Tuesday, July 27, 2010

Wanneer God huil... Oor geestelike uitputting. (Mistagogie 10)

Ek lees vanoggend hierdie artikel van Willem Pretorius oor Emeritus aartsbiskop Tutu in die Burger.

Ek geniet Pretorius se gereelde rubrieke, maar hierdie een is vir my spesiaal. Dit is artikels soos hierdie een, voel ek, wat verdien om fyn gelees te word.

Trouens, dit is goed om te weet dat iemand soos Pretorius vir ons opnuut weer 'n kykie kan gee in gebeure by die WVK wat dalk te maklik by ons verbygegaan het.

Die artikel, dink ek, bied 'n kyk in wat 'n mens sekere 'n "publieke" mistagogie sou kon noem - iets waarvoor Tutu op 'n unieke manier gewerk het.

Pretorius se opmerking dat 'n mens nie besef dat 'n geestelike wat lyding aanhoor self troos nodig het nie, staan vir my uit.

Dit het my laat dink aan die verhouding van die mistagoog tot hom- of haarself wat in die mistagogie spesiale aandag kry - en tog dalk meer aandag verdien.

Jy moet as mistagoog, leer die kenners ons, jouself optimaal slyp om in jou mistagogiese reis net die allerbeste van jou gawes te maak. As jy goed in jou persoonlike mondering gevorm is, sal jou geestelike begeleiding ryper en ryker wees.

Maar dink ons ooit daaraan dat ons verhouding tot onsself veel meer is as om net ons prestasievlak op te skuif? Want dikwels is dit ewe nodig om terug te staan, of soos 'n vlieg teen die dak te gaan sit om na jouself en jou geestelike ervarings as mistagoog te kyk.

Op die manier moet 'n mens soms bewustelik en afstandelik 'n stetoskoop op jou geestelike hart plaas: Wat gebeur nou met hierdie gevoel wat jou oorval nadat jy aan die lyding en donkerte van iemand wat jy begelei het, blootgestel was? Wat van die geestelike uitbranding as jy vir dae lank van die een krisis-situasie na die ander gehardloop het? Geestelike "uitputting," noem iemand dit in 'n onlangse briefie aan my na 'n reeks van intense blootstellings.

Sommiges oorkom hierdie uitputting deur 'n harde ongevoeligheid tussen hulle en lyding te plaas. Jy moet, "leer" ons, kan "objektiveer." 'n Mens kan dit verstaan en soms is dit seker nodig. Maar dit kwel my as so 'n houding 'n lewensstyl word. 

Ander weer vlug van die uitbrand-tye weg en vermy of minimaliseer enige betrokkenheid by die donker kante van die geestelike reis saam met ander.Ook dit is seker begryplik as 'n vorm van oorlewing.

Ander soek wyslik 'n groen kolletjie in 'n kampplek om uit te span om vir 'n rukkie net weg te kom . Weer bietjie asem skep. 

Ander is weer gelukkig, soos Tutu, om by sy vrou (!), 'n Lea (met wie hy nou, veelseggend, in sy lewenskemering smiddae lekker koppies rooibostee op die stoep wil sit en drink) God se troos te kry. (Die mentor se mentor kan soms vreemde gestaltes aanneem! Leke spiritualiteit....). 

Daar is dus dikwels die "makliker" antwoorde en die bedinkte strategie. Sommige beter as ander.

Maar soms is dinge nie so eenvoudig nie.

Jan van die Kruis wys vir ons nog 'n ander, mistieke, weg. En die mistagogie het hieroor nagedink: ons kan ons eie seerkry oor die donkerte in ander se bestaan ook hanteer as ons gedurig onthou dat ons saam met hulle reis om by God uit te kom. In ons ervaring van lyding, moet ons steeds bly vra: hoe is God op pad met ons in hierdie saak?

Dit groei op my. Al meer. Hierdie mistagogiese gerigtheid op God. Dit is Bybelse taal, reflekterend van die wysheid dat God alles in almal is. Prakties kan hierdie fokus op God ons lewe in 'n ander rigting stuur.

Maar hoe vra ons na God?

In my gesprek met Huub hierdie week oor die oratiewe en kontemplatiewe kom ons uit by die ervaring van die teenwoordigheid van God. In die oratiewe moment ontdek ons dat iets wat met ons gebeur ons "raak" (sy woorde). Terwyl ons nadink, mediteer, en meer nog, wanneer ons met God praat, skiets daar soms 'n vonk in ons. Dit kan 'n opwindende oomblik van aanraking wees, maar ons weet uit die Psalms dat die goddelike aanraking soms pynlik, ontstellend en selfs ontnugterend kan wees.Oomblikke wat brand en pyn maak.
Maar as jy "geraak" is in die praat met God oor jou geestelike reis, is dit die kontemplatiewe oomblik (min, weliswaar, en kosbaar, maar tog wels soms daar) dat jy selfs in jou pyn en uitputting tot 'n onverklaarbare rus kan kom. 

Dit is 'n antifrase. Jou situasie vertel vir jou iets anders as wat jy skielik as die Andere in jou hart ontdek en ervaar. Dan kan jy byvoorbeeld in die wydheid van die goddelike voorsienigheid, in die grootheid van God se oneindigheid rus vind. 

Soos Job se mistieke laaste hoofstukke te midde van al die ander lang gepratery oor sy ellende en in sy getroue roep na God!
God, vertel Jan van die Kruis, kan jy in die duistere nag ervaar. Nie duidelik sigbaar in die donker van uitputting nie. Nie tasbaar soos 'n paar liefdevolle arms van 'n Lea nie. Geen triomfantelike ervaring nie. Soms is God na alle gevoelens verskriklik afwesig. 'n Dubbele "my God" wat my verlaat het. Maar juis in die donker afwesigheid van God, "weet" jy, "sien" jy selfs, God is daar. Die oomblik dat die God "my" God word.

God, ervaar ons dan as ons so "geraak" word, hierdie uitputting wat in my uitsak, hierdie trane oor wat mense aangedoen word, is U trane wat U huil oor lyding, oor die aarde wat vir U slimweg opgegee het en ruggedraai het op skoonheid en paradys. (En hoe het ons, godsdienstig en ook kerklik mooi ordentlik geskoen en gedas, tog nie in ons verlede ruggedraai nie...)

Dit is 'n donkerte wat heilig is. 

Die heilige donkerte is Moses se wolk oor die berg wat ons binnegaan (Ex.33). 

Die donkerte wat ons oorval kan nie uit my eie selfsugtige hart opkom nie. Harte van klip kan nie huil nie. 

Dit is 'n hart wat saggemaak is deur U Gees wat wil heel maak, skoon brand, nuut maak en vrede wil stig wat treur, wat soms moeg raak, wat wil kwyn soos die suiweringsproses brand. 

In die donkerte, in die donker nag van my siel, is U, God, aan die werk. 

Meer nog, dan, troosryk, in hierdie uitgeputte hart van my is U teenwoordig. Donkerte hoef nie altyd te verstik nie. Dit kan soms juis, vreemd genoeg, verlig... En ons nader aan God bring. Om ons dan meer te laat verlang na meer van God, totdat die volmaakte oor ons sal kom.

Ons moet dus na binne kan kyk. Ons moet die donker van geestelike uitputting kan bedink. Terwyl ons tot op 'n vlak troostend omarm word deur hulle wat naby ons is, moet ons nog dieper kan kyk waar die troos nie altyd meer werk nie. Waar alleen God troos kan bied. Ons innerlike genesing kom nie maklik nie. Ons vind dit alleen wanneer ons bly onthou - mistagogie is God se Jakobsworsteling met ons.


Hier is Pretorius se artikel: 

 

’n Blaas vir ’n brood en Tutu se lappie

2010-07-26 21:22
Willem Pretorius

Gisteroggend in die gim het die uitnodiging om blase te kry om ’n brood vir ’n skoolkind te koop, my aan emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en die jammerlappie laat dink.

Blase vir Brood is ’n projek van die Rotariërklub wat behels dat mense en hul gesinne op 29 Augustus by Groenpunt begin stap en met die toegangsgeld van R30 vir kos vir 16 skoolkinders sorg.

Dit het my aan die aartsbiskop en die jammerlappie herinner.

Sedert Tutu sy uittrede aangekondig het, dink ek baie aan hom en watter ontsaglike bydrae hy tot die nuwe Suid-Afrika gelewer het.

Almal in ons huis het ’n jammerlappie geken. As die seuns buite in die tuin gespeel en seergekry het, kon jy gou inhardloop sodat Ma die lappie onder die kraan kon druk en die “wond” daarmee afkoel terwyl sy “jammer” sê.

Ons seuns mag nie gehuil het nie.

Binne ’n oomblik herstel die gewonde genoeg om na buite te hol om weer die ergste boewe aan te vat.
As dit gebloei het, het jy ’n pleister gekry.

Toe Ernest Malgas op die tweede dag van die sitting van die Waarheids-en-Versoeningskommissie in 1996 in Oos-Londen begin getuig het, moes Tutu die verrigtinge stop omdat hy nie meer sy trane kon beheer nie.

Malgas het in ’n rystoel gesit. Elke keer as hy gekom het by die oomblik wat die marteling beskryf het, het sy lyf onbedaarlik begin ruk asof dit elektries geskok word.

Dan het Tutu hom gestop, is water gebring en het hy weer probeer. Elke keer kon hy net tot by dieselfde punt kom voordat sy liggaam begin ruk het.

Ek het al erge dinge gesien en beleef, maar Malgas se lyding is in my ingegraveer.

Later het ek verdwaas deur die stadsaal gedwaal en my om ’n hoek vasgeloop in die aangrypende toneel waar Tutu deur sy vrou, Leah, getroos word.

Ná ’n ruk het hy van my bewus geword en my nadergeroep. Ek het hom my sakdoek aangebied, en voordat ek my kon kry, het Leah ons albei se koppe gevryf.

Hy moes 21 000 slagoffers se verhale aanhoor, maar ek onthou die skok toe hy my een aand by die huis van nog ’n nuwe marteling vertel het.

Later het ek ’n klein skenking vir die slagoffers gedoen en gesê ek is jammer oor dit so min is.
Waarop hy die pragtigste briefie geskryf het om te sê dit gaan nie oor die hoeveelheid nie, maar oor ons soms so magteloos voor lyding staan dat ons net met ’n “jammerlappie” ons menslikheid kan betuig.

Die WVK was nie bloot ’n jammerlappie nie.

Soms dink ons egter nie daaraan dat ook diegene wat die jammerlappie op die wond sit, troos nodig het nie. Daarom hoop ek dat iemand anders as Leah nou elke dag vir Tutu ’n jammerlappie sal bring. Leah verdien haar eie.

En daarom dink ek ’n blaas vir ’n brood is die minste wat ons kan opoffer.

wpretori@media24.com
Somerset-Wes
27 Julie 2010

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive