Ek het vir my skrywes verlede week oor die mistagogie iewers raakgelees dat ‘n mens tydens jou geloofsreis begelei moet word om te soek na God se wil in al die donker dinge wat oor jou pad kom.
Natuurlik is dit nie, besef ek al hoe meer, dat jy daarmee sê dat God die donker dinge oor jou pad bring nie. Baie dikwels is dit jy self wat donkerte oor jou aftrek. Of soms word jy die een wat raakgeslaan en verniel word in ander mense se oorloë. Die kwaad in die wêreld wat ook jou tref, hoef nie na God herlei te word nie.
Maar 'n mens moet wel onderskei hoe wil God jou lei in die kwaad wat oor jou kom – van watter kant af ook al dit na jou toe uitgedeel word. As jy ly onder jou eie mislukkings of onder die wonde van ander mense se vuishoue, is die vraag: waar vind ek God in hierdie tyd?
Toe ek hieroor geskryf het, het ek besef, onmiddellik, dit is ‘n stuk geestelike dissipline wat van jou gevra word. Want meestal, as jy pyn het, gaan sit jy en kry jouself jammer daaroor. Jou visie verdof. Jy kyk vas in die donkerte. Die lewe kom tot ‘n stilstand en donkerte kan jou maklik beklem.
Dit is dan dat jy ‘n slagoffer word. En `n slagoffer wat vir hom- of haarself sit en jammer kry, help niemand nie. Nie vir mense om hom of haar nie - ook nie die slagoffer nie. Mense is jammer vir `n slagoffer. En jammerte is nie altyd `n goeie ding nie. Dit help veral nie die slagoffer nie.
Dit vra nogal van ‘n mens om in tye van seerkry verby jou seer te kyk en te vra waarheen God jou in daardie tyd wil neem. Dit verg 'n stuk dissipline om dit te kan doen.
Daar is nie een, duidelike antwoord nie. Daar is duisende moontlike antwoorde op die vraag na die pad wat God met ‘n mens wil loop in tye van seerkry.
Maar oor een ding is daar nie twyfel nie. In tye van seerkry wil God die een wat ly in die goddelike teenwoordigheid bring. Dit is juis die mistieke ervaring dat 'n mens in jou ervaar hoe jy in die donker na God se nabyheid wil gaan soek, daar waar ‘n mens veilig en geborge is. Dit is "bo-natuurlik", verby ons instinkte en menslike natuur dat ons hierdie goddelike oomblik het om verlangend te vra na die diepere, dit wat onder die oppervlakte skuil.
Die pad wat God met ‘n mens wil loop is die pad verby jou seerkry na die plek waar God by jou wil woon. Soms sal die blote wete dat God jou nie aan jou lot sal oorlaat daar waar jy langs die pad onder die rowers verval het nie, al klaar ‘n troos bring en ‘n mens vul met vrede. Net die gedagte dat ‘n mens verby die donker na die Lig kan soek, kan al genoeg wees. ‘n Mens weet nie waar dit gaan eindig nie, hoe lank die wonde sal neem om te genees nie, maar die vrede is daar dat God die pad met jou sal loop. En die geestelike dissipline kan dit by ‘n mens inskerp: om altyd weer, in daardie tye, die Verborgene te soek.
Dit tel jou kop op. Soekend vra jy dan, in hierdie donker tye, terwyl jy verby jou seerkry kyk, waar jy God sal vind. En dit is al ‘n groot stap vorentoe. Want om na God te soek, verby jou seer, is ‘n stuk relativering van dit wat jou verniel. Jy laat nie toe dat jy `n slagoffer van pyn word nie. Meer nog, jy leef uit die wete van die rus in die skadu van die Allerhoogste se vleuels.
Dawid, sê Psalm 57, moes, onverstaanbaar genoeg, vlug van Saul die een wat so naby aan hom was. Hy is tussen leeus, sing hy in vers 5, tussen mense wat hom wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde. Dan, nog altyd in die grot, bedreigd deur Saul, roep hy,
“Ek voel weer veilig, o God!
Ek wil ‘n lied sing, ja ek wil sing.
Ek wil vroeg opstaan, met harp en lied wil ek die rooidag wakker maak!”
En dit sing Dawid, benoud, in die donkerte van die grot terwyl hy wag op die Lig...
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.