Saturday, June 19, 2010

Die kerk wat nooit vergaan nie. Oor spiritualteit in 'n nuwe tyd

Dis weer ‘n Sondag-na-kerk-katkisante groep– die oggend dat die predikant die twintigtal jong skoolkinders in die oë kyk en weet hulle is deel van die inlywingskultuur wat ons aller lot is. Op so ‘n dag is dit maar altyd weer ‘n ding om mekaar oor die Bybel te bekyk. Daar is immers baie ander dinge wat kinders meer interesseer, besig hou en rondjaag. En om nou hierdie boek van eeue gelede in hulle wêreld in te dra? Hoe om die ou tyding nuut en fris aan te bied?

Daar is iets moois aan tradisies: dit bring rykdom, afronding, nuwe lewe, tevredenheid. Om gedoop te word, skool toe te gaan, die eerste sportwedstryd, die eerste sakgeld, hoërskool toe, Sondagskool toe en ‘n honderd ander gebruike. Die kinders self, hoe nonchalant en onbetrokke hulle ook al mag wees, wil iewers daardeur gaan en dit beleef – saam met hulle ouers, familie en vriende. Dit is hoe hulle deel word en behoort aan ‘n kring van veiligheid. Die kinders weet intuitief hoe belangrik tradisies is.

Die probleem, lyk dit vir ons dikwels, is wanneer die tradisies vir ons ‘n leefstyl wil voorsê wat vir ons onredelik wêreldvreemd lyk. Toe ‘n gemeente of twee informele kleredrag toegelaat het, het die kerk op groot skaal in ‘n kort tydjie volgepak gesit met mense in jeans en t-hemde. Pakke, dasse, hoede en de lot het oornag verdwyn. Ons speel deesdae CD’s in die kerk. Ons pas die liturgie vernuwend aan. In sommige kerke is daar nie meer orrels nie. In ons nuwe bedeling is daar tradisionele dienste, eksperimentele dienste, meditatiewe dienste, informele dienste, wyksdienste, gonsgroepies, omgee-groepe. Wat vir ‘n vroeëre geslag noodsaaklik was, was vir ‘n volgende geslag onbenullig.

Tradisies is mooi. Gesifte, getoetste tradisies is nog beter. En nuwe tradisies bring nuwe lewe. Dit, redeneer ons al jare, is die kerk tog – ‘n reformerende kerk: behou die goeie in die ou dinge en beleef dit nuut.

Die kerk leef saam met die tye.

Watter mistagogiese proses tog vind daar nie in kategese plaas nie. Dit is die tyd om die jong kinders aan die erfgoed van die kerk bekend te stel sodat hulle dit sinvol vind en boonop dalk ook net kan geniet. Die kerk doen baie, baie moeite hiermee – en tereg ook.

Maar dit bring my terug by my begin-storie:

En dit is nie altyd maklik nie. Baie hang af van die verhouding tussen kategeet en die kinders. Daar moet ‘n wedersydse begrip, respek en toeganklikheid wees.

Dis “kool,” het die nuwe predikant die Sondagoggend tydens die kategese-klas gedink, om homself vir die kinders heel aan die begin voor te stel as: “Ek is Kosie en ek hou baie van rooi wyn.”

Kool, het hy gedink het die kinders gedink, dankie tog ons het nie ‘n oude-doos dominee nie. Hy hou van sy wyntjie. En dit was sy manier om "nuut" en ontradisioneel te wees.

Om te dink: Dít was die begin van sy geestelike reis met die kinders.

Ek het nogal dikwels oor hierdie verhaal nagedink. Veral omdat ‘n mens so dikwels afkom op debatte oor die modernisering van die kerk en oor ‘n kerk wat wêreldvreemd is. Sulke tye is verby, word dikwels gesê. Ek dink byvoorbeeld aan Bonhoeffer se kritiek op die skeiding tussen kerk en wêreld en aan Guiterrez wat onderstreep het dat die ou onderskeid tussen die kerk as persoonlike ruimte vir vroomheid en ‘n onbekeerde, onderdrukkende wêreld onherroeplik verby is. Die kerk moet die wêreld in, in die wêreld leef en getuig en nie wêreldvreemd leef nie.

Ons is dus in 'n nuwe tyd van nuut kerk-wees.

En ‘n mens sien dit heel konkreet in allerhande bedieningstrategieë.

Maar wanneer word die grense oorgesteek van ‘n gesprek met ander oor geloof binne die wêreld waarin ons leef na ‘n verlies van eie identiteit? Wanneer word die kerk so deel van sy omgewing dat 'n mens nie meer die verskil kan uitwys nie?

Kyk maar na sekere bedieningstruuks. Ek sien op die internet ‘n video van ‘n predikant wat “kool” met ‘n motorfiets in die kerk inry. (En ongelukkig teen die muur vasjaag) – sien

http://comedy.com/2008/07/28/proof-that-jesus-has-a-sense-of-humor

In die kerklike kultuur kom daar skynbaar onskuldige nuwe dinge in: ‘n Getroue gemeente-lid wat deel is van ‘n gemeente waar dinge “nuut” gedoen word en waar jaarliks dus ‘n groot wynverkoping gehou word, (die gemeente is tog nou vir ‘n gesonde wynkultuur), hardloop rond vir skenkings goeie drank van goeie landgoedere. Oral waar hy kom, vertel hy vir vriende dat hy vir sy kerk se verkoping skenkings van goeie drank soek. (En dan - hartverskeurend die angel: hy doen dit terwyl hy en sy gesinslewe verwoes word deur sy alkoholisme waarvan net hulle weet en wat hulle wegsteek vir almal om hulle).

Of, ‘n gemeente wat toevallig eiendom besit wat skielik waardevol word en dit toe verkoop sodat dit miljoene rande inbring. En die geld op die aandele-beurs belê terwyl die buurgemeente nie meer hulle predikant kan betaal nie. Kool, hierdie besigheidssin van die kerk. Die kerk doen dinge anders en wil soos ‘n besigheid bedryf word.

Of, die geestelike leier wat in ‘n byeenkoms nogal met trots vertel hoe hy sonder skroom sy taal met vloeke en kru-hede peper. Dis mos tog hoe mense praat.... As hy, redeneer hy, soos 'n gewone mens praat, sal mense hom ernstiger opneem en hom nie as 'n verstokte wêreldvreemde predikant afskryf nie.

Kool. “Ek is een van hulle.”

Ons leef in ‘n kool-kultuur. Dis doodsonde om deesdae uit die oude doos te wees.

Dikwels word spiritualiteit ook as ‘n kool beweging beskou. Ons neem afskeid van die ou dinge en doen dinge nou “anders.” Ons is nou vryer, "geestelik" teenoor die outydse teologiese, dogmaties manier van dinge doen.

Spiritualiteit beteken inderdaad dat ‘n mens telkens deur jou verhouding met God voor nuwe uitdagings in jou lewe te staan kom. Nuut dink in nuwe tye! Spiritualiteit het ‘n besondere sterk kontekstuele karakter. Kyk maar net hoe sterf kloostergemeenskappe, so sterk en massa-groot in die vorige eeu, nou op groot skaal uit. Sulke vorme van spiritualiteit werk in ons tyd net nie meer nie. Mense beleef hul geestelike reis op totaal ander maniere.

Maar, steeds en altyd, word die kontekstuele karakter van spiritualiteit bedink in die lig van die geestelike pad wat mense deur die eeue heen geloop het. Dit is ‘n wesenskenmerk van spiritualiteit dt daar gedurig ‘n gesprek aan die gang is met die geestelike skatte van die kerk.

Dit is ‘n ragfyn balans tussen kontinuïteit en diskontinuïteit, tussen die ou-ou tyding en die nuwe tye, tussen by mense wees, hulle saam met jou neem, maar ook iewers vir hulle lei, stuur en weghou aan die hand van die geestelike erfgoed wat oor eeue heen sy waarde uitgewys het...

Dink maar aan die radikale woorde van Jesus aan sy tydgenote, die kerkleiers, die Fariseërs en skrifgeleerdes: Julle wat so vroom is, julle het “nuwe” dinge, jul “tradisies” op die wet as God se wil afgelaai. Julle het allerhande draaie bedink om ‘n ompaadjie te kry wat julle verby die eise van die wet sal neem. Maar, “Ek sê vir julle...” Die wet vra van julle om nie te begeer nie, nie te skei nie, nie ongevoelig te wees nie. Net die blote kyk na ‘n vrou is al verkeerd. Net die woedende gedagte is al moord, net die onvergewensgesinde houding is al lastering. Julle is te “kool”, te akkomoderend, te deel van ‘n kultuur, te ver van God se radikale eenvoudige wil. Julle byvoegsels van die wet is menslike aanhangsels, uitgedink om te akkommodeer.

Jesus het agter al die nuwe dinge van sy tydgenote teruggegryp na die eerste, duidelike, veeleisende wet van die Here – lank terug aan Moses gegee, uit die oudste van die ou geestelike bronne. En dit nog radikaler toegepas. Jesus se nuwe eis was dat God se eeu-oue wil absoluut gehoorsaam moet word.

‘n Mens betaal ‘n prys wanneer God met jou ‘n verhouding aanknoop.

Daardie kinders in die katkisasie-klas het hul wyndrinkende, vloekende, with-it predikant afstandelik aangekyk. Kinders het ‘n ingeboude antenna vir onegtheid. En kinders weet wanneer hulle ingedoen word. Hulle kan hul wêreldsheid met groter oorgawe onder hulle pelle en meelopers geniet. Daarvoor het hulle die kerk nie nodig nie.

Die enkele, begaafde mens kry dit goed om met ‘n kind in sy of haar taal op ‘n kool manier te kommunikeer. Maar meestal, maar meestal, is die kerk daar om iets mee te deel en veral uit te leef wat nêrens anders te vinde is nie.

Miskien, het ek al gewonder, verlaat mense juis die kerk oor al die nuwighede en mode-giere wat die kerk ingedra word.

En daar is niks of niemand so wispelturig soos mense wat ‘n kerk volpak omdat daar soveel opwindende dinge gebeur nie. Laat daar maar om die draai nuwe opwindender dinge gebeur, en die stroompie na die nuwer dinge om die draai word gou ‘n eksodus.

Kyk byvoorbeeld hierna (http://imagineyourself.ning.com/forum/topics/how-can-the-church-minister-to):

I personally think that it is important to point out that "contemporary worship" is not what our young people want. It almost always lacks substance and my friends and I are hardly willing to sacrifice "coolness" for substance. It doesn't matter if converts go down, because I'd rather have people in the church who are there for the content instead of how much fun they have singing rock songs. Besides, the average age of someone at a "contemporary service" is somewhere in the 50's or 60's in most churches across the country. The hippies need to get out of the way and realize that their time is up and the younger generation wants real worship. For our sake, restore the historic liturgy before it is too late.

Dit is 'n interessante opmerking wat, vermoed ek, in baie gevalle by ons ook geld. Al is dit waar dat 'n orkes in 'n gemeente net soveel tot 'n gees van aanbidding kan bydrae, is dit seker ook geldig dat dit ook kontra-produktief kan wees. Juis daarom is liturgiese vernuwing 'n groot en verantwoordelike taak. En tog - ek is nie so seker dat hierdie kommentaar heeltemal in die kol is nie. Mense woon in die ruimte van die kerk nie bloot net omdat daar “inhoude” is in die sin van “regte” dogma of “konserwatiewe” leerwaarhede nie.

Mense bly om 'n dieper rede in die kerk. Hulle sal baie van die kerk verduur. Baie foute en mislukkings. Wat tel is dat ‘n mens in die kerk God se teenwoordigheid ervaar – die mistieke verborgenheid van ‘n goddelike geborgenheid. Dan wil ‘n mens nie weet of die predikant van sy rooi wyntjie hou nie. En of die kerk se balansstaat mooi in die swart is oor al die aandele nie. Mense sit nie in die kerk oor die goeie wynveilings of die mooi orkes nie. Net so min sit mense in die kerk omdat vroue nog hoede dra of omdat hulle uit ‘n beker wyn drink of omdat daar so ‘n mooi orrel is of omdat evolusie afgeskiet word of ander mense verketter word nie.

Dis alles bysake.

Die kerk is die ruimte waar gelowiges God se aanraking wil voel, waar hulle saam met mede-pelgrims op reis is, waar daar gesoek word na God se wil. As die ou orreltjie maar krakerig speel, die predikant maar eenvoudig preek, die mense nie uitstallerig vir mekaar beïndruk of bespreek nie, die geldsakies darem nog klop, almal welkom is, is dit goed genoeg. Die hoofsaak, die gemeenskap van die gelowiges, dít is wat tel. Dié kerk, eenvoudig, sonder enige blink, op ‘n rots gebou en die plek waar God bly, sal nooit tot niet gaan nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive