Dit is in sulke worstel-tye dat ‘n mens na iemand anders gaan om “raad” wat betref jou geestelike lewe. En hierdie uitreik na ander word gebore uit ‘n mens se verlange om ‘n dieper verhouding met God.
In alle vorme van mistagogie of geestelike begeleiding kan ‘n mens ‘n sekere basiese patroon met verkillende dimensies herken, soos uitgewys in ‘n vorige blog. Maar die patroon het ‘n sekere sentrale fokus. Dit gaan naamlik daarin om iemand wat begelei word in sy of haar verhouding tot God. Wanneer ‘n gelowige iemand vir geestelike begeleiding nader, staan daardie persoon se verhouding tot God sentraal.
In die mistagogie staan die soeker in die sentrum. Hy of sy is die een wat om hulp, om begeleiding, om ondersteuning vra – maar altyd omdat hy of sy op soek is na God en verlang om te groei in sy of haar verhouding met God.
Die soeker vra dieper vrae – soos byvoorbeeld wat God vir hom of haar wil sê. ‘n Gelowige wil graag weet wat God wil kommunikeer. Maar die soeker wil ook weet hoe om op God se wil vir sy of haar lewe te reageer, hoe om steeds weer nader aan God te kom en hoe om die hierdie verhouding prakties uit te leef.
‘n Mens, skryf Waaijman, kan hierdie sentrale fokus in die mistagogie op baie ander maniere formuleer:
- Dit gaan om God se “roeping” hoor en hoe om in geloof daarop te reageer.
- Dit gaan om na die Woord van God te luister: nie net na die uiterlike woorde nie, maar ook in die innerlike woord in ‘n mens se hart.
- Dit gaan om ‘n ruimte vir die Heilige Gees waarin ‘n mens kan leef en werk.
- Dit gaan om God se woord in die daaglikse lewe en hoe om gelowig daarop reageer.
- Dit gaan om ‘n mens se verhouding tot God te laat groei, te laat verdiep en intenser te laat word. Die gelowige besef hoe hierdie verhouding gegrond is en na vore kom in Christelike verhoudings en in groeiende self-aanvaarding.
- Dit gaan om die teenwoordigheid en werking van God se liefde in iemand se lewe.
- Dit gaan om ‘n mens se daaglikse ervaringe te verbind met die dieper dinge, met godsdiens en met geloof.
Maar wat beteken dit alles nou konkreet en hoe word hierdie begeleiding prakties gedoen?
Mense heg baie waarde aan Bybellees, gebed, stilte en afsondering om meer helderheid in hul verhouding tot God. Dieselfde geestelike oefeninge kan ook in die mistagogie gebruik word: Wanneer ‘n mens met iemand oor sy of haar verhouding met God gaan praat, maak dit sin om eers in gebed stil te raak. Net so kan ‘n mens ‘n geestelike gesprek met gebed eindig. Maar, sou ‘n mens kon vra, waarom kan ‘n mens nie tydens die geestelike gesprek soms oorgaan tot gebed nie? Daarna kan die gesprek weer voortgesit kan word. Die gespreksgenote kan soms in uitdagende en moeilike oomblikke, of wanneer besondere wysheid nodig is, ‘n besondere behoefte om gebed ontwikkel. Geestelike begeleiding hoef nie altyd uit ‘n gepratery te bestaan nie. Soms kan die gespreksgenote sinvol in stilte bymekaar wees, of eers ‘n gedeelte uit die Bybel saam lees. Al hierdie dinge beklemtoon dat die gesprek steeds weer om God gaan. Die soeker verlang om God te hoor, om na God te luister, om God te volg en om god in liefde te dien. Dit is die begin en einde van mistagogie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.