Tuesday, June 01, 2010

Driedubbele liefde. Oor (nugtere) liefdesmistiek by Ruusbroec

Vir ‘n klomp belangrike Nedelandse mistici uit die 13e en 14e eeu, waarvan Ruusbroec die leiersfiguur was, was die Drie-eenheid van God deurslaggewend in hul ontmoeting met God. Hulle herken in God as die Drie-enige – Vader, Seun en Heilige Gees ‘n onderlinge liefdesverhouding waaruit die liefdesverhouding tussen God en die mens vloei en wat as voorbeeld dien vir die liefdesverhouding. (En hierdie insig word vandag al hoe meer dikwels in nadenke oor die triniteitsleer ontwikkel).

Driedubbele liefde – dink ek altyd as ek dit hoor - volmaak!

Voor hulle tyd was die teologie gedurig aan die spekuleer oor allerhande aspekte van die triniteitsleer. Dit was hierdie mistici wat die verborge lewe in God so aangrypend gevind het dat dit vir hulle 'n bron van aanbidding geword het of dat hulle dit ervaar het as 'n helder lig wat die bestaan van 'n gelowige belig. Hulle ervaar op intiem persoonlike vlak wat in vorige eeue heen geleer en intellektueel bespreek is. Wat 'n rasionele bedryf was, is in hulle mistiek verinnerlik en toegeeien. Trouens dit was juis hul unieke bydrae tot spritualiteit dat hulle die Drie-eenheid as 'n hoeksteen vir die mistiek beskryf het.

‘n Mens kan, het hierdie mistici geskryf, die mistieke lig van die liefde nie met jou verstand ontdek nie. Die wysheid word aan die mensdom geskenk. Mense ervaar die mistieke lig van die liefde in hul innerlike bestaan en word daardeur aangespoor tot ‘n lewe van liefde. Die lig van die liefde wat oor ons skyn, skryf Ruusbroec, versterk ons met sy gawe, verlig ons verstand en dring ons om te stry en te volhard in die liefde. Ons ontvang krag, kennis en wysheid hiertoe.

Iemand wat aangeraak is deur die mistieke lig van God se liefde is nie ‘n bang bleeksiel nie. Ruusbroec skryf oor die mistiek as ‘n gawe vir onverskrokke liefhebbers, sê Paul Verdeyen. Ruusbroec praat oor die mistiek met mense wat begeer om al hul talente in diens van die Hooggeliefde te stel. Die liefde in God Drie-eenheid inspireer die mens tot relasionele liefde. Die mistiek maak van die mens ‘n dinamiese persoon wat hom of haar instel en inoefen in die liefde. ‘n Mens word ‘n vegter, stryder en iemand wat jou inspan.

Dit tref my, dus, as ek Verdeyen lees oor Ruusbroec, dat die mistiek van mense “buitengewone optimiste” maak. Daar is iets dinamies, skeppends en atkiefs aan die mistiek. Ja, daar is die donker nag van die mistieke roeping, maar die nag is maar kort in vergelyking met die dag waarin die son stralend helder skyn, hoor ons van hulle.

Mistici wat voluit lewe, gedryf deur die helder lig van die liefde, geÏnspireer deur die nabyheid van God. Die nabyheid van die God van die een, drie-dubbele liefde wat ‘n mens vul met allermooiste liefdesverhoudinge en met die drang om in die liefde te lewe.

As Ruusbroec daarom oor Jesus se lyding skryf, is dit nie ‘n treurige, smartlapperige verhaal nie. Jesus se lyding bring vir hom heilsame vrugte. Die offer van Christus bring heling en genesing. Sy taal is beeldryk:

Die offer van Jesus was die balsemtak wat eens vasgebind was aan die kruis. Vasgenael met spykers en deurboor met ‘n skerp spies, vloei daar uit die wonde edele balsem as medisyne van alle sonde. Die geur van die balsem is gelaai met ‘n oorvloed van soetighede wat die hemel, die aarde en die hel vul en wat nimmermeer vergaan. Die geur van die balsem maak die mens aan die beweeg – nie met swaar, ystervoete nie, maar met haastige bene. Die balsem is soet, dit genees alle kwale. Dit maak die mens dronk sodat hy homself vergeet en na die liefde in die wonde van ons Heer verlang. Op die manier smag die mens om te bly woon by die geur van hierdie balsemreuk.

Ruusbroec was bewus van die kontemplatiewe lewe. Hy het geweet hoe belangrik is innerlike afsondering en stilte. Maar sy spiritualiteit hou nie hierby op nie. Die kontemplatiewe lewe is nie die begin en einde van alles nie. Die uiteindelike doel van die mistiek is juis nie goddelike kontemplasie alleen nie, maar méér as dit: die mens streef ‘n dubbele doel na. Aan die een kant is daar wel die soeke na die gebedslewe waarin die mens in stilte by God is, maar dit moet gepaard gaan met die betrokkenheid in liefdesdiens teenoor die naaste. Die mistikus leef in gemeenskap met ander. Daarom het Ruusbroec self boeke geskryf, sy kollega’s onderrig, gaste ontvang, mede-gelowiges besoek en begelei. Die gewone lewe, die gemeenskapslewe is dus ook die ruimte waar die goddelike liefde eenvoudigweg uitgeleef word.

As ‘n mens Thomas a Kempis se navolging wil verstaan (nugtere mistiek!), moet ‘n mens Ruusbroec verstaan. Verdeyen skryf juis dat die basiese idee’s in Thomas se Navolging is feitlik geheel en al oorgeneem uit die eerste twee dele van Ruusbroec se beroemde Geestelike Bruloch.

Ons het deesdae twee vertalings van die Navolging. Dit is ‘n goeie begin om op spoor van Ruusbroec te kom – een van die grootste mistici van alle tye. (Albert Geyser se vertaling van die Navolging in Afrikaans bly nog verreweg die beste een. As ‘n mens mooi soek, tel jy dit in boekwinkels vir tweedehandse boeke vir ‘n appel en ‘n ei op).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive