Openbaring 1:3: Geseënd is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Ons koop ‘n boek of ‘n koerant sonder om twee maal te dink. Maar in Johannes se tyd was boeke skaars en net vir uitgesoekte mense beskikbaar. Daarom is dit nogal opmerklik dat Johannes ‘n boek is, ‘n geskrewe bekendmaking van God se wil.
Op ‘n dag het iemand in die eerste eeu na Christus iewers gaan sit en hierdie boek in groot Griekse letters begin skryf. Dat Johannes kon skryf en Grieks geken het, wys al iets van sy bekwaamheid. Min mense kon lees en skryf. Uit die manier waarop hierdie boek kunstig saamgestel is, weet ons boonop dat die skrywer baie versigtig nagedink het oor sy werk.
Maar dit was nie sommer nog net ‘n boek nie. Hy kies ‘n baie opvallende beskrywing vir sy boek. Sy boek was ‘n goddelike boek – ‘n “profesie,” ‘n mededeling van God se woorde aan mense. In hierdie boek is God se wil vir gelowiges in daardie tyd bekend gemaak. Hy “skryf” dus as profeet aan die sewe kerke in Asië. In daardie tyd was dit nogal gewaagd om sulke profetiese boeke te skryf want mense het gedink die boeke kan in die hand van afwykende groepe beland en verdraai word. Om jou eie boek dan nog ‘n profesie te noem, was nog meer opvallend.
Maar Johannes het hieroor geen reserwes nie. Hy skryf sonder om te twyfel daaraan dat sy boodskap besonder belangrik is. Hy weet maar te goed dat ‘n profesie uitsonderlik is. Uit Openbaring blyk hoe baie Johannes geweet het van sulke Ou-Testamentiese profete soos Esegiël, Jeremia, Jesaja, Daniël en Sagaria. Hy praat duidelik die taal van die profete van ouds.
Hy gee dus te kenne dat hy ook visioene soos profete van ouds het. Dit gaan oor wat gaan gebeur (vers 2). En hierdie gebeure wat God beskik het, moet gedeel word met die sewe gemeentes, met die kerk van sy tyd, met die nuwe volk van God. God reik uit na die kerke om vir hulle die verborge dinge mee te deel.
Johannes verwag duidelik van sy lesers 'n bepaalde leeshouding. Sy boek, moet hulle weet, is nie maar een van baie nie. Hulle moet maar goed weet wat gebeur as hulle dit hoor. As hulle sy boek optel, is hulle met iets spesiaals besig....
En dan die derde fase: mense gaan daarna luister. Die visioen-woorde gaan in hulle ore weerklink. Hulle liggame gaan ook met Johannes visioene resoneer. Die klanke van die woorde gaan deur hulle ore in hul gedagtes vassteek. Hierdie hoor van ‘n teks lyk eenvoudig, maar dit is eintlik heel kompleks. Hulle gaan wag op die eerste klanke en dan gaan hulle elke klank, elke lettergreep, elke woord, elke sin, elke gedeelte met mekaar verbind en daarvan sin maak. Dit wat met Johannes in sy visioene gebeur word daardeur nog dieper deel van hul lewensruimte. Mense gaan dit behoorlik bedink.
En tog: Johannes skryf ‘n mens kan die woord beluister, maar dit gaan nog nie in jou hart lê nie. Egte geluk, egte saligheid kom eers wanneer jy die woorde oor sy visioen in jou hart opneem en jou eie maak. Ons ken dit: mense kan die Bybel dikwels optel en lees. Maar hul lewens is soos ‘n vyeboom sonder vrugte.
Gelukkig is die hoorder wat ook in die ry gaan staan en soos Johannes en die voorleser hierdie kosbare profesie in die hart opneem.
Johannes wil van sy lesers 'n heel spesifieke leeshouding hê: Vir Johannes was een ding baie seker: sy boek maak mense nie bang nie. As hulle dit met hul hele hart lees, sal dit hul hart vol vreugde maak. Sy woorde beteken: As jy dus, liewe leser, hierdie boek optel en met die regte hart lees, sal dit jou oorweldig met vreugde!
Gustav Dore: Ruiter op die wit perd
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.