Tuesday, June 08, 2010

Moslems en die mistiek. Oor die mistagogie (4).

Daar is groot verwydering tussen die Westerse wêreld en die Moslem-wêreld. Dwarsoor ons aardbol sien ons hoe Moslems voorgestel word as mense wat simpatiek teenoor terrorisme en geweld is.

Terwyl ek hierdie groeiende verwydering sien, dink ek aan die boek van die Nobelpryswenner, Orhan Parmuk met die titel, The Black Book, wat ek verlede jaar gelees het. Dit is ‘n merkwaardige boek, nie net oor die formidabele skryfstyl nie, maar ook oor die intellektuele digtheid daarvan. Maar wat my die meeste getref het, was hoe die boek deurtrek was van Sufi mistiek, waarvan Rumi die bekendste verteenwoordiger was. Die boek handel oor iemand wat op ‘n dag ontdek sy vrou en ‘n half-broer is weg. Die boek gaan oor sy soektog na haar – maar dit is eintlik ‘n soektog wat die verlange simboliseer na Verligting. En hierdie verligting beteken onder andere dat ‘n mens jouself moet prysgee, dat die leerling sy eie identiteit moet opgee en soos die leermeester moet word.

Dit is ‘n vreemde ervaring om ‘n boek te lees wat op so ‘n konkrete manier oor Rumi en oor die Sufi-mistiek skryf.

Daarom lees ek onlangs met groot belangstelling Waaijman se weergawe van die mistiek waarvan die Sufi-beweging ‘n deel was:

In ‘n Moslem-konteks waar die Ou Testament ook, saam met die Koran, deel is van die heilige geskrifte, was die profete gesien as mense wat die volk van hul dwaalweë terugbring. Dit is, vir hulle, ook waarom Mohammed die Koran geskryf het. Die profeet wys die sjari`ah aan, die weg waarop mense gelei word in die aanbidding van God en in hul daaglikse lewe. Maar daar is ‘n nog smaller pad wat gelowiges kan loop. Dit is die tariqah ¬waarop God ‘n mens roep tot meer radikale gehoorsaamheid en toewyding. Iemand wat die tariqah bewandel ontdek sy of haar totale afhanklikheid van God. Sulke spesiaal toegewyde pelgrims sou ‘n mens dan onder andere vind in die beroemde Sufi bewegings.

As ‘n mens die pad van volmaaktheid loop, het jy ‘n geestelike begeleier nodig – soms ‘n sjeik of ‘n pir genoem. Waaijman noem die voorbeeld van ‘n Sufi wat gesê het: “Iemand wat nie ‘n begeleier het nie word deur Satan begelei.” Hierdie persoon begelei die mens op ‘n reis wat van alle kante bedreig word deur bose geeste, mense en die wêreld, maar ook deur die mens se selfsugtigheid. Die grootste van hierdie gevare is egosentrisme, want dit lei tot allerhande gedagtes, gevoelens en optredes wat net op jouself gerig is. Om van hierdie egosentrisme bewaar te bly, moet ‘n mens gedurig ingestel wees op God se stille teenwoordigheid. En die sjeik is dan ‘n gawe van God wat ‘n mens ondersteun op die geestelike reis om die gevare te herken en om verlig te word deur die goddelike teenwoordigheid.

Die sjeik as geestelike begeleier moet self iemand wees wat in die goddelike wêreld van lig leef en wat afgesterf het aan eie belang en goddelose lewensvorme. Hy leef in God se teenwoordigheid en uit God se ontferming. Omdat God in sy lewe is en goddelike ontferming in hom woon, is hy iemand wat moed het, rein is, kennis soek, ontferming bewys, rustig is en eerbied betoon, aldus Waaijman. Die sjeik is deur God getransformeer en kan sy geestelike begeleiding rig op sy volgeling se totale transformasie. Hy streef daarna om sy volgeling van egosentrisme te bevry en op God te rig. En die volgeling wat vir die sjeik gekies het, wys daarmee sy nederigheid. Hy het sy self-trots opgegee en volg iemand anders, nie homself nie. Hy as volgeling laat al sy eie begeertes vaar. Daarom sal ‘n volgeling van ‘n sjeik begin met ‘n 40 dae tyd van afsondering (chilla). Deur hierdie afsondering ontstaan ‘n nuwe verhouding tot die Ander – tot God en tot homself. Daarna volg ‘n verdere verdieping in die reis: “‘n jaar se diens ten behoewe van ander, ‘n jaar se diens gerig op God en ‘n jaar se waak oor jou eie hart” – sê S. Maneri.

As alles dan in plek is, volg die mistieke weg waarop die volgeling homself onvoorwaardelik aan God oorgee. Dan gee so iemand alles op – besittings, familie-bande en alle belange, maar hy gee ook homself op in gebed, offerande, berou en aanbidding. Die sjeik loop hierdie heel besondere pad met die volgeling en begelei hom in enige iets wat oor sy pad kom – sukses en mislukking, welsyn en armoede, twyfel en helderheid, pyn en vreugde, hoop en angs, liefde en haat. Daarom is die sjeik en die volgeling fyn ingestel op mekaar en let die sjeik op die eie behoeftes van sy volgeling. ‘n Mens, glo die Sufi’s, moet dus ten alle koste ‘n mistagoog hê, iemand wat jou geestelik kan begelei. Jy sal so iemand nie maklik kry nie, maar jy moet soek totdat jy iemand spesiaal vir jou raakloop.

Ek lees hierdie beskrywing en wonder hoeveel mense is bewus van hierdie kant van die geestelike reis van Moslem-gelowiges. En ek wonder, nogal heel veel in die laaste tyd, hoe mense sal reageer as hulle hierdie inligting lees. Ek wonder nogal sterk...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive