Monday, July 05, 2010

Drie maniere om God lief te hê. Oor liefde om liefdesontwil.

Bernard van Clairvaux het geskryf dat ’n mens God op ten minste drie vlakke kan liefhê. Ek het al so bietjie hieroor op ’n vorige keer gedink, maar dit is asof die gedagte daaaraan vra vir meer aandag en appropriasie. Hier is sy gedagtes, aangepas:

Eerstens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n slaaf. Dan het ’n mens God “lief” uit angs. Jy speel maar eerder veilig en gee aan God die “liefde” wat jy dink God as die baas toekom.

Ons moenie te vinnig dink dit is maar ’n slegte liefde nie. Selfs hulle wat al ’n ver pad geloop het, val soms nog terug in hierdie serviele, of slaafse liefde. Dit hoef selfs nie noodwendig as ’n waardelose liefde afgeskryf te word nie. Soms moet ons deur hierdie angstige, onderdanige, selfs kruipende liefde gaan om gedwing te word om dieper na te dink oor die liefde in sy mees egte vorme. Die serviele, slaafse liefde is ’n eerste vorm van liefde wat moet groei tot ’n meer volwasse, ryper liefde. ’n Mens ontgroei hierdie liefde deur te besef dat angs nie ’n rede is om God te bemin nie. ’n Mens hoef God nie te vrees nie. Die liefde gaan nie om jou eie bas te red nie.

Tweedens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n werker of arbeider. Op hierdie vlak het ’n mens God lief omdat jy dink dit is tot jou eie voordeel en in jou eie belang. Ook hierdie liefde is onvolmaak en moet steeds weer groei in iets anders en iets diepers.

Ook hier het mens te doen met ’n soort liefde wat dikwels nog oor jou pad kom, selfs al het ’n mens ’n pad met God geloop. Ons kan maklik in een dag beweeg van ’n slawe-liefde na ’n angs liefde en dan na die dieper vorme van liefde. En as jy terugval in hierdie vorme van liefde, kom jy gou agter hoe dit jou onvervuld laat en hoe dit jou dryf om dieper oor die liefde na te dink. ’n Mens ontdek dan hoe bevrydend dit is om jou eie belang op te offer, om die minste te wees, om prys te gee. Dan ontdek ’n mens jy het nie ’n werkskontrak wat jou en God in ’n oor-en-weer lys van verpligtinge bind nie. Deur gedurig ingestel te wees op wat ’n mens uit jou verhouding met God kan kry, op wat jou toekom, word jou geestelike reis vaal en onplesierig. Dit draai maar steeds om jouself. Jy weet maar steeds: As jy jou eie belang laat gaan, kom daar ryker en ryper dinge in jou lewe los wat dieper dimensies van jou bestaan ontsluit.

Derdens: ’n Mens kan God lief hê soos ’n seun. Dan het jy God onselfsugtig lief. Dit is die hoogste vorm van liefde. Dan draai dinge nie meer om jouself nie. Dan het jy God lief bloot omdat God daar is, ’n vader is, jou lewe volmaak. Jou verlange is nie gerig op die vervulling van jou begeertes nie, maar op God. Dan het jy nie lief omdat jy keer vir jou wickets nie of omdat jy iets te wen het nie, maar bloot omdat liefde so mooi is. Sonder om enige iets terug te verwag, soek ’n mens die liefde. En dan word die lewe op ’n merkwaardige manier onbegrensd belonend. Om God te ontdek, is om die hoogste vorm van liefde te vind.

En só beweeg ons dikwels in ’n gedurige siklusgang tydens ons geestelike reis. Ons moenie gou ’n vinger wys na hulle wat agterbly en nie so hoog soos ons lief het nie. Spiritualiteit is die reis vanaf die beperkte, selfgerigte liefde na die belangelose, vierende liefde vir God wat daagliks ons ervaring is. Die geestelike reis is die inspanning, die bewuswording, die gryp na dit wat waardevolste van alles is. Dit is om volwasse in die liefde te word, om al hoe onselfsugtiger te word, om jouself al hoe meer vervelig te vind, om agter te kom hoe ryk die liefde ter wille van die liefde is.

Dit is ontnugterend om gedurig weer te ontdek hoe verskuild die selfgerigte vorme van liefde in ons teenwoordig is. Bernard help ons, mistagogies, om as mistagoë, onsself dop te hou vir wie ons is en om ander in hul geestelike reis hiervoor skerp te hou. Die sikliese gang van die liefdesfases in ons lewe. Spiritualiteit is nie verniet die soeke na groter integriteit, volwassenheid, heelheid nie. Die Gees woel en werskaf. Drie keer toe word ons gekonfronteer – het jy my werklik lief?

Dikwels dink ons, heel onskuldig en selfs heel vroom – as ek tog maar net my verlange na God kan stil. En dan val die klem op die “ek” en op die “gestilde” verlange wat my dan nou so tevrede sal kry. Geestelike groei neem ons weg van hierdie instelling op onsself. Later in jou lewe leef ’n mens intuïtief al hoe meer net met die verlange om lief te hê. “As ek maar net kan lief hê.” Of dalk eerder: “As daar maar net ruimte in my lewe vir liefde is.” Of miskien dan ook uiteindelik hierdie mistieke, onpeilbare gebed: “Liefde, grootste van alle dinge, God, woon ook in my.” Woon soveel in my dat daar vir my verlange, my begeertes nie plek sal wees nie. Want dán, dán, sal ek waarlik vry wees. Vry vir God. Vir die liefde.” Om die liefde ontwil.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive