Saturday, June 05, 2010

Origines en die mistiek

Ek het al voorheen in die blog geskryf oor die rol van Origines in die mistieke interpretasie van die Bybel. Origines is soms ‘n omstrede figuur oor sy allegoriese Bybel-interpretasie. Hy word dikwels daarvan beskuldig dat hy wilde betekenisse aan die Bybel toegeskryf het.

En, soos baie ander mistieke skrywers, het hy sekerlik die Bybel by tye toegepas op ‘n manier wat vir ons vandag vreemd is.

Maar Origines is dikwels tog ‘n onreg aangedoen asof hy die Bybel nie reg gelees het nie. Hy het in sy eksegese van die Bybel steeds weer die letterlike bekenis van die teks vasgehou voordat hy ‘n dieper, verborge betekenis daarin raakgesien het. Hy het byvoorbeeld beklemtoon dat Noag se ark vir hom ‘n regte boot was wat op die waters gevaar het. Maar hy het ook die ark gelees as die kerk wat die eind-oordeel deur vuur sal vryspring. De Lubac het daarom met reg daarop gewys dat Origines soms meer letterlik in sy Bybel-lees was as wat menige lesers vandag is.

Somtyds het Origines wel die letterlike betekenis van die teks ontken. Hy het byvoorbeeld geskryf dat niemand ‘n kru letterlikheid sal toeken aan die paradys-verhaal nie. God het tog nie fisiek saam met Adam en Eva in die paradys rondgeloop asof God ‘n liggaam met voete, hande, kop, oë, mond en tong gehad het nie. Hierdie paradys-verhaal, skryf Origines, het ‘n verborge betekenis wat op ‘n nie-letterlike manier ‘n mens se lewe verryk. Juis daarom moet die geestelike betekenis daarvan uitgehaal word.

Origines se program van Bybel-lees wat sowel die letterlike as ‘n figuurlike/allegoriese uitleg van die Bybel gesoek het, het hy van sy beroemde leermeester, Clemens van Alexandrië oorgeneem en ontwikkel. Reeds Clemens het al kontemplatiewe elemente in sy Bybel-interpretasie opgeneem. Maar dit was Origines wat uiteindelik tog die mistieke lees van die Bybel ‘n baie sterk stoot gegee het. Vir hom het die Woord van God ‘n weg gebaan om die mens se hart tot God op te lig. Daar is dus ‘n verheffende dinamiek aan die Bybelse teks: wanneer ‘n mens veral Hooglied lees, skryf Origines, word ‘n mens in ‘n mistieke eenheid met God opgeneem. Die Bybel was vir hom ‘n middel om van die kwaad vry te raak: ‘n mens word deur die onweerstaanbare skoonheid van die Bybelse teks gereinig van alles wat jou teen jou wil vasbind aan ‘n bestaan van vernietiging. Die liefdevolle verhouding met die vleesgeworde Woord van God, met Christus, stroop die mens van die skadelike, bose en die kwaad. En in sy Bybel-interpretasie wil Origines juis hierdie kante van die teks ontdek. Hy wil deur die teks kom tot 'n lewe van eenheid met God.

Origines skryf byvoorbeeld oor die mense wat die vloed oorleef het dat hulle ‘n simbool is van die mense wat nie net hul eie lewe aan God leer toewy het nie, maar ook vir ander kan begelei in hul strewe om God te dien. Op die manier word hulle ‘n simbool van die mens se mistagogiese taak. Nou sou mens allerhande vrae oor hierdie uitleg kon vra. Maar is daar nie tog iets in die Bybelse verhaal van Noag wat 'n mens daarop wys dat God die mens wat regverdig leef, uiteindelik roep om van die aarde 'n ruimte vir God te maak nie? Is Origines, wat so geleerd was, werklik so totaal uit plek uit met sy lesing van die verhaal?

Die letterlike woorde van die Bybel, skryf Origines, is die sigbare element wat die onsigbare, geestelike element verberg. In die Skrif moet die Bybelleser die verborge skat waarvan Jesus praat gaan opsoek. Maar dit gebeur nie net sommer nie. Dit word uit genade geskenk aan mense wat in ‘n verhouding met Christus leef. En, voeg hy by, ons is gereed om die genade te ontvang as ons bid, soos die blinde by Jerigo dat die Here ons oë sal open (Mt 20:30). Ons leef so naby aan hierdie skat, maar ons is ook weer so ver daarvan verwyderd. Juis daarom is gebed die instrument tot die ontdekking van die verborgene. Hy haal ook Psalm 119:18 aan: “Open my oë dat ek kan sien die wonders van U wet.”

Ons kan onmoontlik Bybelse gebruike soos veelwywery, besnydenis, heilige oorloë, hoede vir vroue, besnydenis en vele ander vir ons tyd letterlik oorneem nie. Net so min kan ons daardie dele uit die Bybel uitsny. Hulle is die produk van mense se pad met God wat ons moet respekteer. Net soos die kerk na Jesus ‘n nuwe pad moes leer loop, net so moet ons in ons tyd altyd weer nuut na die geestelike betekenis van die Skrif soek. Ons vra dus met reg hoe moet ‘n mens sulke sake verstaan in terme van die geestelike reis van God se volk in die Bybel en watter geestelike boodskap sulke dele vir ons vandag inhou.

Vir Origines was dit immers belangrik dat geloof nie maar ‘n vasklou aan letterlike woorde is nie. Geloof is die aandagtige lees waardeur iemand deur die innerlike krag van die teks vasgevang word en meegeneem word in ‘n intieme, noue verhouding van God wat aan sy of haar lewe ‘n hele nuwe vorm van bestaan gee. ‘n Mens wat aan die letter van die wet vashou en nie toelaat dat die Woord in sy of haar hart vlees en bloed word nie, laat toe dat daar ‘n groot afstand tussen hom/haar en God ontstaan. Ons moet die mistieke werking van die Woord in ons lewe ervaar – en Origines se geweldige invloed op die kerk wys hoedat vele mense na hom dit hartgrondiglik met hom eens was.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive