Kan ‘n mens oorywerig wees in die geestelike begeleiding van ander? As mense na jou opsien, as jy in ‘n posisie van vertroue is, kan ‘n mens jou vinnig in ‘n kultuur van “die wyse mens” verloor en dan die mooi rol van die wyse een wil speel. Dan is jy die “raadgewer” wat links en regs vir mense die rigting aanwys. Dan weet jy dikwels sommer na die eerste paar minute al hoe om die situasie op te som en waarop dit afstuur.
Jy stap in by die hospitaalkamer en vertel vir die een wat siek is sommer so maklik ‘n mens verstaan nie nou nie – jy sal eendag wel verstaan. Of jy laat hoor vir die ouers wat ‘n kind verloor het, heel eenvoudig dat ‘n mens die Here moet vertrou – die Here weet dan altyd die beste. Of jy spoor mense aan om maar net te glo en alles sal regkom.
Ons het sulke bruuske oplossings: “Moenie jouself te ernstig opneem nie, hoor.” “Ander mense sit met dieselfde probleem. Wees dankbaar dat jy ten minste nie so sleg af is soos hulle wat swaarder ly nie.” Dit glip so maklik uit ons mond. En dan skud ons hulle hand, klop hulle op die skouer en stuur hulle weg om hul paadjie te loop.
In ons kassie vol raad het ons ‘n hele klomp kitsantwoorde wat ons oor die jare opgepot het. En op mense afgelaai het.
Ons is oorywerig om vinnig en helder klinkklare “antwoorde” te verskaf.
En dit terwyl die mistagoog dikwels sal swyg eerder as praat. En dikwels eers met God sal praat voordat die antwoorde en reaksies te maklik opgeklits word. Paulus skryf in Kolossense 3:3 dat ons lewe verborge is in God. Mense, skryf hy, moet liewers hulle gedagtes rig op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie. As ons lewe dus verborge is by God, is die lewensdinge nie altyd so kitshelder op te som soos wat ons dink nie. En daarom moet ons dikwels lank by God vertoef voordat ons iets van die lewe begin begryp en ‘n liggie op ons donker geestelike reis begin val. Iemand wat ander wil bedien, wil ondersteun, wil “raad” gee, moet leef uit ‘n lewegewende verhouding met God. Hoe kan ons God se verborge wil saam met ander soek as ons nie naby aan God leef nie?
Die mistagoog is gedurigdeur bewus van sy of haar totale afhanklikheid van God. Die mistagoog is ‘n kontemplatiewe persoon, aldus Waaijman, wat sy of haar hart instel op God elke keer as hy of sy ‘n pad met mens stap.
Die oomblik as iemand in die studeerkamer instap, wanneer ‘n mens die hospitaal-kamer binne-loop, rig ‘n mens jou hart op God.
Daarom bring die geestelike leier, die mistagoog, tyd deur by God. En praat die mistagoog met God.
Dit is nie maklik om die geestelike reis af te lê nie. En ons moet ook nie maak of dit maklik is nie. Dikwels neem dit tyd, baie tyd. Dikwels vra dit luister, versigtig luister. Nog meer kan dit beteken om stil te wees, absoluut niks te sê nie. Dit kan wees – en dit kan nogal meermale gebeur – dat die mistagoog moet sê: “Hier kan ons nie sommer net antwoorde kry en uitdeel nie. Laat ons wag op die Here.”
Trouens, in die mistagogie gaan dit om God te ervaar. En die geestelike begeleier ondersteun die een wat soek, om by God te wees eerder as om uit te vind wat om te doen.
Hoe sal ons dit tog weet as ons nie ons harte op die verborgene rig nie? Hoe nader ‘n mens aan God leef, hoe nader kan ‘n mens by iemand kom wat in lewensnood verkeer en om hulp vra.
In die mistagogie gaan dit nie om hulp uit te deel nie. Dit gaan om in God se teenwoordigheid te leef – voor ‘n mens die reis van ander met hulle deel, terwyl ‘n mens die reis met hulle loop en veral ook as ‘n mens hulle in jou gebede by God onthou vir die reis wat hulle sonder jou loop. Kyk maar net na Paulus se briewe – en hoe dikwels, baie dikwels, hy sy gemeentes by God onthou het...
Die mistagoog is ‘n geestelike mens, ingestel op God se Gees.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.