Saturday, June 26, 2010

Hoe God naby aan ons kom. Oor die Boek Openbaring




Openbaring 1:1-3: 1Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.


Sommige mense huiwer nie om na ‘n riller-fliek te gaan kyk nie. Hulle sit die fliek deur, maar druk hulle oë toe wanneer daar dele is wat hulle té bang maak. Openbaring het dikwels dieselfde soort van invloed op mense. Hulle lees graag en getrou hulle Bybel. Maar vir Openbaring is hulle ‘n bietjie katvoet. Dit is ‘n boek wat hulle bang en ongemaklik maak. Daar is vir hulle te veel geweld en veroordeling in hierdie teks. Daarom lees hulle dit min of bly hulle eerder daarvan weg. Selfs ingeligte mense soos Luther het van Openbaring geskryf dat ‘n mens sy drome liewe in die Elbe moet smyt en Zwingli het vertel hoe min hy vir die boek voel. Dit is, het hy geskryf, tog nie ‘n bybelse boek nie.

Wat ‘n boek is Openbaring tog as ‘n mens eers na sy invloed op ons wêreld kyk: Mense in ekstreme nood het die boek naby aan hul hart gehou want deur die teks het God aan hul harte geraak: Bonhoeffer het dit gelees toe hy in die laaste dae van sy lewe in die tronk op sy teregstelling gewag het. Allan Boesak het in die donkerste dae van apartheid ‘n boek oor Openbaring geskryf wat wêreldwyd steeds weer gelees word. Selfs in die kunswêreld het die boek groot geeste besig gehou. Dürer het ‘n beroemde reeks van etse oor Openbaring gemaak. Handel se Messias, soos byvoorbeeld die Halleluja-koor en die aangrypende lied, Waardig is die Lam, is gebaseer op gedeeltes in Openbaring. En hoeveel mense is deur die eeue heen deur die musiek aangeraak, asof dit die draer was van hoop en inspirasie.

En hoeveel gewone gelowiges het deur die eeue heen troos gevind in die beelde van die hemelse stad, die goue strate, die trane wat opgedroog word.

Openbaring as ‘n boek vol visoene en drome, is nie uniek nie. Dit lyk baie soos die boek Daniël in die Ou Testament wat ook baie visioene vertel. Daarmee word al die verborgenhede oor God, die dieper betekenis van ons bestaan, onthul. Die hemel as die ruimte van God sny in op die wêreld as die ruimte van die mensdom.

Dwarsdeur die geskiedenis het die mensdom geglo dat daar meer is aan hierdie wêreld. Dinge kan nie hier ophou nie. Daar is meer aan die lewe as net om bloot te bestaan. Die kwaad wat onder mense aan die werk is, glo bybelskrywers, kan nie die finale woord sê of hê nie. In die wêreld van die mensdom is daar dus iets diepers vir die mens beskore. In hierdie boek, ervaar hulle, word daardie diepere dinge bekend gemaak en bedink: daar is dus hoop vir die wêreld. Daarom is Openbaring ‘n mistieke boek wat vir ons vertel wat agter die swaar sluier wat ons en God se wêrelde skei, gebeur.

Van die begin af is dit duidelik: hierdie onthulling, hierdie hoop op die dieper dinge, kom van Bo af, van buite die mens. Mense is geneig om mekaar uit te roei en om die hemelse lig in ons wêreld uit te doof. Ons kan die diepere dinge nie vanself ontdek nie. Ons het ‘n goddelike woord, van buite ons af, nodig om die verborge, hoopvolle dinge te kan ervaar.

Openbaring het so baie mense geïnspireer omdat dit ‘n boodskap wat ryk is aan hoop, vir mense onthul. Die eerste teken van hoop is in hierdie eerste vers te vind, naamlik, dat God self besig is om na die wêreld uit te reik. En die hoop is soveel sterker omdat dít is soos mense God leer ken het. Oral waar die lig van hoop uitgedoof is, het God telkens weer, getrou, vir mense weer opnuuut op hul geestelike reis die lig laat skyn. Die soekende, vraende mens wat op God wag, sal nie verniet bly vra en soek nie. Soos in die boek Daniël in die eerste testament, word ook hier, in die tyd van Jesus, God se wil vir mense bekend gemaak.

Hier kom ‘n profeet , die een wat God se woord bring, met beeldryke taal van hoop. Hier, deur die woord, kom God se lewegewende, transformerende aanraking. Dit is openbaring. Die verborgene word ‘n werklikheid. God kom in die wêreld in.

Die God van alle tye, in die ou bedeling en in die nuwe bedeling, skuif die gordyn weg om lig in ‘n ruimte van die soekers te laat skyn. Die mens en die wêreld word nie opgegee of alleen gelaat nie. God leef nie alleen nie, maar soek om deel te hê aan ons wêreld, daar te kom woon, alles in almal te wees. Dit is tyd vir die groot geheimenis van God se hart wat ‘n punt na die skepping trek.

Vanaf Openbaring se eerste vers, se eerste woorde, dus, gaan dit om ‘n transformerende verhouding tussen God en mens. Pure spiritualiteit.

Daarom is dit dalk tyd om ons vrese vir die boek, te besweer. Om te vra hoekom die boek dan soveel gelowiges geboei het.

'n Mens hoef nie lank te soek nie. Die eerste verse al vertel hoe vreemd 'n houding van vrees is. Hier reeds, is die leser aan die wonder, en, is die leser verwonderd oor die God wat soveel waag om uit te reik....




(Illustrasie: Ottenheinrich Bybel - die sewe kandelare. Mooi)

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive