Thursday, June 03, 2010

Om saam met ander die geestelike reis af te lê. Oor geestelike begeleiding en mistagogie

Geestelike begeleiding is die hart van pastoral werk. Maar eintlik is dit ook deel van elke gelowige se lewensreis. Nie net die pastor nie, maar elkeen wat God lief het, loop ‘n reis van sielsgenootskap en vriendskap met ander gelowiges.

Die woord "spirituele begeleiding" kan moeilik wees en allerhande misverstande veroorsaak: Om te begelei, sou vir sommige kon beteken dat die een wat begelei in ‘n bevoorregte, direktiewe, “beter” posisie is as die een wat begelei word. En dit is nie regtig die bedoeling nie. In spirituele begeleiding is daar nie beterweters, slimmes en mense in beheer nie.

Geestelike begeleiding moet nie met ‘n intellektuele oefening verwar word nie. Dit beteken nie om "kennis" oor te dra nie. Dit gaan nie bloot om kognitiewe inhoude nie. Dit beteken juis nie om kitsantwoorde en voorskrifte op ander af te laai nie. In ‘n baie breë sin van die woord sou ‘n mens kon sê dat die geestelike begeleier is iemand wat ‘n bepaalde ervaring wat plaasgevind het, deursigtig maak. Die verstand werk dus mee, maar dit gaan in geestelike begeleiding lank nie meer om verstandelike dinge nie. (Gelukkig tog. En tot verligting van baie van ons wat weet hoe nerfdun die voordeel van verstandelikheid in geestelike begeleiding kan wees). 'n Mens kan 'n wonderlike mistagoog wees sonder dat jy 'n enkele akademiese kwalifikasie het.

Deesdae word die woord “mistagogie” veral vir geestelike begeleiding gebruik. En dit was onder andere die gevolg van die groot invloed van Karl Rahner wat daaroor belangrike dinge geskryf het. Maar dit is veral in spiritualiteit dat die woord ‘n belangrike plek ingeneem het. Dit word dan veral met geestelike begeleiding verbind.

Waaijman haal ‘n uitspraak aan van Plattig: Dikwels het mense in hul lewensreis bepaalde ervaringe wat vir hulle oorweldig en oor hulle uitgestort word. In mistagogie word die mens gehelp om die verborge teenwoordigheid van die onverklaarbare God en die werk van die Heilige Gees in hulle lewenservaringe te herken. Hulle ontdek God as die transendente oorsprong en grond, as die horison en die doel van hulle lewensgeskiedenis - en dan nie net van die mens nie, maar ook die doel van die wêreldgeskiedenis. In die mistagogie daan dit om ‘n geloofsproses: deur ervaring ontdek die mens hoe God toelaat dat die mensdom God beleef en hoe ons ervaring eintlik gaan om ons verlossing.

Hierdie deftige uitspraak verdien om op baie maniere uitgepluis te word – maar dit bly vir my ‘n pragtige algemene raamwerk waarin ‘n mens oor die mistagogie nadink.

Mistagogie bestaan uit twee woorde (mistiek en agein) wat beteken dat ‘n mens in die "verborge" "begelei" of eintlik "ingelei" word. Dit is ‘n inlywing in die verborgenheid van dinge wat ‘n mens op die oog af nie sommer verstaan nie. Dit is iets wat eintlik alleen vir die geloofsoog sigbaar is, wat net vanuit 'n geloofsperspektief raakgesien kan word.


Dikwels kyk mense op hul ervarings vas en is so vasgevang daarin dat hulle nie perspektief daarop het nie. Hulle word ingeperk en benoud gemaak deur wat met hulle gebeur. Dit is donker om hulle. Hulle verstaan nie. Hulle is ontnugter, verdwaasd en gedisorienteerd.

Dit is juis hier waar die mistagoog inkom en ‘n pad van verligting saamstap.

Die geesgenoot, sielsvriend, geestelike begeleier is iemand wat met ‘n mede-reisiger saamstap om met afwagting en met verwagting oop te wees vir die verborge werking van God in hul lewe. Die sielsvriend lei iemand in in God se genadige self-kommunikasie, soos Waaijman dit formuleer. Hulle ontdek hulle unieke roeping. Saam ontdek hulle, luister hulle vanwaar God praat en roep. sien hulle waarheen God met hulle in die verwarring en ontluistering aan die beweeg is.

Hieroor wil ek meer nadink.

Die mistagogie is ‘n boeiende geestelike avontuur. Die pastoraat is nie, ervaar ‘n mens hier, die sleep van huis tot huis om huisbesoek te doen aan mense wie se harte gebroke en verwond is nie.

Dit is die groot avontuur om saam met iemand oop te wees om God se werking raak te sien in hul lewe, om die Onbegryplike as ‘n werklikheid van die goddelike teenwoordigheid te ervaar. Om die pad met iemand te loop, is om saam met daardie persoon blootgestel te word aan die verborge werking van God in mense se lewens. Kyk, ontdek en ervaar die sielsvriende saam: by God het alles begin! Sien: God is die diepste grond vir geestelike ervaringe. Let op: hier is iets aan die gang in jou geestelike reis wat van buite vir jou geskenk word. As iets met jou gebeur, is God iewers op die toneel aan die werk. As dinge in jou lewe loskom, is jy op pad na God met al jou ervaringe. En in ons wêreld is God ook die begin van alles, die diepste grond van alles, teenwoordig in alles – en ons wêreld is op reis na God toe.

Dit is nie maklike antwoorde asof ‘n mens God om elke hoek en draai sal kan uitwys nie. Dit is werklik ‘n reis, soekende, tastende, vraende, na God se verborge saam-wees te midde van die woelighede van onsekerheid en pyn. Dit kan self ‘n pynlike, reinigende proses wees.

Die sielsvriend is diep ingetrek in die avontuur van iemand wat ingelei word in die ontdekking van God se verborge werking in sy of haar lewe. Die mistagoog staan nie op die kantlyn as ‘n afrigter nie.

Wat ‘n mstieke perspektief! Die sleepvoetende huisbesoek en pastorale werk word nou ‘n soek-tog, ‘n herkenningstog na waar om die verborge wysheid, die verkwikkende teenwoordigheid van God raak te sien.

Dit vra hoe om agter te kom waarheen God my en die wêreld wil neem! Die mistagoog is daarom die oratiewe sielsvriend – gedurig besig om na God te vra.

Dit is maar net ‘n paar eerste gedagtes. Daar is baie rykdom te vind in die geestelike reis wat ‘n mens kan ontdek deur te kyk na hoe mistogoë deur die eeue heen sielsvriende was.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive