Saturday, July 10, 2010

Sokker en die lewe

Sommige mense vind sokker hoogs vervelig.

Sokker is inderdaad eenvoudig: ‘n klomp mense skop ‘n bal heen en weer om dit tussen die doelpale in die net vas te kry.

En die beste is - hulle moet dit met die voet doen.

Wat kan meer eenvoudig wees? Dit is so eenvoudig soos die geestelike reis: ‘n mens is eenvoudigweg op pad na God.

Maar as jy dit van naderby bekyk, lyk sake nogal anders:

Eerstens is daar ‘n formasie wat deel is van die plan met die spel: is dit ‘n aanvallende of ‘n verdedigende wedstryd? Die meer algemene 4-4-2, die meer defensiewe 4-5-1 (waarvoor Mourinho by Chelsea bekend is), die meer aanvallende 4-3-3, die diamant formasie van 4-3-1-2 wat in die geval van die Brasiliaan Kaka suksesvol was en dan die defensiewe 4-3-2 formasie? Net om al uit te werk wat op die veld in terme van strategie aan die gang is, is al ‘n ondervinding.

Maar dan is daar die individuele uitblinker. Messi, of Kaka, of Sneijder, of Suarez – die spelers wat ‘n wedstryd kan wen. Hulle hanteer die bal of hulle daarmee gebore is, hou besit, skep geleenthede, speel met ritme, hardloop hulle asem uit, skop akkuraat, speel takties, tackle vreesloos, lees die spel perfek. Dis al ‘n vreugde om te kan sien hoe die meesters die spel versier en stuur.

En dan is daar die goue oomblikke: wanneer ‘n speler met ‘n kopskoot ‘n doel skiet, of met netjiese bewegings ‘n paar teenstanders ontduik, of van nêrens te voorskyn kom om ‘n doel te skiet. Dit is die oomblikke wat jy van alles vergeet en opspring in jou stoel of lekker skree van plesier.

Of die absolute legendes van die spel: Johan Cruijf, Pele, Maradonna. Of die goeie afrigter wat ‘n span kan inspireer. Die goue gedagtes in ‘n mens se geheue – en die raamwerk waarbinne die nuwe sterre gemeet en bespreek word.

En daar is die binne-gevegte of die vuil spel. Dit is nou wanneer jy die teenstander se knie of maermerrie raakskop. ‘n Mens moet net kyk wat Robben van die Nederlandse span alles moes verduur om te besef hoe taai en selfs vuil sokker kan wees. Sokker is nie vir die sissies nie. Dis hard. ‘n Man baklei om te kry.

En moenie vergeet van die skeidsregter wat vir niks ‘n rooi kaart uitpluk nie, of die speler wat selfsugtig die bal mis skop eerder as om aan te gee na sy spanmaat.

En die voorvalle wanneer ‘n mens die doel deur jou eie pale skop of laat glip. Of wanneer die spelers die skare beledig, of die skare hul eie span uitjou.

Daar is die onbekende faktore: die geestestoestand van jou mede spanspelers, van jou teenstanders, die elemente soos die wind, die toestand van die speelveld, die bal, die waansin van die toeskouers.

Daar is, skryf iemand, so baie onbekende faktore in sokker dat dit al met die heelal vergelyk het: ‘n mens het te doen met ‘n verborge, onvoorspelbare situasie.

Sokker het vele gesigte, baie oomblikke, die hoogtepunte wat ‘n skare soos een man kan laat opspring of die laagtepunte wat mense vir dae lank sad kan maak.

Na een van die wêreldbeker-wedstryde loop ‘n pa en ‘n seuntjie van so ses jaar huis toe. Die kamera vang die pa se afgehaalde gesig en die seuntjie wat met oë vol trane teen sy skouer leun. Sê die kommentator: die seuntjie het vir die eerste keer in sy lewe agtergekom dat sokker ‘n mens se hart ook kan breek. Hy leer, vroeg-vroeg, dat die lewe maar taai kan wees.

Sokker, soos enige sport, kan ‘n mens ryke lewenservaring gee. Dit is ‘n spel wat hoogs kompleks is, al lyk dit asof ‘n mens eintlik maar net ‘n bal deur die pale wil skop.

Deel van hierdie kompleksiteit is die geestelike waarde wat sokker kan hê: vir ‘n kind kan dit waardevolle lesse leer. As deel van ‘n sokkerspan, speel ‘n mens die spel vir mekaar. Dit gaan nie om jou eie prestasies nie, of jou eie roem nie. Dit vat nogal van ‘n mens om eerder die bal aan te gee na jou spanmaat om die doel te skop. Dit is ook ‘n plek waar ‘n mens ten nouste saam met ander mense lewe: hier leer jy nie net jou maats se sportvaardighede ken nie, maar jy weet ook van hul liefdes en hul teleurstellings, hul drome en hul mislukkings. Jy ken die een wat die roem kan hanteer, wat nee kan sê vir omkoop, wat getrou kan bly aan ‘n lewensmaat, wat sober en liefdevol teenoor ander is. In ‘n sokkerspan ervaar ‘n mens, soos in alle spansporte, die band van vrienskap en mede-stryders soos op min ander plekke. Hier leer ‘n mens wat beteken dit om deel van ‘n span, deel van ‘n gemeenskap te wees.

Sokker bring ‘n mens in aanraking met sulke wonderlike waardes soos respek. Selfs as jy ‘n wedstryd verloor en jy het nie tyd vir jou teenstanders nie, skud jy nog hoflik hand na die tyd. En jy leer ken durf en moed: as dinge teen jou draai, bly jy stry. Die Nederlanders wat agtergeloop het in die eerste helfte van die kwarteindstryd het met moed vasgebyt om in die tweede helfte terug te veg en te wen.

En dan is daar die groot wedstryd tussen wat jy wil doen en wat deur die spel op jou pad gebring word. ‘n Mens kan wonderlike drome hê om te wen, jy kan onder die beste spelers in die wêreld wees, maar as jy op die veld is, is jy aan die speel teen baie onbekende faktore. Jy kan nie voorspel wat gaan gebeur nie. Jy moet bloot maar met wysheid doen wat jou hand vind om te doen.

En dan kom daar die een, transendente oomblik – die enkele keer dat daardie bal deur die pale gaan. En jy iets koesters wat jou baie lank, soms jou hele lewe lank bybly.


Vreugde kom op baie maniere tot ons.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive