Thursday, June 17, 2010

Geestelike begeleiding is 'n waagstuk. Oor heilige luister in die mistagogie (6)

Die geestelike leier en die een wat om geestelike begeleiding vra soek albei om God te dien, nie bloot om sekere probleme in hul lewe uit die weg te ruim nie.

Vir albei gaan hulle gesprek om ‘n verhouding met God - dit is in die eerste plek 'n geestelike ontmoeting.

En albei van hulle is saam verenig as kinders van dieselfde God. Hulle is geestelike broers en susters wat verbind is aan dieselfde Here. Wanneer hulle bymekaar is om God se wil vir hulle lewe te soek, is dit ‘n spesiale tyd vir hulle – hul deel heilige grond. Hulle word dus deur hulle geloof in God op 'n spesiale manier aan mekaar verbind - met al die mooi dinge en die verantwoordelikhede wat dit meebring.

Maar hoe lyk die verhouding van die geestelike begeleier met die een wat geestelike wysheid soek nou heel prakties?

Normaalweg het geestelike begeleiding te doen met ‘n persoon wat iemand opsoek wat hy of sy vertrou. Dit is een mens wat ‘n ander mens nader. Meestal is dit dus 'n individuele ervaring. Dit kan soms ook wees dat ‘n groep vir iemand begelei. In sommige moeilike omstandighede kan dit selfs nodig wees om iemand deel te maaak van ‘n groep wat die geestelike begeleiding oorneem. Dan word 'n mens deur verskillende persone uit 'n groep geestelik begelei.

Daar is een belangrike voorwaarde vir geestelike begeleiding: die verhouding tussen die begeleier en die begeleide mens moet wederkerig wees. Hulle is op mekaar ingestel en put uit hul ervaringe om met mekaar te kommunikeer. Die een het nie 'n houvas op die ander een nie. Hulle gee hulleself vir mekaar.

Maar terwyl hulle ‘n geestelike pad saam met mekaar loop en mekaar beter leer ken, kom daar rypheid en insig wat die gesprek en die begeleiding verder in ‘n rigting neem. ‘n Mens kan nooit die uiteinde van so ‘n geestelike begeleidingsproses vooruit bepaal nie. In die sin is die gesprek altyd oop en word dit deur die gang van sake bepaal.

Aan die een kant bestaan so 'n geestelike begeleiding uit heel eenvoudige sake: Die geestelike leier en die begeleide sal allerhande afsprake maak. Hulle kom ooreen oor eenvoudige dinge soos wanneer, hoe dikwels en waar hulle met mekaar sal gesels.

Daar is egter meer. ‘n Deurslaggewende voorwaarde vir geestelike begeleiding, skryf Waaijman, is wat gebeur wanneer die twee mense bymekaar is. Die begeleiding bestaan naamlik uit ‘n “heilige” luister. Die mistagoog moet eintlik op twee maniere luister. Hy of sy moet hoor wat vir hom of haar gesê word. Maar daar moet ook dieper geluister word na wat God vir die geestelike reis van die begeleide wil sê. Dit geld ook vir die begeleide mens: die een wat sy hart uitstort aan die ander moet bereid wees om dan te luister wat die begeleier vir hom antwoord. En hy of sy moet ook bereid wees om te luister wat God in daardie woorde vir hom of haar meedeel.

Heilige luister!

Luister is nie maar net 'n verstandelike ding nie. As ek vir iemand vra om iets te doen, kan hy dit hoor en mooi vind. Maar wanneer dit deel word van sy lewe en hy doen wat bespreek is, luister hy daarnaa.

Natuurlik geld dit dan van die een wat hulp soek. In sy lewe moet hy luister.

Maar daar is 'n vreemde aspek van die mistagogie - en dit is dat die mistagoog self ook moet luister. Trouens, 'n sleutelaspek van die mistagogie is dat die mistagoog juis 'n luisteraar is en nie net bloot 'n prater nie. Baie dikwels sal die geestelike begeleier agterkom dat hy dinge hoor wat vir hom vreemd is of wat sy nog nooit gehoor het nie. Dit kan dan vir hom ‘n probleem wees om nie sommer dadelik in te gryp en duidelike antwoord te gee nie. Maar ‘n mens mag nooit met jou eie vooroordele ‘n ander een summier voorsê nie. Dit kan gebeur dat God ‘n mens as die mistagoog deur die mistagogiese proses neem waar ‘n mens nie wil wees nie. Jesus wou nie die Siro-Fenisiese vrou genees nie. Vir hom was Israel eerste aan die beurt. Maar in die gesprek tussen hulle het Jesus verander en het hy ingeval by God se groter plan van die evangelie vir die heidene. Hy het haar verlange en haar vrae gehoor. En terwyl hulle daar bymekaar was, het hy ook geskuif – is hy ook getransformeer.

Dit is die groot, groot voorwaarde in die mistagogie. Dit is nie maklik om te luister na ander nie. Dit is nog moeiliker om te aanvaar dat iemand sy of haar verhouding met God anders kan beleef as hoe jy jou verhouding tot God beleef.

Die mistagogiese proses kan dikwels dus nie net die een wat om hulp vra verander nie. Maar dit kan ook die begeleier verander. In die mistagogie gebeur dit dus dat ‘n mens as die begeleier krities na jou eie verhouding met God kyk in die lig van wat die ander sê. Hoe sou Petrus tog ooit saam met Kornelius ‘n opwindende nuwe pad geloop het as hy nie uiteindelik sy eie vooroordele laat vaar het en besef het dat ook sy eie geestelike reis moet verander in sy begeleiding van ander.

Dit is nie maklik om te luister na ander nie. In ‘n geestelike gesprek kan dit nogal groot veranderinge in jou eie lewe veroorsaak. Jy stel jouself nogal bloot as jy begin om te deel aan die geestelike reis van ander mense.

Hoe weet ons dit tog nie! As 'n mens 'n lang pad met mense geloop het, kyk jy met nuwe oë na hulle. Maar jy kyk ook soms met nuwe oë na die probleme waarmee mense worstel. En soms gebeur dit dat jy met nuwe oë na God kyk as jy eers in mense se geestelike reis ingetrek is. As jy voorheen maklik vinger gewys het, word jy dalk die eerste een wat wil troos, ondersteun en omgee. Jy kry soms skaam omdat jy voorheen so maklik veroordeel het en so maklik gekritiseer het.

Die lang, lang en intense gesprek wat ek jare terug met die Arabiese Christen gehad het oor sy geestelike reis het my oë vir die res van my lewe oopgemaak vir die tragedie van die Midde-Ooste, vir die uitsigloosheid van oorlog en wapens, vir die noodsaak van vrede en vir die harde kante van Israel se politieke aksies. My maklike antwoorde het skielik swaar in my maag begin lê. Hulle nood het ook my nood geword.

Dit is 'n waagstuk om betrokke te raak.... Self-implikasie!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive