Toe ons in die nuwe werk-omgewing aangeland het, was hy die eerste kollega wat ons opgesoek en verwelkom het. Van die eerste oomblik af het ek hom leer ken as die een wat omgee vir ander.
En van toe af het ek hom verder en beter leer ken as die een wat steeds weer sag gepraat en sag geleef het. Daar was nie groot woorde en glorieuse gedagtes nie. Eenvoud het sy lewe gekenmerk, maar ook sy teologie. Hy was die nugtere, praktiese een onder al die kollegas.
Hy is ‘n rukkie later met terminale kanker gediagnoseer.
Op ‘n stadium het hy vertel dat hy en sy vrou na die verwoestende nuus ‘n end met ‘n wandelpad gaan stap het en ‘n tyd lank op hul eie in stilte deur gebring het. Hulle wou die nuus verwerk het. Daar, in die alleenheid en in die rustigheid van die omgewing, het hy sy hartseer en woede uitgehuil. Só hoor ek hom vir my sagweg nog vertel.
Hy het gehuil en hy was kwaad omdat sy lewe so vroeg tot ‘n einde sou kom. Omdat hy nie sy kleinkinders sou kon sien grootword nie. Omdat hy nie rustig kon aftree en die laaste jare met sy troue vrou sou kon deurbring nie.
Hy is kort daarna dood.
Ek dink nog altyd aan hom as ek ervaar hoe kosbaar die bande is wat ons bind aan mense wat ons lief het en wat sterf.
Paulus het iets daarvan verwoord toe hy vertel het hoe graag hy by die Here wou gaan woon, maar dat hy ook om die onthalwe van sy gemeente by hulle wou wees.
Dit innerlike stryd – om kosbare bande te moet losmaak. Dit is om van woedend te huil.
En daar is geen mooi woorde wat hierdie hardheid kan versag nie.
Ons bly agter in die lewens van hulle wat hier oorbly. En ons moet só sterf dat niks die skoonheid van hulle gedagtes aan ons skend nie. Dit alles maak die oomblik van afskeid donker en hartverskeurend. Daaroor is dit so hard om te moet sterf.
En tog. Die heel belangrikste, vir ons, is dat ons iets van hulle saamneem as ons na God toe gaan, na die huis met baie wonings. As God dan na ons sal kyk, sal God raaksien hoe ons omgegee het vir hulle – vir hulle as hongeriges kos gegee het, as dorstiges gevoed het, as verworpenes omarm het en as siekes verpleeg het. God sien ons raak en herken in ons hart al daardie omgee vir ander, die liefde vir hulle, die ontfermende uitreik na hulle. God neem ons dan in die koninkryk op. Juis omdat ons soveel geliefdes naby ons gehad het en omdat ons hulle werklik liefgehad het. By God, sal ons hulle onthou en hulle met vreugde vier.
Ons neem ons geliefdes saam met ons. Nie net hulle wat bloed en vlees van ons is nie, maar hulle wat in Bloed en Gees ons geestelike reis met ons saamgeloop het.
Ons sal dus nooit alleen wees nie en ons sal nooit sonder die liefde hoef te bly nie. As ons lewe hier ryk was aan liefde, sal dit nog ryker wees waar God volledig hierdie voorlopige, breekbare en verwondbare liefde opneem in die ruimte van volmaaktheid. Dan sal die volkome liefde ons hart van sy wonde genees.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.