Ek lees vanaand ‘n boeiende vertelling oor Jonathan Edwards, die beroemde Presbiteriaanse predikant van die 18e eeu in Amerika. Hy skets sy eie lewensverhaal en gee baie aandag aan die begin van sy geestelike reis.
Hy skryf hoedat hy as jong seun erg godsdienstig was en ‘n aktiewe gebedslewe gehad het – hy het tot vyf maal toe op ‘n dag gebid. Sy lewe was ‘n intense stryd om heiligmaking.
Deel van sy geestelike stryd was egter ‘n worsteling om die heerlikheid van God te verstaan. Hy kon nie begryp dat God ‘n God van heil en van oordeel is nie. Edwards se taal is sterk: Hy worstel met die voorstelling dat God in heerlikheid sommige tot die ewige lewe kies en ander tot die verdoemenis vredoem. As jongmens was dit vir hom ‘n aaklikge gedagte.
Maar wat my interesseer is sy vertelling oor hoe hy geleidelik die heerlikheid van God op ‘n ander manier in sy geestelike reis beleef het. Met verloop van tyd, skryf hy, het hy naamlik op ‘n spesiale, vreugdevolle manier God se heerlikheid in sy innerlike ervaar.
Dit boei my hoe daar in hom 'n buitengewone vreugde in God ontvlam het:
Die beginpunt van hierdie diepe innerlike vreugde was toe hy op ‘n keer 1 Timoteus 1:17 gelees het:
Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.
Net hierdie een versie uit die Bybel vind ek in sy teks terug. Dit, skryf hy, het die vonk in hom laat ontbrand. Hierdie teks het 'n lewe van vreugde in hom laat begin.
Ek bekyk die gedeelte en dit tref my dat dit eintlik 'n unieke vers is: Oratief onderbreek Paulus sy relaas oor die ware evangelie en oor sy eie geskiedenis in die voorafgaande deel. Onverderflik, onsienlik, alleenwyse... Hierdie totale gerigtheid op God. Die vergeet van mensself. Die aanbidding. Die verlore raak in God.
Wat ‘n invoeging is dit inderdaad. Hieroor wil ek nog baie dink.
Maar vanaand boei Edwards sy kommentaar op die gedeelte my. En hoe soet, selfs sentimenteel, maar duidelik deurdrenk met liefde sy taal is.
Hy skryf: “Toe ek hierdie woorde lees, het daar ‘n gevoel vir die heerlikheid van die Goddelike Wese in my opgekom en as te ware my innerlik totaal gevul. Dit was vir my ‘n nuwe ervaring, iets anders as wat ek ooit tevore ondervind het. Nooit tevore het woorde uit die Skrif vir my soos hierdie woorde gelyk nie. Ek het by myself gedink hoe wonderlik hierdie Wese was en hoe gelukkig ek moet wees dat ek soveel vreugde in só ‘n God kan hê en dat ek ‘n hemelse verrukking kan ervaar en deur hierdie Wese vir altyd opgeneem en as te ware in God ingesluk kan word (swallowed up!). Ek het hierdie Skrifwoord bly sê vir myself, amper asof ek dit bly sing het. En ek het tot God gebid dat ek God mag geniet. En ek het gebid soos ek nog nooit tevore gebid het nie, en met ‘n nuwe soort toegeneentheid.”
Dan vertel Edwards hoe hy ‘n nuwe aanvoeling vir en denke oor Christus ontwikkel het. In sy hart het daar innerlike, “soet” ervaring van hierdie dinge ontwikkel. Sy innerlike is weggevoer in heerlke gedagtes en kontemplasie van die saak.
“En my gedagtes was daarop toegespits om my tyd te spandeer aan lees oor en meditering van Christus, oor die skoonheid en uitnemendheid van sy persoon en die lieflike heilsweg deur genade in hom.” In daardie tyd, skryf hy dan, is daar vir hom geen boek wat mooier is as die boeke wat hieroor, oor die skoonheid van Christus gaan nie.
Daarom het hy in die tyd onophoudelik vir Hooglied gelees! Die hele boek was vir hom pragtig. Hy het dit oor en oor gelees. En by tye het hy so ‘n innerlike soetheid beleef dat dit hom in kontemplasie weggevoer het.
“Ek weet nie eintlik hoe om dit uit te druk nie. Maar ‘n kalmte, ‘n heerlike distansie van wêreldse sorge het oor my gekom. En soms ‘n soort visioen, of sekere gedagtes of verbeeldingsvlugte, amper asof ek alleen in die berge was, of in ‘n eensame woestyn, ver van die mensdom, terwyl ek heerlik met Christus gesels, toegedraai en ingesluk (swallowed up) in God. Die gevoel wat ek gehad het vir goddelike sake sou dikwels my hart in soetheid laat brand in my – ‘n ywer van my siel laat onbrand wat ek nie eintlik weet om in woorde uit te druk nie.
Edwards, een van die beroemdste spiritualiteitskrywers en –predikers van Amerika, oortuigde Calvinis, skryf hierdie mistieke ervaring neer nadat hy 1 Timoteus 1:17 lees....
Merkwaardig. Bybelse spirtualiteit. Kontemplasie. Verborgenheid. Ingesluk in God. Eenheid met God.
Maar ai, daardie vers in 1 Timoteus 1:17 het my ook nou beet... 'n Artikel werd.
As 'n mens hierdie vertelling van Edwards lees herken 'n mens baie dimensies van die mistieke ervaring: bewussyn van God, ekstase, nietiging, passiewe onmiddellikheid, vereniging, aanskouing, inwoning.
Baie mense wat spiritualiteit ken, sal onmiddellik oor Edwards reageer dat hulle weet dat hy een van die beroemdste (of berugste) preke van alle tye gelewer het (later hieroor meer). Maar min praat hieroor - oor hierdie mistieke eenheid wat hy met God ervaar het en hoe dit uit die Bybel oor hom gekom het....
En hierdie mistieke vreugde ontspring op 'n dag uit een Bybelteks in sy lewe. In die lewe van 'n stoere Calvinis...
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.