Wednesday, June 30, 2010

Wie is ek? Die geestelike soeker se innerlike reis... Oor die mistagogie (10).

Die stukkie oor Moody en die skaapwagter wat sy skape aan hul gebreke herken (sien ‘n vorige blog), het uitgeloop op die stelling dat ‘n mens op ‘n punt moet kom dat jy op jou geestelike reis vra dat jou gebreke en swakhede aan jou uitgewys word.

Jy moet dit gaan vra!

Dit is nogal ‘n ding wat by my knaag: ons is dan so goed in ons eie oë. Hoe sou ons dan ooit dan wou toegee dat ons ‘n gebrek het? Wat nog van om ‘n ander mens te gaan vra om sulke gebreke vir ons uit te wys.

Dit vra moed om jou vir kritiek en ondersoek oop te stel.

Of dalk is daar iets diepers waaraan ‘n mens hier aandag moet gee. Want hier gaan die naamlik oor die innerlike van die mens wat op die geestelike reis gaan hulp vra.

Ons geestelike reis laat ons nooit koud nie. Daar kom ‘n oomblik dat ons tot in ons lyf toe weet ons het 'n verborge ervaring beleef. In ons binneste is ons deur iets geraak. Ons lewe word iewers op ‘n manier tot stilstand gebring. Ons lewenspatroon word onderbreek. Ons hart klop anders. Ons liggaam bring ons tot stilstand. Ons stotter, of wil dankbaar sing, of wil huil van vreugde of swel van trots of ons kyk bloot net anders as tevore na dinge. Alles wat ons gewoonlik wil doen, word bietjie minder belangrik. Alles wat ons altyd beplan het, kry vir ons ‘n ander status of word maar bietjie valerig. Ons ontmoeting gee vir ons ‘n gevoel dat God ons aangeraak het. Ons ontdek ongewone emosies in ons. Ons gevoelens kan ons nie begryp nie. Of ons voel getroos. Dit is asof ons nuwe lewe wil ontdek, nuwe rigting wil inslaan.

Dit is dan die onverklaarbare, onbegryplike wonder van God se aanraking – daardie oomblik dat God die inisiatief uit jou hande neem en saam met jou ‘n nuwe koers inslaan. Daar vind iets plaas met jou...

Dit hoef nie ‘n verskriklike ommekeer te wees nie, soos van Paulus op pad Damaskus toe nie. Dit kan stilweg gebeur. Dit kan gebeur wanneer ek verwonderd of geboeid hoor hoe iemand oor God praat – dit word ‘n praat wat in my hart in sny en nuwe lewe plant. Dit kan op ‘n beskamende manier gebeur wanneer ek iemand seer maak en myself herken as ‘n mens wat ander vertrap. Ek besef ek ek wil nie meer so wees nie. God, voel ek aan, wys vir my ‘n ander weg. Of dit gebeur in die seerste oomblikke van pyn wanneer ek nie meer verder kan nie. God kom lê ‘n genesende hand op my wonde. Die balsem van Gilead salf my brandende wonde. En dan kyk ek na myself en dink – hoe het ek tog ooit kon dink dat ek deur my pyn sou kon leef – en hier gebeur dit tog.

Wanneer God op een of ander manier, groots of sagweg, in my lewe werk, raak dit my innerlike lewe onherroeplik en onvermydelik. Ek moet omdraai en nuwe koes inslaan.

Dit is dan ‘n goeie tyd om saam met een van God se kinders jou geestelike reis af te lê, want die koers is nie altyd so duidelik uitgewys nie.

Dan deel ‘n mens jou innerlike: Ek kyk met nuwe oë – na myself. Ek wonder oor dinge wat met my gebeur en veral nou moet gebeur.

Dit alles fokus op self-ondersoek. Dit wys op die verhouding wat iemand met hom- of haarself het. ‘n Mens kyk met oop, versigtige oë na jouself. Jy ondersoek jou hart. Maar steeds weer sodat jy ‘n rein hart kan kry. En jy ontbloot jou innerlike sodat jy oop kan wees vir God se werking in jou lewe.

So dikwels ondersoek ons ons binneste asof ons na ons naeltjie lê en kyk. Navel-gazing, noem die eilanders dit. Sommige boer-mense praat in die laaste paar jare bietjie meer reguit van ons eindelose uitryg van derms. Ons trek en ons bly trek aan die derm net om die trekkery ontwil. Jy sit by die sielkundige en die terapeut en loop al in 'n kring om jouself. Oor en oor en oor. En as jy aan die einde kom, begin alles weer van voor af. Derms uitryg.

Maar in geestelike begeleiding, in die mistagogiese reis, is dit anders. Die begeleier sal steeds weer die verinnerliking saam met jou beleef. "Wat sê jou hart?" Maar die punt lê nog dieper: "Wat sê jou hart oor God se plek in jou lewe? Wat sê jou hart? Wat sê jou hart oor God se plek in jou pyn? Wat sê jou hart: waarheen is jy nou op pad in jou geestelike reis?"

"Hoe klop jou hart nou? Vir God?"

God raak ons aan tot in die diepste kamers van ons innerlike lewe. Dit roer ons en bring ons tot self-ondersoek. Ons ontbloot onsself voor God. En tastend moet ons dan verder. Die een wat saamstap leer my om hart oop te maak, sodat daar vir God in daardie oop plek meer ruimte is om in te woon.
Is dit dan so ‘n groot probleen om na ‘n geestelike moeder of vader te gaan en te vra dat jou tekortkominge aan jou uitgewys word?

Jy vra nie: vertel my tog hoe ek al my foutjies kan ontdek en uitskakel sodat ek nog beter kan wees nie.

Jy vra: wys my daardie dinge in my lewe wat ek nie van weet nie, of nie van wil weet nie, wat my in my geestelike reis na God terughou. Jy vra: help my om alles uit te roei wat my moontlik van God af kan weghou. Daardie splinter, die balk wat ek te blind is om te herken, te hardvogtig is om aan te voel, te trots is om toe te gee.

In die mistagogie is hierdie proses gerig op die mens wat geestelik begelei word se verhouding tot homself (Waaijman). Die soeker, die hulpbehoewende verlang om innerlik so suiwer te wees dat God ‘n volmaakte tuiste daar sal kan hê.

Wat God doen, resoneer met ons lyf, met ons liggaam, met ons siel. Alles in ons kom in beweging. Ons is nie meer in beheer nie. Om dus vorentoe te kan gaan - dit is die ding.

Ons geestelike reis gaan fundamenteel oor ons verhouding met onsself. Hier is self-kennis noodsaaklik. Dikwels kom self-kennis eers in sy volheid wanneer 'n mens 'n geestelike begeleier het om jou self saam met jou te bekyk, te beoordeel en te laat groei. ‘n Wyse mistagoog kan God se kragtige instrument tot heling, groei en volwassenheid wees.

Hoeveel is daar tog nie op die spel in die mistagogie nie! Ons weet dit intuitief. Tog sukkel ons om prakties deel te raak van die mistagogiese reis. En dit terwyl ons innerlike uitroep om geestelik begelei te word...



No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive