Sekerlik, ja. Wanneer ons ons koppe vir altyd neerlê en afskeid neem van ons tydelike bestaan. Dan sal ons nie meer in ‘n spieël soos ‘n raaisel sien nie. Maar van aangesig tot aangesig.
Maar tot op daardie dag sal ons soektog na God bly voortduur. Ons kom nooit "tuis" tydens ons aardse bestaan nie.
Gregorius van Nissa bedink Filippense 3:13:
Ek strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry.
Gregorius skryf in die verband oor Moses wat die berg bestyg het en nooit die spits bereik nie. Elke fase van heerlikheid is deur ‘n volgende een oortref. Sodra hy ‘n plek van skoonheid bereik, sien hy op die gesigseinder nuwe skoonheid. Na die een spits, is daar ‘n volgende spits.
Hoe spesiaal die ervaring van goddelike skoonheid ook al was, glo ‘n mens dat dit minder was as waarop ons gehoop het. Hoewel die genade groter was as wat ons voorheen ontvang het, kan dit nie op enige manier ons uiteindelik strewe inperk nie.
Ons reis met en na God kom nooit tot ‘n einde nie. Ons kan nie ‘n perk op ons geestelike groei plaas nie.
Hiervoor is daar veral twee redes:
Eerstens kan ‘n mens geen perk op skoonheid plaas nie. Dit is iets wat eindeloos, oneindig is. Skoonheid bly ‘n mens betower en neem jou steeds weer en weer in beslag.
En, tweedens, die groei in ons verlange na skoonheid kan nie deur enige gevoel van tevredenheid gestop word nie. Hoe meer ons skoonheid sien, ervaar en bewonder, hoe meer begeer ons dit. God is so oneindig dat ons nooit vir God sal ken nie. En hoe meer ons van God ervaar, hoe meer begeer ons om by God te wees.
Ons geestelike reis is nimmereindigend.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.