Friday, July 02, 2010

Wanneer sokker liefde maak....

In Nederland loop jy op min plekke sonder dat jy ‘n bebousel of ‘n mens gewaar, sê ek altyd.

Maar ek het kennelik nie hiermee rekening gehou nie: Vanmiddag, toe ons sien Nederland loop 1-0 teen Brasilië agter, sit ons vinnig af winkel toe. Ek bedoel, ons weet mos Brasilië is bo.

Ons moet ook voor 18h00 ons inkopies doen anders sit ons vandag sonder voorraad.

Geen mens op straat nie. Ons het in die halfuur wat ons buite was net twee mense raakgeloop. Nederland het leeg geloop. Kaal. Zilch. Nie ‘n kaas in blik nie.

Dis soos ‘n lykhuis. Selfs die lyk is missing.

Op pad terug, oorval daar skielik ‘n gejuig ons. En blaas daar ‘n vuvuzela asof dit die laaste trompet is. Aan die ander kant van die buurt antwoord nog ‘n vuvuzela, aangevuurd en vol vreugde.

Die kaaskoppe het ‘n doel gescore.

En voor ons nog by die huis kom, is daar weer ‘n aardbewing. Dis 2-1. Ons kan nie glo nie.

Na die game, moet ons stasie toe. Maar as ‘n mens gedink het Suid-Afrika is in ‘n good mood, het jy nog nie die Hollanders gesien nie. Dit krioel en dis kostuums en vrolike, happy mense.

Dis pure fees. En vriendelikheid.

En oral waar jy kom is daar ten minste een siel wat ‘n vuvuzela onder sy blad saamkarring.

Daar is iets merkwaardigs omtrent die wêreldbeker-sokker.

Vuvuzela’s in Nijmegen! Sokker maak liefde.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive