Rumi, skryf Shea (Gospel Light), het ‘n gedig geskryf met die titel “Storie-Water” waarin hy ‘n verhaal of ‘n storie met water vergelyk.
Badwater, skryf hy in die dertiende eeu, word deur vuur verhit. Die warm water dra nou ‘n boodskap van die vuur na die liggaam. Deur die water ontmoet die vuur en die vel.
Rumi pas dit toe deur te sê dat min mense die hitte van die vuur van God te naby kan verdra. Mense het bemiddelaars nodig. En stories bemiddel tussen die vuur en mense. Stories steek vuur in ons lewens aan wat ons op ons eie nie kan ervaar nie.
Wanneer ons oor God praat, is ons verhale daarop gerig om die goddelike warmte en uitstraling uit te druk, om die vuur van God se teenwoordigheid in ons bestaan in woorde vas te vang. Verhale van God is nie sommer net storietjies, legendes, mite’s of allerhande gesellige sê-dinge nie.
Ons moet verhale van God dus fyn en noukeurig beluister. Hulle bring ons naby vuurkrag.
As ons goed hoor, sal ons vreugde put omdat ons gereinig en gewas word deur ‘n verborgenheid wat so groot is dat dit vir ons bemiddel moet word.
Maar soms kan die verborgenheid dan weer so ver van ons af raak. Hoeveel gedagtes kom by my na vore toe ek dit lees: Die verhale in die bybel is bedoel om die warmte van die goddelike aanraking, die werking van die Gees te kommunikeer. Dit was ons, reinig ons, maak ons ontvanklik vir God se spreke. Hulle staan tussen God die Vuur, God die Gees en ons in ons beperktheid en ons afstande van God.
Om van verhale te leef, is dus ‘n proses. Verhale luister is deel van ‘n lewenslange reis met woorde oor God. Elke keer weer moet ons opnuut die verhale van die Bybel lees en herlees en beluister. Te gou verflou die nawerking van die goddelike aanraking. Te maklik rol ons weer rond in die modder van ons onreinheid. Keer op keer moet ons fyn luister.
Dit is asof verhale van God oor en oor wil bevestig dat ‘n mens nie aan hulle genoeg kan kry nie. Elke keer weer ontdek ons hoe ryk hierdie verhale is. Soveel indrukke van God word by ons wakker gemaak. Ons kan die rykdom van ‘n verhaal nooit uitput nie. Verhale oorweldig ons oor die genade.
Meer nog: in hierdie beeld van die verhaal tussen die goddelike vuur en die menslike gees, herken ek ook iets van ons menslike onvermoë om God te peil. Ons sien nie van aangesig tot aangesig nie. Ons kan nie maar net instap in God se teenwoordigheid nie. Of bloot net tot God nader nie. God is so volledig anders, bo ons begrip. Ons het menslike taal. Net menslike woorde. Alleen maar verhale oor God.
Met taal en met verhale probeer ons iets van God kommunikeer. Menslike woorde staan tussen ons en God om ons ‘n ervaring te gee van wie God is. As daardie verhaal met ons kommunikeer, keer dit ons lewens om.
Elke verhaal wat ons oor God vertel, iewers teenoor ons kinders by ‘n oop Bybel, saam met ons vriende rondom ‘n geestelike gesprek, in ons getuienis oor God se werking in ons lewe, is ‘n poging om die goddelike warmte te kommunikeer. Wonder ek, nou: is dit soos ons dink?
Weet ons, as ons verhale oor God te vertel het, dat ons met vuur speel?
En, die groter verwondering: om te dink dat verhale oor God ons lewens so kan omkeer. Hoe dan as die groot tyd kom dat ons in God se teenwoordigheid van aangesig tot aangesig kan intree?
Paslik, vir my, terwyl ek hieroor nadink, hierdie sonsondergang oor Nijmegen vanaand. Vuur.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.