Terwyl ek hom so kyk, verstom ek my aan die behendigheid waarmee hy die laaigraaf bestuur. Soms sit hy selfs met sy bene gekruis, asof hy koerant sit en lees – en dit alles terwyl daardie laaigraaf gate graaf, sementblaaie oplig, gate boor, sandhope verskuif en materiaal van mekaar sif.
Hierdie man ken die laaigraaf. Dit is sy werksinstrument. Dit lyk asof hy die werk met sy eie hande doen – asof die skopgraaf verlengings van sy vingers en hande is.
Dit is die beeld wat by my opkom toe ek vandag verder lees oor die mistagoog wat iemand is met ‘n gesonde self-kennis. Net soos die operateur sy laaigraaf het, so het die mistagoog eintlik net homself as instrument. En as ‘n mens effektief wil wees, moet jy die instrument waarmee jy werk van binne-uit ken. Maar jy moet ook sorg dat jy die masjien effektief kan gebruik.
Self-kennis is dus ‘n belangrike aspek van die mistagogie. ‘n Fundamentele aspek van die mistagogie is die verhouding wat die mistagoog tot homself het.
In die mistagogie het ‘n mens byvoorbeeld ‘n insig in wie jy is, of jy met mense kan werk, of jy die nodige opleiding het, of jy die Bybel kan uitlê, teologies sterk is, as liturg effektief kan wees, weet wat ‘n ritueel is en hoe om met rituele om te gaan. Die mistagoog is iemand wat kan luister, wat aandag aan ander kan gee, wat respek het vir die ander een. Hy moet dus bewus wees van sy vaardighede en sensitief wees om hierdie vaardighede optimaal te ontwikkel.
Soms kom die mistagoog agter dat ‘n onderdeel van hierdie instrument nie goed werk nie. En juis daarom maak hy of sy werk daarvan. Dit sou beteken dat ‘n mens verdere opleiding ondergaan en dat jy jou vaardighede aanpas en opskerp.
Sonder dat ‘n mens ‘n gesonde en deeglike kennis van jouself het, kan ‘n mens nie ‘n effektiewe mistagoog wees nie.
Hoe kry ‘n mens dan nou hierdie noodsaaklike self-kennis? Dit kom deur goed self-ondersoek te doen. ‘n Mens oefen jou in introspeksie. Waaijman praat van ‘n “deurleefde” self-verstaan wat hier nodig is.
Iewers moet ‘n mens dus tyd inruim om na te dink oor wie jy is en hoe jy inpas in die geestelike begeleidingsproses. Dit beteken ‘n oopheid om nie net na te dink oor wat jy alles nog nodig het en watter vaardighede jy moet verwerf nie, maar dit is ook ‘n openheid om te besef jy is iemand wat groei, wat ontwikkel, wat nie volmaak is nie.
‘n Mistagoog is iemand wat tyd neem om na hom- of haarself te kyk as iemand wat reg moet wees vir ‘n proses van geestelike begeleiding.
Voordat ‘n mens iemand anders kan begelei, moet ‘n mens ‘n gesonde self-kennis hê en moet 'n mens hierdie self-kennis met sensitiwiteit soek en vertroetel.
Die geestelike weg wat ‘n mens met ander mense loop, vra van jou om geestelik volwasse genoeg te wees om te let op wie jy is en wat jy nodig het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.