Hierdie gedig kom uit Van Wyk Louw se eerste bundel (Alleenspraak). Willie Jonker, het ek reeds elders geskryf, het oor hom ‘n interessante N.P. van Wyk Louw gedenklesing gehou. Asook Beyers Naude. Willie Jonker het beklemtoon dat ‘n mens nie vir Louw meer Christelik moet maak as wat hy was nie. Beyers Naude het weer onderstreep dat Louw se gedigte deurdrenk was met Bybelse taal - wat ook, gesien sy konteks – nie verwonderlik is nie.
Hierdie is ‘n boeiende gedig, wat vertel van die verlange om alles met ‘n mens se verstand en wete te kan deurgrond – en dan die dieper besef hoe waansinning so iets is.
Die tweede laaste strofe met sy driedubbele wonder-frases laat my aan Job dink: (wonderlewe, wonderoë, Wonder) en dan die laaste strofe se vierdubbele fokus op God: U sien, U soek, U seen, U vloek. Om nie te weet – dit is die seen. Om te vind, dit is die vloek.
Maar origens boei die mistieke momente in die gedig my soos dit in allerhande motiewe na vore kom: Bv: vrede / stil te woon / die see vang in 'n net (die onpeilbare), glorie, vlam, vlamme van U wa (Esegiel!), ens.
Dit is 'n gedig wat vra om meer aandag...
In waansin het ‘k gevra
Herr du mein Gott, was gehen mich die
Gesetze der Natur und Arithmetik an?
In waansin het ‘k gevra, o God
vir my die vrede van die ster,
om bo die berge stil te woon,
die wêreld onder dof en ver.
Ek wou U Liggaam sien en gryp,
ek wou die see vang in my net;
ek wou U Mag vang, vang en bind
met die koperkettings van my wet.
Dan wou ek self in glorie troon,
my hof by winde en sterre hou;
ek wou met ewig-stille oë
op U en op U knegskap skou.
Vergeef die wilde dwase bee —
o God, hoe kon ek wyser wees?
Maar, moet U vlam my voorkop kroon,
ek neem die glorie en die vrees!
Vir my nie meer die dwase rus
van mense en van dag en jaar,
vir my die vlamme van U wa,
en oë wat in vertes staar.
Vir my die kruis en doringkroon,
die reise wat geen einde het,
vir my die soek wat nimmer vind,
vir my die sterre sonder wet.
o God, vir my die wilde sin,
die oë wat hul waansin noem,
om wat ondenkbaar is, te dink,
en wat onmoontlik is, begin.
Ek sal ons Wete stukkend skeur
en uitstrooi tussen sterre en maan!
Sal ek met so ’n flenterkleed
U weë, o God, U weë gaan?
So sal ‘k met naakte liggaam stap
die reis van hierdie wonderlewe,
met wonderoë in die lig
wat om my van U Wonder bewe.
Daar is één heerlikheid: U sien;
daar is één rus: om U te soek;
om niet te weet – dit is U seën;
en om te vind – dit is U vloek.
(Uit de bundel: Alleenspraak, 1935)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.