Jan en Chirene neem ons vandag na Kevelaer, 'n bedevaartsoord in Duitsland, oor die grens. Die stadjie maak sy bestaan uit pelgrims. Die winkeltjies om die kerk-kompleks verkoop feitlik uitsluitlik kruise, kerse, rosekranse en ander godsdienstige artikels.
Soos dit gaan is die kerk oorweldigend. Elke keer weer staan ek en wonder oor die oneindige rykdom wat vir 'n mens uitgestal word. Die kerk is stampvol en 'n hele troep priesters lei die mis. Ons staan vir 'n paar minute agter in die kerk en luister na die pragtige orrelmusiek.
Maar voor ek by my eintlike storie uitkom, 'n paar indrukke:
Hier is die binnekant van die kerk:
En hier is 'n paar van my foto's:
Die dak en die orrel van die kerk:
Die tabernakel in die liturgiese ruimte. Pure goud...
Die biegkapel met sy pragtige ysterdeur (die bieghokkies staan rye langs die muur af). In die ruimte word nog aktief (deur al die pelgrims) gebieg:
Een van die baie stukke in die biegkapel:
Die binnekant van die kerse-kapel:
In die kerse-kapel het een van die kers die gees gegee....
Maar hier is die eintlike punt van my storie. Aan die sykant van die kerk kom ek op hierdie deur, gemaak in onlangse tye, af. Ek staan nader om dit te bekyk. Dit beeld die lyding van die martelare deur die eeue heen uit. Daar is onder die rye van martelare die slagoffers van die Nazi's en die kommuniste.
Dit is 'n aangrypende gesig. Ek kan nie daarvan wegkom nie.
Kyk mooi na hierdie deur. Op die grond, aan die linkerkant, los van die deur staan daar 'n klein voorwerp.
As jy nadergaan, sien jy dit is 'n boek. En die boek is Thomas a Kempis se Navolging van Christus!
Martelaarskap, besef ek, is dit wat hierdie aparte, minuskule monumentjie aan die deur anker. En martelaarskap is navolging, gehoorsaamheid aan Christus.
Die ander een monumentjie, regs, was Thomas Moore se Utopia!.
Hier is 'n twee foto's van die martelare (aan die bokant van die deur):
En hierdie gekruisigdes....
En dan hierdie groepsbeeld van die Nazi slagoffers (kyk die hakekruis):
Maar dit is nie die einde van die storie nie. In die middel van die deur vang die groot uitbeelding van hierdie groep op die linker deur 'n mens se aandag. Maar kyk mooi na die persoon tweede van links se hand. Hy lyk nogal bekend.... Hy hou 'n boekie vas:
En as jy nader gaan en kyk, mooi kyk en weer kyk, sien jy met verwondering: Hier hou hy die Imitatio vas. Titel en outeur netjies daarop uitgebeeld (maar net te sien vir hulle wat kyk, kyk en kyk).
Die Imitatio dra nie net die deur nie, maar vul dit dus ook met inhoud. Die boek, die tema en die motief omring die man met die uiterste lyding op sy gesig, uitgebeeld in die middel van die groep.
Hier is 'n groter beeld van die groep om die man. Die omringendes hou hom orent:
Hy is 'n sterk figuur, wat sy lyding soveel te meer na vore laat kom. Kyk die staf in sy hand waaraan hy net-net bly vashou. Die geestelike reisiger. Die een met Thomas a Kempis as mistagoog aan die sy. Die navolging wat soms 'n mens se kniee onder jou laat swik.
Sy lyding spoel oor op die mense om hom. Die skare van heiliges vorm die ruimte vir almal wat die pad van navolging loop. Hy bly orent, met hulle (twee vroue...) arms om hom. Sonder mekaar, kan dit nie.
Hulle is vol mede-lye, hulle gesigte deurtrek met mistieke lyding:
Spreek sy gesig van lyding, is dit nog nie die einde van die verhaal nie. Dan, amper 'n subtiele fokuspunt, sy linkerhand wat slap lang sy sy hang. Vol kruiswonde. Tien keer meer as sy Meester s'n. Stigmata. Julle sal groter dinge doen as ek... (wanneer julle die kruisweg loop)...
Dit was ook nog nie die einde van die storie nie. Hier is nog 'n groepsbeeld op die regterkantse deur:
Hier is nog 'n foto van die groep:
Die figuur aan die regterhand, hou ook 'n boek in die linkarhand vas - en dit is 'n kopie van Jan van die Kruis se Donker nag van die siel!
Deur die eeue heen het die mistagoog, die spiritualiteitskrywer, 'n pad geloop wat hulle kon deel en wat ander in God se teenwoordigheid gebring het.
Ek kan die deur nie vergeet nie. Dit bly in my draal.
Tuis, nog steeds vol herinneringe, wil ek meer weet. Ek soek vergeefs orals na inligting oor hierdie deur.
In so 'n katedraal met soveel skatte en goud en blink, is die deur seker maar 'n vaal mineur-toon, dan?
Soos dit seker maar gaan wanneer 'n mens met mag te doen kry? En alles blink en mooi moet wees om indruk te maak?
Lyding kan mos so outyds wees.... Deesdae ry ons mos die golf van geluk, voorspoed, sukses, blinkheid met 'n kerk en teologie wat die kollig in die publieke sfeer moet steel?
En in die tyd dat ek voor die deur gestaan het, was daar niemand wat nadergestaan het om te kyk nie. Die strome mense was in en om die kerk.
Soms is skoonheid so naby aan ons, maar ons kyk dit heeltemal mis. In die swakheid, het Paulus, ons probeer leer, sal ons eerder die mag vind.
Spiritualiteit is oral in die lug, besef ek uiteindelik. Kunstenaars is ons dikwels voor. Hulle verstaan... Juis dalk omdat hulle swaar skep, delf om die verborgene uit te beeld. Hulle weet uit dure ondervinding, dink ek, terwyl ek wonder oor die man wat aan hierdie mistieke werk gekonseptualiseer en gebeitel het.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.