Wednesday, July 07, 2010

'n Kerk wat aanbid... Bybelstudie oor Openbaring (4).

Johannes, aan die sewe kerke in Asië....
Openbaring 1:4


Johannes "skryf" sy boek aan sewe kerke in die Romeinse provinsie van Asië - 'n belangrike en bekende deel van die Romeinse Ryk.

Sy boek gaan “gelees” word en dit gaan beluister word - duidelik en uitdruklik wanneer hierdie kerke vir hulle byeenkomste bymekaar is.

Johannes dink nie klein nie. Hy skryf vir kerke. Sewe kerke.

Sewe kerke wie se name een vir een aan ons genoem word: “Efese, Smirna, Pergamum, Tiatire, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”

Sommige van hierdie stede verwag ‘n mens op ‘n lys van kerke in die gebied omdat hulle so bekend was. Efese was byvoorbeeld een van die bekendste stede in die antieke tyd, met die tempel van Artemis as een van die sewe wonders van die wêreld. Pergamum was ook een van die magtigste stede met die groot altaar van Zeus en die biblioteek as twee van sy pronkstukke. Ander weer was maar relatief onbekend. Dan weer was daar ander bekende stede wat nie in hierdie lys opgeneem is nie. Ons weet nie hoekom nie.

Bekend en onbekend. Groot en klein. Magtig en sonder aansien. Die hoës en die laes. Almal word vertel van God se verborge dinge. Niemand word uitgesluit nie. Die belangrikes mag hoor en die ongerekendes is sekerlik nie uitgesluit nie.

Paulus noem hulle “kerke.” Die wat aan God behoort, dra ‘n naam. Hulle is meer as net ‘n sosiale groep. In ander dele van die boek sal hulle ook byvoorbeeld “heiliges” genoem word. Hulle het ‘n eie identiteit en ‘n eie karakter. Hulle is nou wel nie so hoog soos die Romeinse keiser of soos die politieke leiers in die provinsie nie. Maar hulle is hoog op God se ranglys. God reik juis uit na mense wat saamkom om die Woord van God te lees, te hoor en in hul lewens ernstig op te neem en uit te leef. God se Woord hoort tuis in ‘n plek van aanbidding waar gelowiges as kerk bymekaar is en saam met mekaar hulle getuienis uitleef.

Johannes sal later verduidelik wat in elke kerk aan die gang was en waarom hy vir elkeen van hulle ‘n brief skryf. Maar hier wil hy beklemtoon dat sy boek, die profesie, aan die sewe kerke saam gestuur word. Dit is ook nie sommer net toevallig dat daar “sewe” boeke is nie. Sewe, sien ons dikwels in Openbaring, is ‘n belangrike simboliese getal. Daar is sewe lampe (Open.4:5), sewe seëls (Open.5:1), sewe trompette (Open.8:2) en nog vele ander. Sewe is die getal vir ‘n eenheid en veral vir volmaaktheid. Johannes skryf aan die sewe kerke as ‘n groep, as ‘n eenheid, as ‘n sewe-tal. Hy praat met die kerke afsonderlik maar ook as kerke wat saam die volmaakte nuwe volk van God sal uitmaak. Die kerk is oor die aarde versprei, maar die kerk is terselfdertyd ook één. Die kerk het die boek daarom later as deel van die Bybel opgeneem omdat die kerk geredeneer het dat dit ook tot die kerk van latere tye spreek.

God werk nie sommer net losweg en van mens tot mens nie. God raak wel elke mensehart individueel aan en verander mense se persoonlike lewens radikaal. Maar in die proses raak God die hele mensdom aan as groep. God wil nie maar net die private “eiendom” van hoog-heilige mense wees nie. Dit moet juis anders om verstaan word: God deel die belangrikste sake met mense wat God lief het, gehoorsaam en volg. Mense word dan God se eiendom. Die mense saam, die mensdom, word God se kinders en deel van God se familie. Hulle deel ‘n band met mekaar.

Wanneer God mense se harte aanraak, maak hulle hul harte vir God oop. Maar terselfdertyd maak hul hul harte vir God se kinders, vir God se kerk oop. En die kerk moet dan in hierdie wêreld leef as die suurdeeg. Die kerk word God se ewebeeld, die liggaam van Christus wat ‘n verskil in die wêreld maak.

Spiritualiteit is nie bloot maar net ‘n private saak wat ons hart verander nie. Dit het te doen met ons lidmaatskap van die kerk en ons getuienis in die wêreld. Beroemd of ongerekend, hoog of laag, ryk of arm, slim of minder begaafd – God snoer mense saam in ‘n volmaakte eenheid wat ‘n verskil in die wêreld maak.

Johannes skryf sy Openbaring aan sewe kerke wat hy op een of ander manier uitkies om eenvoudig te sê: lesers van my profesie, van my boek, is deel van God se familie wat saam deur God bemin, vertroos en geïnspireer word. Hulle kom bymekaar in die erediens, in die kerk, in aanbidding waar hulle God se Woord beluister. God maak hierdie feilbare mense volmaak een en stuur hulle om ‘n volmaakte getuienis te lewer.

Die kerk mag dalk vir baie om ons nie belangrik wees nie. Trouens, soms lyk dit vir my of die kerk selfs deur kerkmense gering geag word. Johannes laat geen twyfel nie: solank as wat die kerk in aanbidding naby aan God en God se Woord bly, sal God aan die kerk die dieper, verborge, troostende en lewegewende lewe skenk. God praat – met die Kerk.

Waarom voel dit vir my asof die hermeneutiese sleutel tot die gedeelte te vind is in die :"solank as wat die kerk in aanbidding naby aan God en God se Woord bly"?

Gelukkig, dan, die kerk(e) wat die Woord van God, die profesie, luister, lees en in die hart opneem...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive