Kees gee vir my vanmiddag die boek “De Spiritualiteit van Titus Brandsma”, geredigeer deur hom en Frans Maas. Die sub-titel is “Hoe de tijd ons Godsbeeld bepaal.” Dit is ‘n boek waarin Titus Brandsma, Piet Schoonenberg, Frans Maas en Kees Waaijman nadink oor hoe ons beeld van God ten nouste saamhang met die tyd waarin ons leef.
Brandsma wys byvoorbeeld hoedat God in die vyftiende eeu veral deur uiterlike vertoon gehuldig en vereer is. Dit is, wat hy noem, ‘n “sosiale godsbeeld.” Mense wou God heel positief uitbeeld op ‘n mooi en verhewe manier. Oral is voorstellings van God uitgestal en sien ‘n mens beelde van God – in die kerk, in huise, maar ook op straat. Die samelewing is verchristelik op so ‘n manier dat almal God van God kennis moes neem, vir God moes dien en deur God beïndruk moes word. Dit was die tyd van die aflate en van bedevaarte, van allerhande uiterlike handelinge waarmee mense hulle godsdiens ingeklee het. Hierdie dinge het soms wonderlike bedoelings en funksies gehad. Daarmee het egter langsamerhand die innerlike band met God, die verinnerliking van die mens se verhouding met God op die agtergrond geraak.
Met verloop van tyd het mense die Godsbeeld se beperkinge begin aanvoel. As ‘n mens God op sulke uiterlike maniere vereer, het mense begin besef, moet dit gedurig gekoppel bly met geloof en vroomheid. As gevolg hiervan word God nou al hoe meer gesien as die God wat gees en waarheid is en as God wat in gees en in waarheid gedien wil word. Klem word nou gelê op die mens se diens van toewyding aan God. God is die Bruidegom wat aan die kom is na die mens en vir wie se koms die mens gereed moet wees. Navolging word ‘n belangrike begrip (soos in die moderne toewyding).
Nog later, met die Protestantisme, verdwyn die fokus van God wat gedien moet word en word God uitgebeeld as die Een wat die mens uitverkies, begenadig en bekragtig tot die goeie. Wanneer iemand die goeie doen, is dit ‘n teken van die uitverkiesing. God word nou ‘n strenge, verhewe Regter wat ontsag by die mens oproep. Terwyl die mens nietig en klein is, is God die verhewene.
Dit is maar enkele opmerkings uit Brandsma se heelwat langer bespreking. Ek sit terug en wonder hieroor: Brandsma begin sy bespreking deur te vertel hoe besorgd hy is oor die toenemende verwerping en uitbanning van God (en dit in 1932!). Mense wil al hoe minder van God weet en is doelbewus daarop uit om alle spreke oor God uit die maatskappy te verban. ‘n Mens, sê hy, kan nou probeer om die Godsbeeld te verdedig en allerhande apologieë daarvoor aan te voer.
In só ‘n tyd moet ons eerder bloot net nadink oor wie God is, sonder om te apologeties te wees. Het ons genoeg oor God nagedink? En dink ons genoeg daaraan om só oor God te praat dat mense wat “sieklik verblind” is vir God dalk deur ons nadenke en ons verstaan van God aangespreek sal voel?
Die beeld van God kan nie maar in een tyd gefinaliseer word nie. Daar is ‘n rykdom in die baie maniere waarop ons oor God kan praat. Al die wysheid van die verlede kan ons denke oor God nie uitput nie. “Nuwe tye vra nuwe vorme.”
Hierop kan ons nou terugsit en redeneer: ons tyd sal wel op een of ander manier nuut oor God dink. Ons moet maar net geduldig wees en dinge in daardie rigting laat ontwikkel. Kom tyd, kom raad.
Die beter manier is om eerder bewustelik hieroor na te dink en in gesprek te tree oor dit wat intuïtief in ons tyd aan die gebeur is. Dit kan ‘n mens juis doen deur byvoorbeeld na te dink oor hoe God deur die eeue heen bely, ervaar en verstaan is. Dit is juis boeiend dat deur die tyd heen ‘n sekere verstaan van God deur ‘n volgende geslag van gelowiges aangepas word omdat hulle bewus geraak het van eensydighede of gebreke in die manier waarop ‘n vorige geslag oor God gepraat het. Die geskiedenis kan ‘n nuttige verstaansinstrument word.
Ek lees hierdie opstel van Brandsma met belangstelling. Aan die een kant herken ek baie van wat hy skryf reeds in Bybelse tekste. Die afstandelik (gebrek aan?) verstaan van God in Prediker is duidelik die teenpool van byvoorbeeld God wat Immanuel in Christus is in Matteus. Die Bybel bied ‘n magdom van Godsbeelde. Dit is ‘n ryke skat waardeur geïllustreer word hoe in baie verskillende tye en deur baie verskillende mense God op ‘n nuwe manier beleef en aanbid is. Reeds maar die skepping en herskepping, die Ou en die Nuwe Testament, die tyd van Moses en die tyd van Jesus vertel van die radikale nuwe maniere waarop God deur die eeue onder mense bekend word.
God, besef ek weer, toe ek hieroor nadink, kan ons nie in ons menslike taal en in ons menslike kategorieë vasvang nie. Elke keer weer as ons God netjies in ons hokkies opgesluit het, ontdek ons hoe God op nuwe maniere beleef en ervaar word en dat ‘n nuwe hokkie maar ontwerp moet word.
Wat sou die Godsbeeld van ons tyd wees?
Die mens het ‘n stewige greep op die wêreld. Ons verken die ruimtes, oorwin die ellendes, ontwerp verstommende tegnologieë. Hoe dink ons oor God in só ‘n tyd? Ons wat alles beheer, wat mondig geraak het, wat so fyn dink, wat so progressief dink, wat God se seën oor ons self-ontwerpte lewensstyl buikspreek – hoe dink ons oor God? Ons wat deur ‘n televisiestel die armoede in Indië, die oorlog in Afghanistan en die vernieting van ons aarde so helder kan raaksien – hoe dink ons oor God? Ons wat die eindelose lyding van mense in allle wêrelddele raaksien, hoe raak dit ons verstaan van God? Ons wat apartheid beleef het – wat doen dit aan ons aanbidding van God?
Hoe bepaal ons tyd ons beeld van God? Wat is opwindende van ons tyd se denke oor God? En wat is eensydig aan hierdie beeld van God?
Hoe het teologie tog alles mooi oor God uitgepluis? En hoe gebeur dit dat spiritualiteit al hoe meer praat oor hoe onuitspreeklik God is?
Ek wil hieroor nadink. En die feit dat Spiritualiteit ‘n mens by hierdie vraag uitbring, spreek boekdele. Titus Brandsma, die man wat deur die Nazi’s vermoor is omdat hy die katolieke pers beïnvloed het om nie advertensies van die Nazi’s te plaas nie, het in sy voordrag in hierdie boek boeiend aangetoon dat ons nie ‘n statiese, oer-verstaan van God het nie. Ons verstaan van God hang saam met die tyd waarin ons leef.
Dit kan ongelooflik verrykend wees, want dit beteken dat God steeds weer op nuwe maniere in nuwe tye werk. Op ‘n dinamiese manier leef God met ons mee en gee God vir ons telkens weer op nuwe maniere ‘n transformerende ervaring van die goddelike teenwoordigheid. Dit was deel van Brandsma se spiritualiteit dat hy kon insien wat Jesus so duidelik beloof het: die Gees sal ons in nuwe dinge inlei en ons sal groter dinge doen as Jesus.
Spiritualiteit gaan om ons verhouding met God wat telkens verdiep en ons gedurigdeur op nuwe wyse transformeer. Ons word ook getransformeer in ons verstaan van God.
Hierdie telkens nuwe beeld van God kan uiteraard ook ‘n probleem wees. Ons beeld van God is nie die produk van die tyd nie. Ons praat hier nie van afgode nie. Oor die eeue heen het mense en gelowiges afgode gehad, wanneer hul idee van God deur hul tyd bepaal is.
Ons praat hier van God wat telkens weer gelowig nuut beleef en gehoorsaam word. Op die manier het ons ontdek dat God as die bevryder onvrye, verdrukkende strukture wat voorheen deur die kerk verdra en soms selfs bevorder is, eintlik beveg en uit die weg ruim (slawe, vroue, armes, rassisme). En kyk maar na die groot aandag wat publike teologie in ons tyd geniet, wat tog sekerlik ‘n korrelaat is van die manier waarop ons God se bevryding van mense wat uitgebuit en tot die rand uitgeskuif is, herken het.
Die vraag bly dus: hoe wys God gesig vir ons in ‘n spesifieke tyd? En, wanneer het ons by die ou dinge vasgeval toe dit tyd geword het vir die nuwe dinge? Of: selfs moeiliker: wanneer is ons spreke oor God nie meer spreke oor God nie?
Geloof is ‘n avontuur.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.