Ek lees ‘n artikel (“Healing the Butterfly: Reflections on the Relationship between psychotherapy/counselling and Christian spiritual direction” van Peter Tyler in Vinayasadhana. Journal of Pscyho-Spiritual Formation) wat oor mistagogie handel. Die skrywer onderskei tussen Geestelike begeleiding, berading en psigo-terapie. Geestelike begeleiding soek die groei en transformasie van die pelgrim. Die pelgrim soek ‘n geestelike begeleier in wie hy of sy baie vertroue het, vrywillig op met spesifieke versoeke waarop die begeleier dan reageer. In ‘n veilige ruimte word die gesprek met die pelgrim op ‘n sagte, goedgesinde manier gevoer. Anders as in terapie, word geestelike begeleiding nie op ‘n spesifieke tema gefokus en sommer net afgesluit nie. Dit kan oor ‘n lang tydperk plaasvind. En anders as in terapie, gaan dit in geestelike begeleiding om sulke sake soos geestelike groei, gebed en ‘n geloofsgemeenskap waarvan die pelgrim deel uitmaak.
Wat my bybly van die artikel, is die opmerkings oor die dinge waarna ‘n mens as pelgrim verlang. Ons wil graag almal ‘n opwindende, gelukkige lewe hê. Soms ervaar ons intuïtief ‘n besondere visie vir ons lewe. Dit is ‘n pad wat lyk of dit vir ons geluk en opwinding kan bring. En tog – as ons daarna verdere besluite moet neem, bring dit nie vir ons altyd die geluk wat ons soek nie en word die innerlike vrede wat ons ervaar het, van ons weggeneem.
Tyler skryf: Iemand kan soek na ‘n geestelike lewe vol opwinding en geluk, maar só ‘n lewe kan destruktief wees.
Ons, skryf iemand soos Ignatius van Lojola in sy geestelike oefeninge, kan dikwels ‘n besondere geestelike ervaring hê. Dit oorweldig ons en ons voel dit lei ons om sekere besluite te neem. Maar as ons dan daardie besluite begin neem, begin dinge verkeerd loop en oorval onsekerheid en ongelukkigheid ons.
Daar is, volgens baie van die bekende mistagoë, ‘n belangrike reël om te onthou: ons moet ons besondere geestelike ervaringe altyd meet aan die gevolge daarvan. Oplossings van ons probleme wat ons nie regtig ‘n gevoel van vrede en vervulling gee nie, is nie regtig oplossings nie. As ons geestelike ervaringe, hoe opwindende hulle ook al mag wees, vir ons na groter onvrede en onvergenoegdheid lei, is dit tyd dat ons baie diep daaroor nadink.
En tog, aan die ander kant, moet ons ook versigtig wees om geduld te beoefen. Ons het ‘n aanvoeling dat ons geestelike reis in ‘n sekere rigting moet loop. Dit is nie atlyd duidelik hoe dit moet gebeur nie. In sulke tye van vertwyfeling, moet ‘n mens rustig bly. Ons moet vashou aan wat ons as God se wil vir ons lewe aanvoel, maar ons moet tyd toelaat om te ervaar hoe dit moet gebeur. As daar dinge in ons lewe inkom wat ons nie laat groei nie, is dit tyd om stil te raak en opnuut weer na te dink (discernment/ onderskeiding) oor hoe die pad vorentoe moet loop.
Juis in so ‘n situasie kan ‘n geestelike begeleier, ‘n mistagoog, ‘n deurslaggewende rol speel!
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.