Friday, July 23, 2010

Om deur God geseën te word.

Abraham, skryf Levinas, het besef hoe radikaal sy roeping was om God te volg en om sy eie land prys te gee. Om ‘n seën te wees vir al die nageslagte, moes hy ten volle gehoorsaam aan God word. Hy moet die Here volledig vertrou vir sy toekoms.

Abraham word daarmee die ewige reisiger wat steeds weg beweeg uit die verlede en steeds nader na God reis. Hy volg God waar God hom ook al roep. En niks uit sy verlede en in sy hede bind hom in hierdie reis nie. Niks van sy ou vertroude bestaan hou hom terug van hierdie reis agter God aan nie.

Hy, die reisiger, is wagtende en verlangende na God se belofte op seen en sit daarvoor alles in en plaas alles op die spel.

Hy weet te goed dit gaan nie maar net om homself nie. In gehoorsaamheid aan God neem Abraham ook die mense naby aan hom in ag. Sy verhouding met God bepaal sy verhouding met mense. Ander is ook betrokke by wat God van hom vra: Selfs sy kinders hoef op geen manier terug te hunker na hul ou land, na al die sekerhede en skoonhede van die verlede nie.

Daarom verbied Abraham sy dienskneg om selfs sy seun terug te neem na die land wat hulle verlaat het:

Toe sê Abraham vir hom: "Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie.7 Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’” (Gen.24:6).

Kyk maar waarom gaan dit: Abraham word die hoop van die mensdom, vir sy eie mense, maar ook ver buite sy nabye familie om. Sy gehoorsaamheid aan God bepaal seën vir al sy nakomelinge op aarde. Hy dra die verantwoordelikheid vir baie. God kom tot hom en vra van hom om sy lewe vir die mensdom oor te gee.

Hy ontdek sy integriteit as mens in sy roeping. Hy is uiteindelik by uitstek iemand wat bestaan op grond van wat God in hom aan die mensdom beloof. Hy is mens deurdat hy geroep word om ‘n seën te word vir alle families op aarde. Sou hy faal, is die mensdom daarmee heen.

Die voorwaarde is duidelik: Abraham moet homself verloor. Hy moet ontslae raak van alles in die verlede wat hom kan bind. Hy moet die bande met die bekende, die vertroude, losmaak. Hy mag nie ‘n gevangene van die verlede word nie. Nie enige woorde, beelde, besittings, gedagtes mag dit vir hom moeilik maak om na die beloofde land as God se belofte aan hom te reis nie. Wil hy mens wees, die seën vir die nasies, moet tradisies en dinge wat verby is nie meer ‘n houvas op hom hê nie.

As Abraham faal, as hy sy eie belang soek, verloor hy sy menslikheid. As Abraham ontrou word aan God se roeping, is hy sy integriteit kwyt. Alles is op die spel as dit kom by sy getrouheid aan wat God van hom vra. God vra alles. Abraham glo in God en gee alles.

Abraham se vryheid word dus ingeperk deur sy verhouding met God en deur sy verhouding met ander.

Dit is die uitsluitlike plek van geloof in ons geestelike reis wat ons aanpor om alle vooroordele, alle ou hegtinge, alle waardes uit die verlede, al die groot dinge waarvoor ons geleef het, op te gee.

Ons volg God omdat ons glo God bring ons in die oase van oneindige gemeenskap en bande met ander. In God ontvang ons die ryke erfenis wat die hele aarde omsluit. Ons ontdek ons menslikheid wanneer ons absoluut trou aan God bly. Wanneer ons agter Abraham die geestelike avontuur aanpak, dink ons nie aan onsself nie. As God ons aanraak, word ons tot die wêreld en die nasies getransformeer.

Die dag as God in ‘n mens se lewe inkom, word alle verhoudinge waaraan ‘n mens so geheg is, op sy kop gekeer. Tot ons seën...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive