Thursday, July 29, 2010

'n Werkswinkel

Ek ontdek vandag hierdie boeiende uitbeelding van die Barmhartige Samaritaan deur Holder.




Op 9 September 2010, net na die kontak-sessie met die huidge M-studente in Bybelse Spiritualiteit (5-8 September 2010 in Menuah), van 8h30 tot 13h00 sal ons in Bloemfontein ‘n werkswinkel aanbied oor Bybelse Spiritualiteit. Dit sal by die Universiteit in Bloemfontein plaasvind.

Prof. Huub Welzen, verbonde aan die Titus Bransma Instituut in Nijmegen, kom in daardie tyd uit Nederland om te help met die dosering van die M-kursus. (Die vorige keer het Sandra Schneiders uit die V.S.A. in die module gehelp doseer).

Huub is die Nuwe-Testamentiese spesialis van die Instituut en het nou al verskeie jare lank oor Bybelse Spiritualiteit gepubliseer. Hy het ook ‘n ryk ervaring van groepwerk waarin hy ‘n model van Bybelse spiritualiteit ontwikkel het. Dit is veral hierdie praktiese ervaring wat vir my belangrik is. ‘n Mens kan allerhande groot teoretiese insigte hê, maar uiteindelik is die toets vir enige model hoe dit in die praktyk werk.

Dit sal Huub se eerste besoek en optrede in Suid-Afrika wees.

Ek en Huub het hierdie week koppe bymekaar gesit oor die kursus. Dit sal ‘n werkswinkel wees waarin deelnemers aktief met ‘n Bybelse teks gaan werk. Ons wil neus vryf op die teks self en ons wil spesifiek die vaardigheid in die model bevorder. Mense wat hierdie werkswinkel bywoon, moet daarna al op hul eie tekste deur die model kan begin lees. Ons gaan direk met die Bybelse teks werk en dan op ‘n manier waar kennis nie op die deelnemers afgelaai word nie, maar in ‘n gemeenskaplike poging gegenereer gaan word. Huub vertel juis vir my hoe verbaas hy is om te sien hoe ver ‘n groep kan vorder deur eenvoudig met die teks te werk.

Daar sal darem beslis ook eers ‘n teoretiese blootstelling wees om ook nuwelinge in die veld in te lei. Ons wil daarom eers ‘n kort inleiding oor Bybelse Spiritualiteit gee en dan die model self verduidelik. Hy sal as Nuwe-Testamentikus en uit sy ervaring oor jare heen praat oor die model wat nou al goed gevestig is en wat grondiglik in hul groepe (Rondom die Bybel) getoets is.

Ek geniet dit om te sien hoe hy as deurwinterde Nuwe-Testamentikus Waaijman se algemene model in terme van die Nuwe Testament ontwikkel het. Ek en hy stem saam dat die sesledige model ‘n nuttige instrument kan word om spiritualiteitsperspektiewe in ‘n teks te herken en te ontsluit. Maar ons weet ook dat daar nog baie werk is om aan die model te skaaf. Ons voel dat daar in die model makliker kante is, wat toeganklik is en wat goed gebruik kan word. Maar dan is daar ook dele van die model wat besonder uitdagend is. Dit is veral deur die praktyk dat ‘n mens in die moeiliker dele geslyp sal word. Ons sal daarom ook sterk op hierdie kante konsentreer.

Ons gaan op die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan in Lukas 10 konsentreer. Ons sit daarom met my besoek aan hom die oggend en uitpluis aan die Barmhartige Samaritaan. Ek verbaas my telkens oor die rykdom wat daar bloot uit ons bespreking al uit die teks kom.

Toe ek vanoggend vir Huub gaan groet voor ons naderende vertrek, sit en beplan hy al ver aan die materiaal van die werkswinkel. Hy het ‘n klomp vertalings, ‘n paar skilderye en ‘n goeie program al byna klaar. Ons is albei opgewonde oor die vooruitsig van die werkswinkel. Ek is geïnspireer, meer as ooit, dat ‘n geestelike lees van die Bybel vir ‘n mens soveel nuwe kante van die teks kan ontsluit.

En dan dink ons ons kan nie meer baie nuwe dinge in die Bybelwetenskappe doen nie. Die fontein loop sterk en die waters is helder en fris....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive