Friday, July 09, 2010

Van teensin tot verwondering. Om met God se oë te kan sien

Frances Young vertel in haar boek “Brokenness and blessing” van haar besoek aan ‘n L’Arche gemeenskap waar sy in aanraking gekom het met Edith, ‘n hoogs gestremde vrou.

Die eerste keer het was dit vir haar weersinwekkend toe sy met Edith aan tafel sit en sien hoe kos op haar gemors word terwyl sy gevoed is. Young was verleë oor haar eie reaksie van afkeer en teensin.

Twee jaar later was sy weer op besoek aan die gemeenskap en weer aan tafel met Edith. Hierdie keer het sy ‘n gevoel van ontferming gehad toe sy vir Edith bygestaan het, haar hand vasgehou het en haar gehelp het om haar te help sodat sy nie haar self so sleg bemors en aftakel nie.

Young noem in hierdie vertelling dat sy vir die leier van die L’Arche-gemeenskappe, Jean Vanier, gehoor praat het oor Moeder Teresa en haar opmerkings oor dieselfde gevoelens wat ‘n mens telkens kry in jou kontak met sulke mense: weersin en ontferming, maar dan, daarna, verwondering. Dit is die drie fases wat ‘n mens het.

Sy vertel dan hoe sy op ‘n latere besoek was net nadat Edith gesterf het. Sy het haar begrafnisdiens bygewoon. Haar lyk is in die voorportaal uitgelê. Haar misvormde liggaam was duidelik sigbaar, maar haar gesig was in vrede gehul. Met verwondering het Young gehoor hoe lede van die gemeenskap allerhande verhale oor Edith vertel en getuig hoe sy hulle geïnspireer het en baie vir hulle beteken het. Dit was die oomblikke dat sy in trane verwondering beleef het. Hierdie gestremde vrou was in die hart van die hele gemeenskap.


Terwyl ek dit lees, dink ek aan die soortgelyke dinge wat Nouwen in sy boek oor Adam, ook 'n hoogsgestremde inwoner van 'n L'Arche gemeenskap geskryf het.

Hoe vloei skoonheid nie hier op verskillende vlakke in mekaar nie: aan die een kant kan ‘n verwronge liggaam ‘n tuiste vind by mense wat omgee en dieper dink. Maar daar is ook ‘n gemeenskap wat wegbeweeg van die norme van ons samelewing en teen alle verwagting in juis na die verwronges en die afgesonderdes uitreik om hulle te omhels.

Maar dan is daar ook die skoonheid van ‘n mens se eie geestelike reis: ‘n mens kan self jou kru, slegte ervaringe te bowe kom en wegbeweeg van alles wat in jou vir jou wil weghou van die skoonheid wat in alle mense, wie hulle ook al is, iewers verborge is. Afkeer kan omslaan in verwondering.

Maar dit is die spiritualiteit wat vir my hier bybly: spiritualiteit ontken nie ‘n mens se rouste emosies nie. ‘n Mens maak die donker kolle van jou hart oop. Jy erken die afkeer en teensin wat dikwels in jou hart leef en mense van jou weg stoot. Maar in die erkenning begin jy juis ‘n pad met daardie emosies stap: om deur die slegte te loop totdat jy op die plek is waar God jou wil hê – in verwondering oor die skoonheid wat God uit niks, uit verwrongendheid kan skep.

Om daardie spirituele weg te kan loop, is ‘n groot uitdaging.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive