Monday, June 21, 2010

Hoe lyk vreugde?


Ek kyk Bafana Bafana met ‘n vriendelike oog aan toe hulle in die tonnel langs die Urugay span staan die aand met die groot wedstryd.

Dit is mooi om te sien hulle staan en sing. Hulle loop oor van blydskap. En, skryf die ouens in die koerante, hulle sing nogal harmonieus. Dit is duidelik ouens wat groot vreugdes beleef.

Die Urugayers, net langs hulle, staan met verbete gesigte, stywe oë, vasgeknypte lippe en staar in die dieptes voor hulle uit. Húlle weet dit is ‘n groot aand, hierdie aand in ‘n vreemde land teen die tuisspan voor massas vuvuzela’s en ‘n rasende skare. Hulle is gesoute Wêreldbeker-deelnemers. En hulle lyftaal het dit vertel – die oorlog het aangebreek. Dit was tyd vir die aanval. Tewyl hulle vyf verdedigers teen Frankryk ingespan het, het hulle net vier teen Suid-Afrika gehad, maar hulle het drie aanvallers teenoor Bafana se enetjie gebruik. Die Urugayers was in vir groot besigheid.

Ons manne, al singende daar in die tonnel voor hul op die veld opstap, baai nog in die vreugde van hul eerste oorwinning en in daardie onvergeetlike mooi doel van Tshabalala.

Ons was almal bly saam met hulle. Ons harte was lig van al die blydskap. Alles het so goed uitgewerk. Ons was trots op die span en op mekaar en op die wêreld.

‘n Mens kon die energie voel pomp. Vreugde bring jou lewe in aksie. Dit bruis in jou.

Toe verloor Bafana. En ons stemme het ‘n bietjie stiller geraak.

Egte blydskap het ons land die afgelope weke oorval: ons sing, blaas toeters en vuvuzela’s, verdra mekaar, lag en spot en dans en speel. Daar is nie misdaad nie, want daar is polisie op straat en die misdadigers kyk ook seker sokker. Dit is ‘n wonderlike energie wat in ons los is. Ons het die wêreld lief en die wêreld het ons lief.

En tog, al verloor Bafana, is ons vreugde nog steeds op ‘n ander manier daar. Ons is trots op die stadia, op alles wat werk, op ons nuwe lughawens, die paaie wat oopgestel is, die miljoene toeskouers, maar ook oor die mooi, mooi spel van sokker.

Maar ai, dit is darem tog maar nou een maal net mooi om sulke sokker te sien. Portugal wat Noord-Korea met 7-0 pak gee. Dis byna ‘n krieket-telling. En vir die eerste keer in die geskiedenis van daardie nare Koreaanse baklei-met-almal-diktatuur word ‘n sokker-wedstryd direk oor hul televisie daar doer in Noord Korea uitgesaai. (Wat sê dit tog van ‘n land waar mense nie eers mag sokker kyk nie?) Maar om dan, terwyl hulle nasie só toekyk, met 7-0 te verloor? Bafana, ons vergewe julle.

En watter louter vreugde, soos die gesangboek dikwels skryf, is dit om te kyk na daardie man wat ‘n sokkerbal aan sy skoen vasplak soos ‘n naald wat teen ‘n oerske magneet vasstamp en klou, Messi: dit is pure kuns, die ses of sewe keer wat hy die bal om die voete van sy opponente klits op pad doelhok toe om dit dan weer te gaan haal om nog verder te dribbel en te dribbel terwyl hy ‘n string van verwilderde opponente agter hom laat steier. Dis wonderbaarlik om hom te sien, verlore in sy wêreld van hoë konsentrasie soos hy hom aan die bal oorgee en op die oog af niks of niemand anders raaksien nie. In perfekte eenheid leef hy sokker: hy is die bal en die bal is hy.

Praat van totale eenwording.


Dit is mooi sokker en dit gee vir miljoene mense oor die wêreld onmeetbare vreugde.

En ons is trots dat hier, uit die suidpunt van ons kontinent, ons die tuiste is waarvandaan die vreugde na al die nasies, volkere, geslagte en inwoners van die aarde uitgestraal word. Al is Bafana in die laaste loopgraaf, is daar baie, baie wat ons nog met intense vreugde kan geniet. Ons het genoeg gepresteer. Al daardie bitterbekke wat so smalend gepraat het oor Afrika se gedoemde poging om die wêreldbeker aan te bied, is nou Pryssangers. En al kyk ons na hulle met ‘n houtoog oor hul valsheid, mederwaardigheid en oogklappe, geniet ons dit eintlik nou nog meer dat hulle so vinnig moes omgespring het. Ons is bly.

Vreugde, skryf Grün, is die beste motivering om iets nuuts aan te pak, kreatief te wees en nuwe weë in te slaan om ou probleme op te los.

Dit is soos die Super 14 eindstryd in Soweto wat selfs die kakiebroek-manne bly-bly in die strate laat dans het en wat ‘n nuwe gesindheid in ons land laat ontvlam het.

Vreugde laat jou met ander oë na ander mense kyk – ook jou ou vyande.

Mag dit ons land beskore wees lank nadat die laaste doel geskop is, die beker oorhandig is en die laaste sokkerster sy koffers vol kamele en koedoehorings op ‘n waentjie in die vertreksaal instoot vir die huist toe gaan slag. Dat ons met nuwe oë na mekaar sal kyk. En dat die vreugde wat ons nou beleef, in ons land en in ons harte sal bly draal in ‘n ewige hangover.

‘n Gesonde mens, leer ons van die slim sielkundiges, is iemand vol emosies met goeie verhoudings en verlangend om te presteer. Vreugde is ‘n emosie wat ons dinge laat doen wat ons normaalweg van sou terugdeins. Vreugde laat die ou spanninge op die agtergrond verdwyn. Dit bring lewe. Dit maak ons innerlik heel. Dit maak van ons gesonde mense.

Terwyl ek op die manier dieper nadink oor die aard en die transformerende krag van vreugde, onthou ek hoe diep vreugde in Bybelse tekste verweefd is. Die blydskap in die hemel oor mense wat God vind, blydskap van Paulus as hy in die tronk in Filippi in die nag sit, blydskap van die eerste gelowiges daar waar hulle hul brood gebreek het. Maar dan ook telkens weer die gepaardgaande refrein: Verbly julle (Matteus 5: 12) – selfs oor lyding en vervolging. En Paulus wat nie kon ophou om vir sy gemeentes ook, soos Jesus, te herinner om vreugde te soek nie: wees altyddeur bly (1 Thess 5:16). .

Geen wonder ons is so dikwels siek nie....











No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive