Gregorius van Nissa het sy werk “Die lewe van Moses” oor die mens se geestelike reis geskryf. Hy interpreteer Moses se lewe as ‘n model of patroon vir ‘n mens se lewe.
Die verhaal van Gregorius oor Moses laat my dink aan die ryk jongman wat vir Jesus gevra het hoe om volmaak te wees en Jesus se poging om hom tot volmaaktheid te bring. Dit laat 'n mens dink oor wat volmaaktheid is.
Vir Gregorius van Nyssa was volmaaktheid nie om in alles perfek en sondeloos te wees nie. Vir hom gaan volmaaktheid om steeds weer dieper en dieper te groei in goeie dade en in goed wees. En as ‘n mens wil verstaan wat beteken die volmaakte lewe, is Moses ‘n goeie illustrasie.
‘n Mens se geestelike reis bestaan uit ‘n gepaste lewensstyl en ‘n ware geloof. As ‘n mens daarna streef, verwerf jy die lewe van ware goedheid. Deur selfbeheersing en deur ‘n sober lewe te kombineer met ‘n verdiepende spiritualiteit word ‘n mens gereinig van alles wat ‘n goeie lewe in die pad staan. En ‘n mens groei in jou spiritualiteit wanneer jy soek om God beter te verstaan. Jou lewe en jou aanbidding van God word deur hierdie reiniging gevorm.
Maar, en hiermee maak Gregorius van Nyssa sy eintlike punt, ons geestelike reis het ‘n bepaalde patroon: aan die begin sien ons die lig. Ons verstaan en begryp. Die donker van onkunde en kwaad word verdryf. Maar mettertyd begin ons al hoe meer verstaan dat God onsigbaar en ontoeganklik is. God is ook ver bo ons verstand verhewe. Ons besef dat ons nie regtig sien nie. En dan word ons bewus van hoe belangrik sekere bybelgedeeltes soos Eksodus 33:20 is:
Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.
Moses, skryf Gregorius, word self op ‘n spesiale manier getransformeer. God raak hom aan, sodat hy ‘n sluier moet dra dat niemand na hom kyk nie, vertel Eksodus 34:29-35:
En toe Moses van die berg Sinai afdaal — die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal — het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie. En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom. Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek. En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here met hom gespreek het op die berg Sinai. Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek.Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.
En tog, Moses kan nie vir God sien nie, al is hy so naby aan God! Selfs al praat hy met God soos wat vriende met mekaar praat, soos Exodus 33:11 vertel:
Dan spreek die Here met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man wat met sy vriend spreek.
Maar tog kan Moses nie vir God sien nie. Volgens Exodus 33:23-24 sê God vir hom:
En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.
Moses leer hoe ‘n mens God kan sien: deur God te volg waar God ‘n mens ook al lei, deur God van agter te sien en deur nie af te dwaal nie.
Elke keer, skryf Gregorius, as God met Moses praat, gaan Moses in ‘n wolkkolom in (Ex.33:9). Vir Gregorius beteken dit dat ‘n mens wat nader en nader aan God kom, in die onbekende en onverstaanbare ingaan. Wat ons werklik sien en weet, bestaan juis uit dit wat ons nie kan sien nie. Ons is op pad na ‘n eindpunt wat in donkerte gehul is.
Met al hierdie opmerkings belig Gregorius van Nyssa ‘n fundamentele aspek van ons geloof. God is ander kant alles wat ons kan begryp. Ons kan God nie in ons woorde en in ons taal vaspen nie. Ons sien, soos Paulus dit uitdruk, in ‘n spieel. Ons staar in ‘n raaisel. Ons sien nog nie van aangesig tot aangesig nie (1 Kor. 13). Of soos Johannes dit stel: niemand het God gesien nie.
Ons wat in ‘n tasbare wêreld leef, wat gewoond is aan wat ons sien en hoor en tas, het in ons geloofsreis te doen met die onsigbare, die ontasbare. Ons geestelike reis is die voortbeweeg van een rusplek na die volgende: net wanneer ons dink dat ons aangekom het, kom ons agter dat ons God nie kan peil nie en dat ons reis van God eindeloos nog voor ons uitgestrek lê. Elke keer weer, beklemtoon Gregorius, moet ons opnuut weer begin reis, moet ons weer ons roete verander, word ons nuut gebore in ons soeke na die goddelike. Dit is ons geestelike groei. Ons word al hoe meer in die gesindheid van God ingebore, soos Paulus dit stel. Om volmaak te wees, is dus om volmaak uitgelewer te wees in ons navolging van God. Volmaaktheid is om jou uit te strek, in die woorde van Filippense 3:13 na wat voor is. Ons beweeg van die een ontmoeting met God tot die volgende, elke keer weer opnuut bewus van hoe oneindig groot en hoe veelvuldig meer God is as wat ons ooit kan droom of dink. Dit is ‘n wonderlike belonende reis – soos ons al hoe dieper in die skoonheid van God inreis. Nooit sal ons tydens ons aardse reis kan sê dat ons God in alle volkomenheid gesien het nie.
Terwyl ek hierdie perspektief op Gregorius van Nyssa in Young se boek lees en sien hoe sy dit in haar Britse agnositiese konteks ter sake probeer maak, wonder ek oor hoe dit vir my waarde kry.
In ‘n konteks waarin ons God vereenselwig met Iemand wat vir ons met die goeie dinge beloon, waarin ons geloof vereenselwig met bedingingsvermoë en waarin ons godsdiens ‘n voorspoedskarakter het, is dit nogal ‘n gedaanteverwisseling wat ‘n mens moet ondergaan om reg te laat geskied aan hierdie diepsinnige aspekte van Bybelse denke oor God, die Onpeilbare.
Terwyl ons ons klein eilandjies van geluk wil beleef, is die groter skoonheid en die dieper vervulling te soek in ons reis met die ewige en onpeilbare en ondeurgrondelike God. Ons harte kom immers nie tot rus as ons al ons banksake so netjies in orde het en ons veilige huise bewoon nie. Daarvan is ons samelewing vrot van voorbeelde.
Ons harte kom tot rus in die God van alle ewigheid wat ons in ewige Vaderhande vashou, ver bo al ons insig en verstand om.
Ons is volmaak in ons soektog na wat werklik goed en vervullend is, na die eintlike skoonheid.
En dit alles bring my weer uit by die verhaal van die ryk jongman. Om volmaak te wees is, vir Jesus, om alle aardse norme en waardes te transender. Verkoop alles. Relativeer die hele klomp aardse ankers. Kyk verby dit. Volg Jesus, die rondwandelende prediker wat nie 'n plekkie het om sy kop neer te lê nie. Volg Jesus, die een wat in die duisternis gehang het en tog na God geroep het. Om God te kan sien in die kruis, om God se opstanding te kan ervaar - dit is wonderskoon.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.