Tuesday, July 06, 2010

Wanneer woorde jou faal. Die sokkerkoors en die dieper dinge....

Dit is malhuis, hier, na die sokker vanaand. Daar is niemand op die strate nie. As daar mense te sien is, sit hulle, soos ons vanaand op ‘n stadium sien, as ‘n groot groep in die straat voor ‘n televisie-skerm. Dit is soos een groot begraafplaas buite in die stad.

Vreemd hoe ‘n groepsgevoel oorneem wanneer mense weet iets spesiaals is aan die kom. Sestigduisend mense is op die museumplein in Amsterdam byeen om al staande op ‘n afstand op ‘n reuse-skerm die wedstryd dop te hou.

En daarna wil die televisie gedurig teruggaan na die groot jolkolle om te wys hoe die mense en masse opspring en soos kinders op en af ruk van vreugde wanneer ‘n doel geskop word.

Dit is waansin.

Nou, twee uur na die einde, is daar tromme wat opklink, toeters wat blaas, mense wat sing.

Intens.

Op pad terug van ons aand uit, so net na die rustyd, teken Nederland ‘n doel aan terwyl ons nog op straat is, vinnig aan die loop om die tweede helfte in ons woonstel te kan kyk.

Dit dreun letterlik soos oor die hele stad van Nijmegene ‘n gejuig opgaan.

Die tonele wat hulle hier afspeel is net so ongewoon soos oor die televisie. Uit Kaapstad word ‘n onderhoud gevoer met al wat ‘n spanspeler en afrigter is. Mense wil nie laat gaan nie. Hulle hou die oomblik vas asof dit nooit tog moet verbygaan nie. Wil dit bepraat en met mekaar deel. Te meer nog: Nederland was nog net drie keer in ‘n finaal vir die wêreldbeker. En selfs meer nog: Hulle was voor die tyd maar nooit oor-opgewonde oor hul span nie.

Maar nou dans hulle in die strate van die stede, staan in die stadion in Kaapstad en sit voor die kamera’s van die televisie om te vier.

Dit is amper soos ons euforie oor die sukses van die wêreld-beker aanbieding in Suid-Afrika. Maar nog intenser, as jou span die kollig betree.

Maar wat my opval is hoe flou taal is om hierdie intense tyd te verwoord. Dit is duidelik dat die vreugde onbeperk is. Maar die woorde is beperk en mense sukkel om te beskryf: ongelooflik, geweldig, ongelooflik, geweldig, hoor jy as ‘n refrein. En dan twee ander maniere van praat oor hierdie groot oomblik: byna almal vertel hulle het hoendervleis (kippenvel op zijn Hollands). En dan is daar trane van aandoening. En die mans is vrymoedig om te erken dat hulle aangedaan is, soveel so dat hulle die trane nie kan bedwing nie. Hoendervel en trane - die vreugde word lyflik ervaar, soos die skares wat kinderlik op en af spring as 'n doel aangeteken word.

Maar al hierdie emosies kan die wat met vreugde vier, moeilik in woorde verwerk.

As mense só oor sokker voel, maar só sukkel om die onvoorstelbare sukses van hul sokker-ervaring uit te druk, hoe moet ‘n mens dan praat oor dit wat nog baie dieper en nog baie groter is....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive