Thursday, July 22, 2010

Storm




























































































Met ons aankoms in Nijmegen het ons temperature tot diep in die dertigs belewe.


Na 'n paar dae het daar 'n wolk oor Nijmegen aangesit gekom en alle hel oor ons laat losbars.
Maar was dit 'n gesig om te aanskou.

Ek het hierdie foto's geneem en dink hulle is onder die mooistes wat ek het.
Donker, swart weer, met ligblitse wat die lig in duisende stukkies fyngekerf het. Hardeknal slae wat die kinders grootoog-verskrikd bed toe laat koers kies het. Waters wat uit die hemel soos watervalle neergestort het.

Die Hollanders het juis al begin kopkrap, want van die droogte het die dyke begin krake toon. Dit word plegtig oor die televisie uitgesaai, met die waterkenners wat kundig die kommerwekkende spleetjies in die grond uitwys.


En dan die verligting van die hitte.
En die koel aand. En die geselligheid om in 'n lekker, gerieflike woonplek veilig te voel.

Toe gaan die krag af. Twee en 'n halfuur lank. Ons sit in die donker. Die hysbak tot op ons 8e verdieping werk nie. Die elektroniese kaart wat ons toegangsdeur en voordeur oopsluit maak nie eers 'n dooie kliekgeluid nie.
My rekenaar werk nie. Dit is soos in die oertyd - aande is maar praat-aande.

Dirk, pas terug van 'n konferensie in Frankfurt, kan nie by sy woonstel inkom nie. Hy bring die aand by ons deur. 'n Lekker geselsaand. Niks-doen. Gesellig-wees. Tot stilstand gebring deur die natuur.

'n Mens kan al die geriewe op die aardbol geniet. En dan weer besef hoe fragiel alles is.


It never rains....


En tog: dit is 'n aand van herinneringe maak. 'n Aand waaroor 'n mens eendag stories vertel.

Maar ook 'n aand wat 'n mens Aanraak.

Ai, die wolk. Die grysblou, swaargebolde, woelende wolk. Alles net water, maar watter krag. Watter ontsag roep dit op.

God is, ook in die blafkant van die natuur, die skepper van skoonheid. Ontsagwekkend.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive