Op ‘n keer is daar ‘n sagte klop aan my voordeur. Toe ek die deur oopmaak, stap die vrou vinnig in sonder om te wag om ingenooi te word. Ek was bietjie uit die veld geslaan, al het ek haar goed geken. Ek het hulle dikwels raak geloop en ons het mekaar altyd vriendelik gegroet en altyd gesels oor ditjies en datjies. Maar sy was nog nooit by my op besoek nie en ek het ook nie verwag dat sy ooit by ons huis so aankom nie. Dit was voorwaar ‘n onverwagte oomblik.
Sy het daardie dag met my oor ‘n baie persoonlike saak kom praat, maar, het sy vir my gesê, sy wil nie hê dat iemand moet sien sy het by die pastorie ingeloop gekom nie. Sy sou tuis deurgeloop het as dit uitgekom het dat sy hulp gesoek het, het sy vertel.
Wat my tóé sommer al boekdele vertel het. Jare van seerkry wat sy moes wegsteek van ander, veral van die predikant. Lang tye van intimidasie wat haar moes geknak het en wat sy alleen moes verduur. Sy kon in daardie tyd nooit op geestelike ondersteuning staat maak nie. In ‘n sekere sin sou sy daarop kon gereken het. Ek het haar wel by tye op ‘n Sondagoggend raakgesien. En ek het gereeld by hulle huisbesoek gedoen. En daar was ‘n tydjie dat hulle wel geestelik besonder meelewend was. Maar dat iets nie altyd reg geloop het nie, kon ‘n mens in retrospektief duidelik besef: Sy en haar familie was nie mense wat gereeld in die eredienste gesit het nie en hulle het veral byltjies te slyp gehad oor een of twee dinge in die kerk wat hulle nie aangestaan het nie.
Op daardie dag kon sy nie verder nie. Sy was stukkend. Ons gesprek was lank en intens. Jarelange frustrasie en pyn is voor my uitgestort. Sy was, het sy vertel, veral gebroke oor die liefde wat in haar huweliksverhouding tot niet is.
Op ‘n stadium tydens my gesprek met haar op daardie middag het ons gepraat oor die liefde wat God vir ‘n mens skenk wanneer daar iemand kosbaars in jou lewe inkom. As só ‘n kosbare verhouding tot niet gaan en diepe wrewel of hatigheid in die plek daarvan kom, maak dit soms sin om te vra wat dit dan was wat jou oorspronklik by daardie ander mens uitgebring het. Wat het jy in daardie mens raakgesien in daardie eerste weke, maande en jare van ‘n verhouding wat opwindend en ryk was? En, kan ‘n mens iets daarvan weer probeer terugvind wat die skade van jare se vervreemding ongedaan kan maak?
Ek weet nie regtig of hierdie wending in ons moeilike gesprek die antwoorde gebring het waarna sy op soek was nie. Maar ek kon sien dat sy in haar seerkry Boontoe kyk. En na ons gebed aan die einde van ons gesprek is sy stil-weg, maar met oë vol trane, terug huis toe. Later het sy my gesê dat sy vir die eerste keer in jare weer liefde in haar verhouding kon terugvind.
Ek verwonder my dikwels oor daardie gesprek. Vandag besef ek dat al die ligter oomblikke, al die kere dat ons oor koeitjies en kalfies gesels het, die kere dat ek by hulle aan huis op huisbesoek was en ook oor die moeilike kerklike kwessies met hulle moes gesels het, reeds die begin van die mistagogiese reis was wat uiteindelik sou lei tot daardie dag toe sy nie meer verder kon en kom hulp vra het oor iets waarvan ander geen benul gehad het nie.
Ek was verbaas oor die besoek veral ook omdat hulle wêreld en myne so totaal verskillend was. Ek was nie voorbereid daarop dat sy nou juis teenoor my haar verhaal wou vertel nie. Daar was te veel wat ons geskei het van mekaar.
‘n Mens sou maklik hieroor allerhande ander patrone van ongelykhede wou skep: sy was die soeker. Ek was die klankbord. Sy was die een met die vrae, ek moes die gesprek oor die vrae lei. Sy was in ‘n doodloopstraat en onseker in haar worsteling om God se wil in haar lewenskrisis te ontdek. Ek moes saam met haar tastend vra na God se teenwoordigheid in haar lewensituasie.
Maar tog, besef ek vandag met nog groter verwondering, was daar iets diepers aan die werk wat ons twee wêreld laat oorvleuel het. Ons albei bedink dít wat met ons in ons lewens gebeur in terme van ons verhouding tot God. In ons gesprek was ons albei bewus dat ons God se werking in ons lewens aan die ervaar was. Ek het in haar onverwags iemand raakgesien wat besef het dat haar lewe nie so kan aangaan nie en dat dit nie God se wil kan wees dat haar lewe so vernietigend moes loop nie. Sy het uit haar ervaring van haar geloofslewe geweet dat God iets anders as so ‘n lewe vir haar beskik. En terwyl ek met haar gepraat het, het ek besef dat God hier in haar verlange na die diepere, die mooiere, die liefde aan die werk was.
As ons voorheen kennisse was, gespreksgenote, was ons hier kinders van God wat tydens hierdie gesprek op heilige grond was. Ons was nou geloofsgenote.
Ons gesprek het, soos Waaijman dit stel, ‘n intenser bewussyn by ons albei meegebring terwyl ons as mede-gelowiges oor God se wil vir ons lewens gepraat het. Dit is in ‘n sekere sin ‘n mistieke ervaring dat twee mense wat in ‘n geestelike begeleidingsgesprek bymekaar is, besonder bewus kan word van God se teenwoordigheid. Ons het albei gedeel in dieselfde goddelike werklikheid. Heilige grond.
In die mistagogie, dus, weer eens, gaan dit nie om ‘n mistagoog wat wyslike raad gee aan ‘n soeker nie. Dit gaan om die dieper, gedeelde goddelike werklikheid. By die geestelike begeleider en die geestelike begeleide mens is God teenwoordig.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.