Cassianus het op ‘n stadium oor reinheid geskryf. Niemand by sy goeie sinne, skryf hy, sal heuning in ‘n vuil flessie gooi en dan wegbêre nie. So iets spesiaals en soets soos heuning gaan ‘n mens versigtig in ‘n goeie houer stoor sodat dit optimaal en veilig gestoor kan word om gereeld geniet te word. Daardie houer moet dus rein wees – anders gaan die heuning totaal bederf wees.
Die beeld kan ‘n mens op baie ander manier vertaal: ‘n boer wat wil saai, gaan eers die land ploeg, skoonmaak en voorberei vir die saad wat daarin gestrooi moet word.
Dit is die manier waarop ons die kosbare skat van die evangelie ons eie maak: ons berei onsself deeglik voor om dit te ontvang. In ons moet daar nie onsuiwerheid wees, blokkasies en hardheid nie.
Een manier om ons oop te maak vir God se stem op ons geestelike reis is om te streef na reinheid van hart. Die vers wat gewoonlik hiervoor gebruik word is Matteus 5:8: “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Om God te sien (!) in kontemplasie, vra van die mens om ontvanklik te wees. Dit beteken reinheid, suiwerheid in ‘n mens se innerlike.
In spiritualiteit word suiwering en reiniging verbind met die stryd teen alles wat ‘n mens se lewe besoedel, teen kwaad wat ‘n houvas in ‘n mens se lewe gekry het. Opvallend genoeg vra dit van ‘n mens heel eenvoudige dinge, waar onder ook deur liggaamlike oefeninge. Een hiervan is om met toewyding, met jou hele liggaam, gees en verstand jouself aan die lees van goddelike woorde oor te gee. ‘n Mens kan ook deur te vas jouself geestelik instel op die geestelike reis en jouself reinig van alles wat jou terughou op daardie pad. ‘n Mens kan in tye van afsondering gaan nadink oor wie jy is, waarheen jy op pad is en wat God van jou vra – en jou daarop instel en jou voorberei.
Neem nou byvoorbeeld vas – wat ‘n liggaamlike aksie is met diep geestelike betekenis. Vas hoef nie net dramaties te beteken dat ‘n mens vir ‘n tyd ophou eet nie, hoewel die soort van harde, radikale oefening wel tog ‘n belangrike oefening in spirituele tradisies was. Dit is opvallend, byvoorbeeld, hoe voor Islam is op Christene in hul dae lange vas met Ramadan.
Om te vas was en is ‘n manier om jou aandag weg te neem van al die daaglikse beslommernisse en jou hart vir God oop te maak. Terselfdertyd is dit om jou innerlik leeg te maak sodat God ‘n mens kan vul. Oor vas is wonderlike dinge geskryf, wat afsonderlik aandag vra.
Vir my beteken vas meer as net dramatiese dae van onthouding van voedsel. Dit kan op klein, alledaagse maniere deel van ons bestaan word: in ons tyd waarin materiële dinge so hoog gereken word en mense dink hulle kan geluk kry in uiterlike dinge, kan ons baie meer van vas maak in die sin dat ‘n mens sny op dit wat jy as normaal en vanselfsprekend aanvaar. Eerstens, en mees vanselfsprekend, kan ons inderdaad veel soberder eet en drink. Deur versigtig te sny op alles wat onnodig is, word vas ‘n deel van ‘n mens se leefstyl. Deur elke dag te kies teen oordaad, kom ‘n mens in die gewoonte om sober te leef. En dit kan na ‘n mens se hele lewe uitkring: Dit kan miskien beteken dat ‘n mens besluit om in ‘n eenvoudige motor te ry. Of dat jy langer aan jou klere dra. Op die manier word jou vas, jou eenvoudiger leefstyl, jou sny op luukses en uitspattighede, ‘n styd teen hoogmoed, afwyserigheid en uitstallerigheid. En dit word dan ‘n oefening in nederigheid, eenvoud en oopheid vir die Groter Dinge. Deur van al die onnodighede en groothede af te sien, kom daar dan in ons meer ruimte vir God, vir geestelike dinge, vir ander mense.
Dit vat nie veel, deesdae, in ons kultuur, om jou lewe vol te maak met allerhande luukshede, soetighede en oordadighede nie. As ‘n mens op ‘n staptoer gaan, het jy net die broodnodige by jou, want die rugsak mag nie te swaar wees nie. Maar ai, as jy dan na die dag se swoeg langs die wonderskone wandel-roete, langs die vuurtjie uitspan met die stomende koppie koffie en die eenvoudige boelie-bief brousel op die stukke ou brood, is dit koningskos. En vir baie dae daarna, selfs as jy die aand in ‘n grand restaurant sit en jou vol stop aan groot biefstukke, praat ‘n mens nog oor daardie staptog – oor die skoonheid daarvan. En dit doen ‘n mens omdat dit so ‘n spesiale geestelike ervaring was.
Des te meer op die geestelike reis: al die bravado’s, die slimmighede, die uitstallerige lewens van ons gepronk, lyk so onvervullend en so leeg langs die eenvoud van nederigheid, ontferming, omgee en liefde van hulle wat God se pad loop. Moeder Theresa of die president van Amerika?
Om gestroop te word, om gereinig te word van alles wat ‘n mens se siel uitverkoop! Dit is die uitdaging. Dit is die reines van hart wat God sal sien. Dit is hulle wat die oordaad afgesweer het wat sal ontdek hoe soet, so soet die heuning van God is.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.