Sunday, July 04, 2010

Bybelstudie oor Openbaring (3)


Openbaring 1:3: Geseënd is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

“Dinge loop na ‘n einde toe.” Die tyd is naby.

Dít is Johannes se boodskap aan sy gemeentes. Hulle kry swaar en soek na antwoorde, na God se nabyheid. Dinge loop vir hulle nie reg nie. Hulle word van baie kante kwaai houe geslaan. Sy profesie wat die gemeentes gaan lees, luister en toe-eien, is 'n profesie oor God wat die swaar tyd ongedaan maak (let op die teenwoordige tyd).

Die luisteraars wat hoor van hierdie indrukwekkende profesie, besef sommer aan die begin van die boek dat God van alles weet. God ken van. God is bewus van hul lewenslot, lank voordat hulle dit aan God vertel. God weet:


• Daar is die politieke magshebbers, die mense wat in beheer van wêreldse dinge is, wat nie van hulle hou nie en wat hulle by tye hard (selfs dood)slaan – tot aan hulle liggame toe. Hulle is onder swaar druk van buite.

• Maar daar is ook die mense wat op geestelike gebied hulle teenstanders is: hulle deel dieselfde geloof in die God wat alles geskep het en met die volk Israel in ‘n verhouding getree het. Hierdie mense het nie gehou van die pad wat die gelowiges agter Christus gestap het nie en hulle daarom bitter teengestaan. Hulle word deur hul naaste geloofsgenote veroordeel, verwerp en uitgesluit uit die sinagoges.

• Dan is daar in hulle eie geledere ook twis. Sommige binne die Jesus-gemeenskap het hul eie idees oor hul geloof gehad en het nou as “vals” profete die gemeenskap van die gelowiges opgebreek. In die hart van die kerk leef daar verdeeldheid en onenigheid. Wanneer sal daar tog 'n einde kom aan die kerk se selfvernietigende lewe?

Dinge loop oraloor nie reg vir die lesers nie.

Maar, vertel Johannes, die tyd is naby dat dit alles tot ‘n einde sal kom.
Johannes “openbaar” aan die gelowiges dat God nie die kerk alleen laat in sy worsteling nie. Dit is, sê hy, wat God vir hulle belowe. Of dit nou in die kerk se stryd teen die owerhede, teen godsdienstige vooroordele of onder interne twis is, is God nie afsydig nie. God gryp in om dit stop te sit. God gaan dinge verander.

Die vraag is sekerlik nou: hoe gaan God dit doen? Die antwoorde hierop gaan Johannes in sy openbaring in detail vertel. Maar uit Johannes se eerste woorde kry ons al ‘n aanduiding of twee:

Daar kom ‘n tyd dat die stryd finaal verby sal wees – dit is die teneur van die hele boek.

Dit kan wees wanneer gelowiges hul lewensverhaal eendag by die uitsug van die laaste asem afsluit, maar dan met ‘n goeie gewete dat hulle getrou aan God vir Jesus as die Lam wat geslag is, gevolg het. Hulle sal onder die altaar van God, daar waar God woon, geborgenheid vind.


Of dit kan wees wanneer God eendag die groot einde sal bring wanneer die mensdom en die skepping in die geheimenis van God se onbegryplike ewigheid en onpeilbare aanwesigheid sal ingaan en durende rus sal vind.

Maar Openbaring vertel vir ons véél meer as bloot net oor dinge wat met tyd (en veral ons westerse verstaan van tyd) te doen het.

Want, skryf Johannes, sy boek se geluk sal almal ervaar wat die boek lees en in hul harte opneem. Nóú reeds, in tye van konflik, teenspoed en verwerping, kan die een wat glo tot volkome rus kom.

Nóú reeds beëindig God ons soektog en neem ons na die einde toe, daar waar ons ervaring van God groter is as ons ervaring van ons laste.

Die antwoord is dan ook in die vers helder en duidelik: die einde is dáár te vind waar Johannes se boek Openbaring gehóór word, waar, in die eredienste, sy boek gelees en gevier word. Waar een of twee in die Naam byeen is.

Wie glo, hoef nie te wag op ‘n einde aan hul ellende eers een maal in die toekoms nie. Die einde op ons verlange het aangebreek by die hoor van ‘n stem wat in God se naam tot ons kom. Wie God se woorde hoor, ook in hierdie boek, se hart kom tot volkome geluk en rus.


Ons sien soms verlangend uit na ‘n toekoms op so 'n manier dat ons blywend ongelukkig in die hede is. Johannes leer vir ons dat die einde nie net met die tyd te doen het nie. Die einde het ook met ons huidige situasie te doen.

Johannes keer ons wêreldvreemdheid en ons toekomsbeheptheid op sy kop. Die einde van ons soeke lê sommer om die draai – daar waar God aan die praat is wanneer ons as soekers, as pelgrims, as luisteraars van die woord, as Emmausgangers, op weg is.


Dit is ‘n verrassing. ‘n Aangename verrassing. Hierdie vrede wat ons vind in die liturgie, in die stiltetyd, in die afsondering op Patmos, in die viering van God se nabyheid, in die toeëiening van God se stem, in die luister na God wat praat, in die lectio. Dit is kontemplasie, reeds in lectio. God is ook daar. God raak ons nou al aan.

Volkomendheid in God se spreke.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive