir God se leiding. Dit is nie die sel soseer nie, maar dit is die ononderbroke gerigtheid op God wat tel – om nie toe te laat dat enige iets ‘n mens se aandag van God aftrek nie. ‘n Sel, vandag, weet ek, kan daardie nou, intieme ruimte wees waar iemand naby aan jou is om vir jou te vertel hoe lyk die geloofsreis.

Dit alles wys op ‘n dialogies verhouding tussen God en mens. Dus: God praat, roep die gelowige, die monnik. Die monnik stel homself oop vir God. En die intieme wederkerigheid tussen God en mens in die lees van die Bybel volg vir almal wat die reis van die geloof wil loop. God praat en die mens praat met God.

Maar nou kom hierdie dialoog tussen God en mens ook na vore in die verhouding van die gelowiges met mekaar.

Die woestynvaders het in hul geestelike reis na God met die Bybel in stilte steeds weer gesoek na iemand wat die pad saam met hulle stap. En mettertyd het hulle oor hierdie onderlinge geestelike begeleiding as 'n wedersydse verhouding tussen Vader en seun gepraat.

‘n Mens kan die verhouding van die mistagoog tot die een wat mistagogies begelei word, in die vader-seun metafoor beskryf. Dit is eintlik boeiend en het twee duidelike kante:

1. Eerstens is daar ‘n verhouding van die vader tot die seun. Die vader praat nie sommer net met die seun nie. Eers wanneer die seun met hom kom praat, reageer hy. Die seun gaan soek by die pa ‘n woord wat hy kan inneem, wat hy deel van hom kan maak en waarop hy sy lewe kan instel. Alles, alles gaan daarom dat hierdie goddelike woord in die geestelike reis gehoor en toege-eien moet word.

Dit alles gebeur nie maar sommer net nie. Die mistagogie kan sy skerp kante ook hê. Om ‘n woord van jou pa deel van jou te maak, kan ook vele kante hê. Dit kan ‘n streng woord wees wat die mens se hart stukkend breek sodat dit sag kan word soos was wat opnuut gevorm moet word, skryf Waaijman. Dit moet gebeur, want dan word die beeld van die Heilige Gees op daardie was ingeprent. Die seun word van sy ek-gesentreerdheid bevry. Hy word nou na die wil van sy vader gevorm – al stuit die hom eintlik teen die bors. En dan, as dit gebeur, is die kind nie meer ‘n slaaf nie.

Die verhouding tussen die mistagoog en die een wat mistagogies begelei word lei dus tot ‘n geestelike broederskap – die selfugtige word bevry en kry saam met die mistagoog as kinders van God deel aan die vryheid van God se kinders. Mistagogie bring vryheid!

2. Maar daar is ook ‘n ander kant. Die seun kom na die geestelike vader. Hy kan nie vry word, nuut word, as hy nie hom vir God oopstel nie. Eintlik stel ons ons harte nie maklik oop vir God nie. Ons redeneer dat dit ons eie ek in gevaar stel. Ons soek eerder na self-behoud, om die sentrum van alle dinge te wees. Deur myself vir God oop te maak, stel ek myself in gevaar want die geestelike vader, en dus God wat deur die mistagoog werk, kry toegang tot my innerlike. Die Bybel beskryf dit herhaaldelik in die oproep tot bekering.

Daar is iets hoogs mistieks in hierdie verhouding van die geestelike reisiger wat die pad saam met die geestelike vader loop. By ‘n kruispad, by ‘n afdraaipad, as daar ‘n onverwagte storm losbars, as hy moeg raak, onseker voel, angs ervaar, gaan hy staan by die vader. Hy soek na God. Sy verlange is om deur die donker heen by God uit te kom. “Wys my, geestelike vader, wat nou.” “Lei my, sodat ek ook vir God kan ontmoet.”

Die geestelike pa gaan ook staan en soek sorgsaam saam met hom tussen al die gevare deur dat hy koers mag hou. “Moenie moed verloor nie, dit is daardie kant op, wees rustig,” sal hy stilweg sê, want hy hou sy hart vas dat die pelgrim by God sal uitkom. Altyd weer, steeds weer, is die onderlinge band wat hulle bind die soeke na God se salwende teenwoordigheid. Niks anders nie. Dis nie die geestelike vader wat so blink in die soeklig staan nie. Wat tel is sy vinger waarmee hy gedurig weer die pad aanwys na die Ander, na die Vader, na God.

Die mistieke is dat hulle, die mistagoog en die een wat mistagogies begelei word, albei eintlik soekers is. Die een die soeker in tye van gevare. Die ander een, die een wat soek dat die jonger soekende seun tog nie koers sal verloor op pad na die Vader nie.

Die woestynvaders het op hulle manier beleef wat ons vandag steeds nog op baie manier kan meemaak. Ons ken hulle: die geestelike vaders en moeders wat ons lewe op kritieke tye op koers gehou het. Op die kansel het hulle woorde, woorde uit die Skrif, ons Sondag na Sondag, pinksteraand na pinksteraand, jaar na jaar, aan die hart gegryp en ons lewe in ‘n nuwe rigting gestuur. Op ‘n siekbed het hulle sagte hand op ons voorkop en eenvoudige gebed op ‘n vroeg oggend of laat in die aand ons, sonder dat hulle dit besef het, onwillekeurig herinner aan die milde aanraking van die Een wat vertel het hoe Hy in die hospitaal besoek is. By die huisbesoek, net daardie een keer, het hul vriendelike woord, sonder swaar teologiese slimmighede, by ons wortel geskiet omdat dit ons op dardie goue oomblik aan die vriendelikheid van God laat dink het en aan ons geestelike reis opnuut weer koers gegee het. In persoonlike gesprekke, elke week, op ‘n uitspan-Vrydagmiddag, op die stoep van die hotel, langs die besige, lui straat vol mense en motors, het hulle woorde oor God vir ons God se woorde geword.

En steeds weer het hulle ons, op baie groot of stil maniere, herhaaldelik of net vir een oomblik, in die teenwoordigheid van die Verborgene, gebring. Van gelaat tot Gelaat.

So loop ons geestelike reis saam met ons geestelike vaders en moeders. Ons is geseënd, as kinders van God.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive